Verskeie klaers ve. Beeld en City Press

Bevinding deur die Persombudsman

17 November 2013

Hierdie bevinding is gebaseer op die skriftelike voorleggings van Helizna Killian, Mark Ikking, Adele Matthee, Bernadine Lombaard, Sass Kloppers, Chantelle Rohl, Miemie Fick, Elsa van Huyssteen, Dewald Scholtz, Colleen Louw, Thea Kluckow en Verlyn Troskie, en die redakteur van Beeld (Adriaan Basson).

KLAG

Bogenoemde persone kla oor ‘n ope brief van die redakteur van Beeld wat in daardie koerant op 30 Oktober 2013 onder die opskrif Adriaan Basson se ope brief aan Cemoné du Toit gepubliseer is. ‘n Vertaling van hierdie brief het ook op 3 November 2013 in City Press verskyn (Cemoné, I can only hope one day you understand).

Hulle kla gesamentlik dat die brief:

·         ‘n minderjarige identifiseer, met ‘n gepaardgaande foto, sonder haar of haar ouers se toestemming;

·         inbreuk maak op die privaatheid van die kind en haar ouers, en haar waardigheid skend;

·         nie in die openbare belang was nie; en

·         in swak smaak, onvanpas en onnodig was, en dat die trant daarvan sarkasties en egoïsties was.

Die somtotaal van bogenoemde kom daarop neer dat die ope brief die kind onnodige skade berokken het.

TEKS IN DISPUUT

Basson rig sy brief aan die dogter van ‘n leier van die Boeremag, mnr. Mike du Toit, wat pas gevonnis is ná ‘n hofsaak wat sowat ‘n dekade geduur het en waarin hy skuldig bevind is aan hoogverraad (hy het beplan om die regering met geweld omver te werp). Die brief is gerig aan Cemoné, twee dae voor haar elfde verjaardag. Basson skryf dat die kind deel is van die “born free”-generasie (gebore ná 1994) en is “veronderstel om vry te wees van die bagasie van die verlede”. Hy wy veral uit oor die apartheidsjare, en sê: “Ek wens dat jy waarlik vry kan lewe in hierdie hartseer land; vry van die boeie van die verlede en vry van die boeie van jou pa. Jy verdien om te weet wat régtig hier gebeur het. Veels geluk met jou verjaardag oormôre. Ek hoop jy luister na mooi liedjies op die iPod wat pa Mike vir jou gegee het.”

Saam met die brief is ‘n foto van Cemoné en haar pa in die hof (in sowel Beeld as in City Press). Laasgenoemde gee ‘n geskenk aan sy dogter voordat hy tronk toe geneem is.

ONTLEDING

Minderjarige sonder toestemming geïdentifiseer in teks, brief

Die koerante identifiseer Cemoné sowel in die teks as in ‘n prominente foto.

Die klag is dat die publikasies haar geïdentifiseer het sonder die nodige toestemming.

Art. 8 en 8.1 van die Perskode lui (in Engels – daar is geen amptelike vertaling in ‘n ander taal beskikbaar nie): “Section 28.2 of the Bill of Rights in the South African Constitution states: ‘A child’s best interests are of paramount importance in every matter concerning the child’. The press shall therefore exercise exceptional care and consideration when reporting about children under the age of 18. If there is any chance that coverage might cause harm of any kind to a child, he or she shall not be…photographed or identified unless a custodial parent or a similarly responsible adult consents, or a public interest is evident.”

Basson sê dat ‘n fotograaf van Beeld, Theana Breugem, Cemoné se ma (Esther) gevra het of sy ‘n foto van haar kind kon neem wanneer sy in die hof kontak met haar pa sou hê. Die ma het toe toestemming gegee en die foto is daarna gepubliseer met ‘n meegaande storie (op 29 Oktober). Hy voeg by dat die publikasie toe geen klag daaroor ontvang het nie.

Die redakteur argumenteer ook dat dit nie ongewoon of onwetting is vir die pers om foto’s van kinders te publiseer wanneer dit sterk nuus-waarde het of histories van aard is. Hy gebruik Hector Peterson en Nkosi Johnson as voorbeelde om sy punt te staaf; hy wys ook op internasionale voorbeelde (die bekende foto van ‘n kaal meisie as ‘n kragtige simbool teen die Viëtnam-oorlog, asook dié van die kind in die Soedan wat deur ‘n aasvoël bekruip is).

In hul reaksie op Basson se verweer sê sommige klaers dat, hoewel Cemoné se ma verlof gegee het dat die foto aanvanklik gepubliseer kan word, sy nie toestemming verleen het dat dit in ‘n ope brief gebruik kan word nie – die redakteur het ‘n hartroerende foto misbruik om die kind mee uit te buit.

Een skryf: “As Basson toegelaat word om ‘n ouer se toestemming vir sy eie doeleindes te misbruik, wat is volgende? Gaan ons toelaat dat elfjarige meisies ‘collateral damage’ word vir speletjies wat mense soos die redakteur wil speel?” (vry vertaal)

Ek begin by Basson se argument oor Peterson en Johnson. Om hulle as voorbeelde te gebruik sal nie deug nie, want hulle was reeds dood – ‘n mens kan nie ‘n dooie skade berokken nie. Die twee internasionale voorbeelde is ook nie van toepassing nie, omdat dit moeilik is om te sien hoe ‘n kind in Viëtnam en in die Soedan skade berokken kan word deur ‘n foto van hulle in Suid-Afrika te publiseer.

Ek is daarom effe bekommerd oor die redakteur se mening in hierdie verband. Sien my verduideliking hieronder van hoe belangrik dit is om kwesbare kinders te beskerm.

Een klaer het my versoek om by Cemoné se ma self uit te vind of sy toestemming gegee het vir die aanvanklike plasing van haar kind se foto. My kantoor het mev. Du Toit verskeie kere gebel en boodskappe gelaat, maar sonder enige sukses.

Ek het geen rede om te glo dat Beeld my op hierdie punt om die bos probeer lei nie, en aanvaar daarom dat die fotograaf wel toestemming gevra het. Dit is dus nie korrek om te sê, soos sommige klaers wel doen, dat die foto bloot van Facebook af geneem is nie.

Die vraag is nou of Beeld vir ‘n tweede keer toestemming moes kry om die foto te publiseer. Ek meen dat, as ‘n publikasie eers verlof gekry het, hy die foto daarna na goeddunke kan gebruik.

Die gebruik van die foto in City Press is effe anders, omdat daardie koerant nie self toestemming gekry het om dit te gebruik en om die kind te identifiseer nie.

Sommige klaers noem dit pertinent. Scholtz argumenteer byvoorbeeld dat City Press ‘n ander koerant in ‘n ander taal is en dat mev. Du Toit nie spesifiek daardie publikasie verlof gegee het om  dit ook te gebruik nie.

Weer eens, egter, meen ek dat die koerant nie gefouteer het nie – City Press is ‘n susterskoerant van Beeld, en as die gebruik van Cemoné se foto in laasgenoemde publikasie geregverdig was, is dit moeilik om te argumenteer dat eersgenoemde ook verlof moes gevra het. Dit is (natuurlik) ‘n ander saak as ‘n koerant van buite Media24 ook die foto sonder die nodige toestemming geplaas het. Die feit dat die twee koerante in verskillende tale verskyn, is irrelevant.

Omdat Beeld verlof gehad het om Cemoné per foto te identifiseer, volg dit vanself dat dit ook in die teks (in albei publikasies) geregverdig was.

Een klaer sê dat die koerant nie die kind se toestemming gehad het om haar te identifiseer nie. Die Perskode maak egter nie daarvoor voorsiening nie.

Inbreuk op privaatheid, waardigheid

Die klaers beweer dat die brief inbreuk gemaak het op die privaatheid van die kind en haar ouers, en haar waardigheid geskend het.

Die volgende artikels van die Perskode is hier ter sprake:

·         4.1: “The press shall exercise care and consideration in matters involving the private lives and concerns of individuals. The right to privacy may be overridden by a legitimate public interest”; en

·         4.2: “The press shall exercise care and consideration in matters involving dignity… The dignity…of an individual should be overridden only in the following circumstances:

o   4.2.2: “The article amounts to fair comment based on facts that are adequately referred to and that are true or substantially true”; en

o   4.2.4: “It was reasonable for the article to be published because it was prepared in accordance with acceptable principles of journalistic conduct and in the public interest.”

Basson ontken dat hy die kind se privaatheid geskend het omdat haar ma toestemming verleen het vir die neem van die foto. Wat die brief self betref, argumenteer hy dat dit duidelik kommentaar van sy kant af was, sonder om enige private feite oor Cemoné te openbaar.

Ek aanvaar hierdie standpunt en meen dat dit nie enige verdere argumentering benodig nie.

Die redakteur sê ook dat die brief nie Cemoné se waardigheid (kon) geskend het nie. “Ek is nie seker hoe die uitdrukking van ‘n eerlike mening oor politieke sake ‘n skending van iemand anders se waardigheid kan inhou nie”.  

Dit sal goed wees as Basson ook oor hierdie standpunt weer nadink. Kan ‘n koerant nie iemand se waardigheid skend bloot omdat hy ‘n eerlike mening gegee het nie?

Hoe dit ook al sy, ek meen nie dat hierdie deel van die klag bene het om op te staan nie – die redakteur het immers niks slegs van die kind self gesê nie.

Nie in openbare belang

Talle klaers ontken dat die ope brief in openbare belang was (een klaer verskil hiermee).

Die redakteur wys daarop dat ‘n ope brief ‘n erkende vorm van joernalistiek is – waar die teks aan ‘n spesifieke persooon gerig is, maar met die bedoeling om ‘n breër gehoor te bereik om ‘n punt van openbare belang te maak. (Merriam-Webster Dictionary definieer die term soos volg: “…a published letter of protest or appeal usually addressed to an individual but intended for the general public”).

Basson argumenteer dat die debat wel in die openbare belang was. Regter Eben Jordaan het pas die lede van die Boeremag gevonnis – en sy uitspraak oor hoe minderheidsgroepe hul demokratiese vryhede binne die beperkinge van die Grondwet kon beoefen, was toe aktueel.

Een klaer vra: Terwyl ‘n ope brief inderdaad normaalweg aan die een of ander openbare persoon geadresseer en terselfdertyd op die publiek gemik is, is die meeste lesers van die koerant elf jaar oud? En verder: Hoekom het hy nie eerder die brief aan die Boeremag gerig nie, of aan mnr. of mev. Du Toit?  Hierdie klaer antwoord self: Basson het bloot sy gesag oorskrei om sy eie politieke punt te maak.

‘n Ander wil weet of Basson toestemming gehad het van Cemoné se ma om die ope brief aan haar te rig.

Gegee die aktualiteit van die saak, is dit moeilik om te betwis dat die debat wel in die openbare belang was.

Of dit egter wys was om ‘n kind te gebruik om ‘n politieke boodskap by die publiek tuis te bring, is ‘n ander vraag. Ek kom pas hierop terug.

Trant: In swak smaak, onvanpas, onnodig, sarkasties

Sommige klaers sê dat die ope brief in swak smaak, onvanpas en onnodig was, en dat die trant daarvan sarkasties en egoïsties was.

In verdere korrespondensie sê een klaer dat die trant van die brief hom die meeste pla. Hy noem dit “love bombing”, waar die kind oorlaai word met toegeneendheid en welwillendheid – terwyl die “liefde” geveins en manipulered is, en die brief onder die dekmantel van ‘n politieke agenda geskryf is. Hy noem dit “manipulerenede psigologie”.

Hierdie deel van die klag is ‘n saak van debat – soveel mense, soveel menings.

Hoewel Basoon geregverdig was om die brief aan Cemoné te rig, het ek inderdaad my bedenkinge oor hoe wys en wenslik dit was.

Egter: Selfs al was die brief in swak smaak, onvanpas en onnodig, kan dit nie die Perskode om daardie rede oortree nie.

Van sarkasme vind ek geen sprake nie.

Onnodige skade

Soos reeds hierbo aangetoon, kom die klag (dat Basson ‘n minderjarige geïdentifiseer het sonder haar of haar ouers se toestemming, dat die brief inbreuk gemaak het op die privaatheid van die Cemoné en haar ouers en hul waardigheid geskend het, en dat die saak nie in die openbare belang was nie) daarop neer dat die brief haar onnodige skade berokken het.

Een persoon het sy klag só verwoord: “Ek glo eerlikwaar dat hierdie brief baie skade aan die jong kind kon veroorsaak het, veral in die lig van haar omstandighede. Basson word toegelaat om voort te gaan met sy politieke speletjie, terwyl sy in dié proses geskaad word.” (vry vertaal)

 

Basson antwoord dat hy pynlik bewus is van die pers se verantwoordelikheid om kinders te beskerm, veral dié wat in kwesbare situasies verkeer (soos deur Art. 8.1 van die Perskode vereis). “Toe ek die ope brief aan Cemoné geskryf en gepubliseer het, het ek hoegenaamd geen bedoeling gehad om haar skade te berokken nie.”

Hy verduidelik dat, toe hy die foto in Beeld gesien het, hy geraak was deur die menslikheid tussen pa en dogter. “Vir ‘n oomblik het ek vergeet dat hierdie mense in ‘n hofsaal was; dit was ‘n prentjie van ‘n liefdevolle vader en sy kind wat ‘n intieme en pragtige oomblik gedeel het. Dit is maklik om mense te stereotipeer en ons doen dit elke dag in die media deur mense monsters, moordenaars of diere te noem – maar ons vergeet dikwels dat hulle ook ouers, minnaars en mense is. Dít was die inspirasie agter my brief aan Cemoné.”

Die redakteur verduidelik verder dat sy motief vir die skryf van die brief was om aan te toon:

·         dat selfs die ergste kriminele steeds mense is met kinders vir wie hulle lief is;

·         dat die demokrasie nie noodwendig vryheid vir Cemoné gebring het nie (wat haar pa verloor het weens sy ondemokratiese optrede); en

·         hoe Afrikaner-ouers met hul kinders oor apartheid en die sonde van die verlede omgaan.

Hy voeg by: “Ek het buitengewone sorg aan die dag gelê deur ‘sagte’ taal te gebruik…en deur nie vir Cemoné te oordeel of te blameer vir die posisie waarin haar pa se dade haar geplaas het nie.”

Basson kom tot die gevolgtrekking dat Cemoné hoogstens verbaas en dalk ook effe verleë was oor sy brief aan haar. “Ek meen dat die ‘skade’ waarvan die Perskode praat méér vereis as slegs gevoelens van ongemak – bewyse van emosionele skade of gevolge is nodig om die Kode te verbreek. Daar is eenvoudig geen bewys van sodanige skade in hierdie saak nie; dit is ook nie voor-die-hand-liggend dat die brief noodwendig sulke gevolge sou hê nie…”

Sommige klaers reageer hierop soos volg:

·         Basson het ‘n jong kind in die kollig geplaas sonder om te weet watter invloed dit op haar sou hê (hy het immers self gesê dat hy slegs kon spekuleer oor die gevolge);

·         Natuurlik het die redakteur se stelling wat hy die wêreld ingestuur het, naamlik dat Cemoné se pa (haar held) ‘n krimineel is en verkeerd opgetree het, haar verneder en skade berokken – die moontlikheid is boonop reëel dat haar maats haar pa in daardie lig sal sien, en haar dienooreenkomstig sal behandel.

Een klaer voer aan dat die aanvanklike berig en foto ‘n intieme en hartroerende oomblik verewig het. Die politiek-gelaaide brief, egter, was ‘n ander saak. Cemoné se ma het haar heel waarskynlik voorberei op die aanvanklike plasing van die foto en storie – maar sekerlik nie op die ope brief en die foto in daardie konteks nie.

Let daarop dat die klaers nie Basson se verweer in hierdie verband noukeurig genoeg gelees het nie. Hy het naamlik nie gesê dat hy net kan spekuleer oor die gevolge nie – hy het wel geskryf dat, AS hy daaroor moet spekuleer, hy tot ‘n sekere gevolgtrekking sal kom.

Ek het reeds aangevoer dat Basson geregverdig was om Cemoné te identifiseer, dat hy daarom nie haar privaatheid en/of waardigheid geskend het nie, en dat die saak wel in die openbare belang was. Gegee hierdie slotsom, is dit moeilik om te argumenteer dat die brief die kind onnodige skade berokken het.

Maar meer moet hier gesê word.

In hierdie verband haal ek die gedeelte van ‘n boek wat betrekking het op Artikel 8 van die Perskode (oor kinders) volledig aan (Ethical journalism and gender-sensitive reporting – Unesco and the University of Mauritius, May 2013):

 

The Bill of Rights (Section 28.2) in the South African Constitution states: “A child’s best interests are of paramount importance in every matter concerning the child.”

This clause cites a part of South Africa’s Constitution. Clearly, both the Constitution and the Press Council take the “best interests” of a child seriously – which is good and appropriate.

Note the careful way in which this sentence is constructed:

·         It does not mention “children” (plural, which may have amounted to a generalisation), but it is about a specific child (singular) – each and every child is an individual, unique, precious and important, and s/he should be treated as such;

·         It is not only about a child’s interests, it is about his/her “best” interests;

·         Most importantly, the specification that a child’s best interests are of “paramount importance” should not be taken lightly – this is the first and only time that the Code qualifies a matter in such radical terms; and

·         As if that is not enough, the clause adds that this importance is relevant in “every” matter that concerns a “child” (singular, again).

There are no exceptions, nor should there be. If this sentence does not alert the press to be extremely careful when reporting about a child, nothing will.

8.1. The press shall therefore exercise exceptional care and consideration when reporting about children under the age of 18. If there is any chance that coverage might cause harm of any kind to a child, he or she shall not be interviewed, photographed or identified unless a custodial parent or similarly responsible adult consents, or a public interest is evident.

This clause was also carefully construed, and it should be read as meticulously as it was worded. The fourth word “therefore” is operative here as it links the powerful preceding sentence with the one under discussion. This is quite significant.

But there is more. In some instances the Code asks journalists to take “care and consideration”. In this instance it notably adds the word “exceptional” to the “care and consideration”, which (again) implies that the press should take this clause extremely seriously.

This is the principle: If there is any chance that coverage might cause a child harm of any kind, s/he should not be interviewed, photographed or identified unless a custodial parent consents or a public interest is evident. In this case, there are no exceptions. There should be none.

These are some of the implications:

·         When there is no likelihood that a child can be harmed by a story or a picture, there is nothing wrong with reporting that matter. For example, two schools compete in their yearly soccer clash. The journalist takes pictures of children on the pavilion, cheering their teams on. You don’t need anybody’s permission to publish those pictures, as it is not likely that that would harm any child. The same does not go for (for example) a child in an orphanage home. Such a picture has the potential to be harmful to the child – so even if your intentions are good, you will do well to re-consider and re-re-consider before you decide to publish.

·         It is up to the journalist/publication to decide if a certain matter regarding a child is in the public interest. Just imagine what responsibility this entails.

 

–          Johan Retief

 

In samehang met bogenoemde moet ek ook die uitspraak in die Voorwoord tot die Perskode verreken, naamlik dat dit pers onnodige skade moet vermy. Let daarop dat die Kode die pers nie verbied om iemand skade te berokken nie (in ‘n sekere sin is dit selfs die pers se plig om dit te doen, afhangende van die situasie). Die Kode het dit egter wel (tereg) oor “onnodige” skade.

In hierdie verband is my vraag daarom of Basson die kind onnodige skade (kon) berokken het (afgesien van my vorige argumente).

Met bogenoemde as agtergrond, moet ek Cemoné se konteks en ouderdom in ag neem, asook (natuurlik) die aard van die teks self.

Een faktor is die feit dat Basson nie nuwe inligting aan die kind geopenbaar het nie. As elfjarige, wat grootliks sonder haar pa grootgeword het, was dit redelik om te aanvaar dat sy terdeë bewus was van die situasie – en van die redes daarvoor. Haar blote teenwoordigheid in die hof spreek hiervan.

Die redakteur se verwysing na haar pa as ‘n krimineel is hinderlik. Natuurlik was hy geregtig om dit te doen (die hof het immers daaroor beslis, nie Basson nie). Onsensitief was dit egter sekerlik. Ek meen dat dit waarskynlik is dat Basson die kind hierdeur gekrenk het. Of dit haar onnodige skade berokken het, is wel ‘n perd van ‘n ander kleur.

Ek is bewus van die stortvloed van kommentaar op die ope brief (sommige van hierdie kommentare gaan breër as die klag wat hierbo bespreek is). Een sodanige kritiek is dat Basson die “goed” wat tydens die apartheidsjare gedoen is, bloot geïgnoreer het. Sulke kritiek kom ook voor in ‘n klaer se reaksie op Basson se verweer.

Algemene opmerking

Dit is opvallendklik hoe seker sowel die klaers as die koerant van hul saak is. Wat my betref, lê hierdie kwessie egter nie so maklik voor die hand nie; ek meen dat beskeidenheid, eerder as sekerheid, hier vanpas is.

Laat ek dit hier so duidelik moontlik stel: Die reg op vrye uitdrukking en spraak is ononderhandelbaar. Dit was die koerant se onbetwisbare reg om ‘n ope brief aan ‘n elfjarige te publiseer – as hierdie kantoor anders sou besluit oor dié fundamentele saak, sou dit ‘n ernstige inkorting van die reg op vrye spraak gewees het, die hart van die bestaan van die stelsel van regulering aangetas het, en die demokrasie bedreig het.

Daarom kan die vraag nie wees óf die koerant oortree het met die blote feit van die publisering van die brief nie, maar inderdaad slegs hóé dit die teks aangebied het.

Let daarop dat dit nie my taak is om te oordeel hoe gebalanseerd die brief was nie, ook nie oor die wysheid of wenslikheid daarvan nie (‘n gebrek daaraan oortree ook nie die Kode nie).

My uiteindelike gevolgtrekking is dat dit nie wys was van Basson om ‘n politiek-gelaaide brief aan ‘n elfjarige te skryf nie. ‘n Gebrek aan wysheid as sodanig verbreek egter nie die Perskode nie.

BEVINDING

Die klag word van die hand gewys.

AANSOEK OM VERLOF TOT APPèL

Ons klagte-prosedure bepaal dat enige party binne sewe werksdae ná die ontvangs van hierdie beslissing aansoek om appèl by die Voorsitter van die Appèlkomitee, regter Bernard Ngoepe, kan aanteken. Gronde vir die appèl moet duidelik uiteengesit word. Hy kan by khanyim@ombudsman.org.za bereik word.

Johan Retief

Persombudsman