Shané Kleyn vs Sondag

Complainant: ShanA Kleyn
Article: Digter se koeplet nou trilogie – Sy septer swaar nie meer oor haar
Date: 14 March 2012
Respondent: Sondag
KLAG

Me. Shané Kleyn kla oor ‘n storie in Sondag, gepubliseer op 22 Januarie 2012 onder die opskrif Digter se koeplet nou trilogie – Sy septer swaar nie meer oor haar.

Sy kla dat:

·         dit onwaar is dat sy en mnr. Daniel Hugo ‘n liefdesverhouding het;

·         storie op een bron alleen gebaseer is;

·         die verwysing na haar as ‘n “bloedjong wulpse poppie” beledigend is;

·         die woord “hoer” (lees: “hoerberoerte”) beledigend is;

·         die gebruik van ‘n uitroepteken ná die verwysing dat sy glo gay is, ‘n subtiele stigmatisering van gay-wees is;

·         verkeerd aangehaal is; en

·         die byhaal van Protea Boekhuis suurdruiwe is.

Hierby voeg ek die opskrif.

ONTLEDING

Die storie, geskryf deur Inge Liebenberg, sê dat die digter Daniel Hugo (57) se vrou, die roman-skrywer Carina Diedericks-Hugo (35), hom los omdat dit sleg gaan met hul bedsake. Die storie suggereer dat daar sprake van ‘n “literêre liefdesdriehoek” is – skindertonge fluister glo dat Daniel ‘n verhouding met ‘n kollega van hom by Protea Boekhuis (Kleyn) het. Die twee vroue het na berig word met mekaar oor dié saak gepraat; Kleyn het die gerugte egter as “gefabriseer” afgemaak.

Ek kyk nou na die meriete van die klag:
Liefdesverhouding

Die berig sê dat daar stories rondloop dat Hugo ‘n verhouding met ‘n jong vrou aangeknoop het en dat Diedericks-Hugo ‘n “baie sterk vermoede” het dat dié persoon Kleyn is.

Kleyn kla dat dit onwaar is dat hy en Hugo ‘n liefdesverhouding sou hê.

Eerstens: Ek let op dat die berig dit nêrens as ‘n feit stel dat Hugo en Kleyn ‘n liefdesverhouding het nie – die storie verwys eerder na wat Diedericks-Hugo sou gesê/beweer het.

Uit ‘n joernalistiek-etiese oogpunt gesien, is dit Diedericks-Hugo se reg om te sê wat sy gesê het, en ook die koerant se reg om dit te rapporteer – solank dit duidelik is dat die storie op ‘n mening gebaseer is en bewerings nie as feite aangebied word nie.

Art. 1.3 van die Perskode maak voorsiening vir sodanige beriggewing. Dit lui naamlik onder meer dat, wanneer ‘n storie nie gebaseer is op feite nie, maar op menings, bewerings, gerugte of aannames, dit as sodanig aangebied moet word. Dit is dus moontlik om bewerings te publiseer, solank dit nie as feite aangebied word nie – wat presies is wat die storie telkens doen.

Die koerant was dus geregverdig in sy beriggewing – voorlopig, egter. Want hier is ‘n groot “mits” ter sprake – mits die storie naamlik aan die vereistes van verifikasie voldoen, soos deur Art. 1.4 van die Perskode vereis. Joernaliste kan immers nie lukraak eenbron-gerugte sonder bevestiging publiseer nie. Daar moet ‘n “vangnet” wees, ‘n meganisme om die publiek teen onverantwoordelike verslaggewing te beskerm – anders kan mense sê net wat hulle wil, sonder om enige verantwoording daarvoor te doen.

Anders gesê: Daar is ‘n rede waarom Art. 1.4 op Art. 1.3 volg – die twee moet saam gelees word.

Dit beteken dat ek hierdie deel van die klag daarom slegs in die lig van die volgende hofie (een bron, verifikasie) kan beoordeel.

Let wel dat hierdie (voorlopige!) standpunt (naamlik dat die koerant geregverdig was om Diedericks-Hugo se bewering oor Kleyn te plaas) nie beteken dat ek besluit het dat Hugo en Kleyn wel ‘n verhouding gehad het nie – al wat dit beteken, is dat Sondag binne sy reg opgetree het om die bewering te publiseer, en dat die koerant binne die grense van die Perskode gebly het deur die bewerings as sodanig aan te bied.

Mits…
Op een bron gebaseer

Kleyn kla dat die joernalis slegs een bron vir haar storie gehad het.

Art. 1.4 van die Perskode stipuleer dat die akkuraatheid van ‘n berig geverifieer moet word, waar moontlik. Dit sê ook dat, waar verifikasie nie moontlik is nie, dit in so ‘n berig gesê moet word.

Een bron is dus nie genoeg nie – veral nie waar die subjek van rapportering nadeling geraak kan word nie, soos in hierdie geval. Mense se reputasies is immers op die spel.

Ek let op dat, naas die verwysings na Diedericks-Hugo, die berig ook na anonieme bronne verwys wat dieselfde storie as sy sou “fluister” – wat volgens die storie beteken dat daar wel meer as een bron was.

Alles hang dus af van die geloofwaardigheid en selfstandigheid van hierdie bronne.

Ek het daarom die koerant gevra om my van die geloofwaardigheid (en aantal) van hierdie bronne te oortuig.

(Terloops, uit die konteks is dit duidelik dat Kleyn se erkenning – in die berig – dat sy van die storie geweet het, nie na hierdie anonieme bronne verwys nie, maar wel na Diedericks-Hugo. Ek het dus onafhanklike verifikasie gesoek.)

Sondag ontken dat die storie op ‘n enkelbron gebaseer is en sê dis “dis in wese deur verskeie bronne, onafhanklik van mekaar, bevestig”.

Die koerant verduidelik dat:
  • hy ‘n wenk ontvang het van ‘n bron wat toegang tot Diedericks-Hugo se Facebook-blad gehad het, waar dié bron te wete gekom het van verhoudingsprobleme tussen haar en haar man;
  • een van Diedericks-Hugo se vriende het gevra of die oorsaak van die probleem met ‘n “poppie” te make het, waarop sy glo “natuurlik” geantwoord het;
  • in die konteks van die Facebook-gesprek, “was die implikasie duidelik dat Hugo glo met ‘n ander vrou deurmekaar was”;
  • hierdie oortuiging die “kiem vir die storie” was;
  • Liebenberg toe vir sowel Diedericks-Hugo as Hugo op Facebook “bevriend” het – wat beteken dat bogenoemde inligting nie binne ‘n geslote vriendekring plaasgevind het nie;
  • toe die joernalis vir Diedericks-Hugo gebel het, het laasgenoemde vir Kleyn as ‘n moontlike derde party geïdentifiseer; en
  • Liebenberg daarop vir Kleyn gebel het.
Intussen, gaan Sondag voort, het:
  • die koerant “onafhanklike” bevestiging ontvang vanaf ‘n senior joernalis, wat inligting van ‘n betroubare en gesaghebbende bron gekry het wat bevestig dat Hugo en sy vrou inderdaad huweliksprobleme gehad het – en dat ‘n derde persoon daarby betrokke was; en
  • ‘n verdere, onafhanklike en betroubare bron in wie die koerant “absolute vertroue” het, dié inligting bevestig. Die koerant sê: “Die inligting was tot die effek dat Hugo glo self erken het dat hy al vir ‘n geruime tyd intiem by Kleyn betrokke is.” Hierdie inligting is aan die koerant gegee met die verstandhouding dat dit nie eens in die storie aangehaal sou word nie – dit het dus bloot as redaksionele bevestiging gedien van die betroubaarheid van inligting wat die koerant vanaf ander bronne ontvang het.
Die koerant voer ook aan dat daar gerugte was waarvan Kleyn self bewus was nog voordat die joernalis haar gekontak het.

Sondag konkludeer dat sy bronne geloofwaardig is, dat twee bronne (voorheen “verskeie bronne” genoem) totaal onafhanklik van mekaar is, en dat dié bronne met verskillende joernaliste oor die saak gepraat het.

Naas die korrespondensie, het ek ook telefonies met Sondag se regsverteenwoordiger gepraat. Hy verseker my daarvan dat die anonieme bron wel bestaan en dat hy/sy geloofwaardig is. Hy was egter nie in ‘n posisie om daardie bron se identiteit aan my bekend te maak nie, en ek het dit so gerespekteer.

In my beoordeling van hierdie saak moet ek tussen drie sake onderskei: Die feit dat Hugo en Diedericks-Hugo huweliksprobleme het (wat nie in dispuut is nie, en waaroor ook nie gekla word nie), die moontlikheid van ‘n derde party in Hugo se lewe (waaroor hy ook nie gekla het nie), en die identifisering van Kleyn as die moontlike derde party (waaroor hy wel kla). Ek bepaal my daarom by laasgenoemde.

Ek let op dat die oorwig van die koerant se argument in hierdie verband om die eerste twee sake gaan; Sondag sê egter wel ook dat twee bronne vir Kleyn geïdentifiseer het – Diedericks-Hugo, op die rekord, en ‘n anonieme bron, van die rekord af (en aan wie Hugo na bewering sou erken het dat hy en Kleyn ‘n verhouding gehad het).

Kleyn, aan die ander kant, ontken dat daar so ‘n tweede bron was.

Dit laat my met ‘n situasie van “is”, “is nie” – ‘n onmoontlike taak om te besluit wie reg en wie verkeerd is. Ek het naamlik geen bewyse dat die ander bronne wel bestaan nie, slegs Sondag se woord. Ek kan wel maklik die koerant se woord aanvaar, maar dan kan Kleyn met reg vir my vra hoekom ek nie ook haar woord aanvaar dat daar nooit ‘n verhouding tussen haar en Hugo was nie. Waarom sou ek die anonieme bron se woord bó dié van Kleyn aanvaar? Of andersom?

Terug na die twee bronne, of een bron. Hierdie is ‘n belangrike kwessie, want die Perskode vereis verifikasie. Ek interpreteer die Kode dat, hoe groter onnodige skade aan iemand se beeld gedoen kan word, des te belangriker word verifikasie. In hierdie geval gaan dit om Kleyn se reputasie en openbare beeld – en word verifikasie inderdaad belangrik.

Dit is soveel meer die geval omdat die een bron wat wel aangehaal word (Diedericks-Hugo), by die saak betrokke is en daarom bymotiewe kan hê (ek sê nie dat dit wel die geval is nie, maar noem dit tog as ‘n teoretiese moontlikheid wat in gedagte gehou moet word).

Hier is my oorweging: Al aanvaar ek ook die legitimiteit en selfstandigheid van die koerant se tweede (of derde) bron, word die bestaan van daardie bron nie in die storie gereflekteer nie. Die stelling wat sê dat geregtigheid nie net moet geskied nie, maar dat dit ook gesien moet word dat dit geskied, geld hier ook – dit help nie dat die koerant wel ander bronne het wat die bewering van ‘n eerste bron bevestig, maar die publiek word nie daaroor ingelig nie.

Dit is nie goed genoeg om inligting wel deur ander bronne te verifieer, en dan daaroor te swyg nie.

Die een-bron-identifisering van Kleyn, nogal deur ‘n persoon wat in ‘n “driehoek” betrokke was of kon gewees het, plaas boonop vraagtekens agter die waarheidsgehalte daarvan – wat die moontlikheid van onnodige skade aan Kleyn kan impliseer.

Ek moet ook sê dat ek die ooreenkoms tussen die koerant en die anonieme bron vreemd vind. Deur bloot na ‘n tweede bron te verwys het, sonder om besonderhede te verskaf oor wat hierdie persoon se posisie is, kan hom/haar tog op geen manier geïdentifiseer het nie? En dit sou nie net die storie versterk het nie, maar ook aan die vereistes van die Perskode laat voldoen het.

Bloedjong, wulpse poppie

Die sin in dispuut lui: “Hy’t Carina glo vir ‘n bloedjong wulpse poppie ingeruil, word gefluister.”

Kleyn kla dat sy pas haar meestersgraad in letterkunde aan Stellenbosch Universiteit behaal het, en dat sy die verwysing hierbo “uiters beledigend” vind.

Sondag argumenteer dat:
  • dit geensins duidelik is dat die woorde in dispuut direk op Kleyn betrekking het nie;
  • die woorde self nie lasterlik is nie, al beskou Kleyn dit ook as beledigend;
  • die woorde bloot ‘n “mooi jong vrou” beteken;
  • selfs al sou die woorde ‘n lasterlike betekenis dra, dit neerkom op ‘n mening wat uitgespreek word, “gegewe al die beskikbare feite”; en
  • wanneer dit kom by kommentaar, weerhou die reg hom daarvan om koerante te straf bloot omdat woorde “onsmaaklik” of “beledigend” geag kan word – omdat subjektiewe oorwegings van “goeie smaak” nooit ‘n betroubare maatstaf van reg en verkeerd kan wees nie.

Art. 5 van die Perskode lui dat die pers besonderse sorg en oorweging aan die dag moet lê in sake waar waardigheid en reputasie op die spel is.

Sondag se argumente is nie almal ewe oortuigend nie. Ek begin by dié wat meer twyfelagtig is:

  • Dit is vir my redelik duidelik dat die uitdrukking “bloedjong wulpse poppie” net op een persoon betrekking kan hê, en dit is Kleyn – geen ander persoon word immers in die storie genoem nie;
  • “Bloedjong wulpse poppie” beteken meer as net “mooi jong vrou” – daarvoor sorg die “wulpse”; en
  • As die uitdrukking (argumentshalwe) lasterlik is, kan dit nie vergoeilik word deur aan te voer dat dit neerkom op ‘n mening wat uitgespreek is nie (en dat dit daarom in orde sou wees om dit te publiseer) – laster is meestal ‘n mening (wat nie gepubliseer mag word nie).

Ek herinner die koerant daaraan dat die herhaling van laster ook laster is – ‘n verskoning dat ‘n publikasie bloot iemand aangehaal het, kan daarom nie altyd as ‘n argument gebruik word nie. Insgelyks beteken dit dat, as iemand aangehaal word wat iemand anders se waardigheid en reputasie aantas, die herhaling daarvan op dieselfde neerkom.

Sondag se argument dat subjektiewe oorwegings van wat “goeie smaak” (of dan “slegte smaak”) is nooit ‘n betroubare maatstaf van reg en verkeerd kan wees nie, is egter oortuigend. Die Perskode verbied immers om goeie redes nie swak smaak nie.

Ek meen nie dat die beskrywing in dispuut lasterlik is nie omdat dit nie haar openbare beeld genoegsaam verlaag nie.

Wanneer ek sê dat ek ook die uitdrukking onsmaaklik vind en kan verstaan dat Kleyn daardeur beledig voel, neem ek daarby saam ook die (ponie-)koerant se styl in ag, saam met bogenoemde argument.

Hoerberoerte

Kleyn kla oor die sin wat lui: “Carina vertel dié poppie het glo ‘n hoerberoerte van formaat gegooi.”

Sy sê dis vir haar duidelik dat Liebenberg en Diedricks-Hugo “graag die woord ‘hoer’ iewers wou inwerk; vandaar die wansmaaklike ‘hoerberoerte’.”

Sondag voer aan dat hy nêrens die woord “hoer” gebruik het nie – “Kleyn se poging om die woord ‘hoer’ in sy selfstandige betekenis van die saamgestelde woord ‘hoerberoerte’ af te lei, werk nie”. Die koerant argumenteer dat “hoerberoerte” niks met prostitusie te make het nie en voorsien my van ‘n dokument wat toon dat die woord bloot beteken iemand wat haarself baie vererg, of ‘n “tantrum gooi”.

Onder die hofie “Nuwe Afrikaanse woorde” (internet) word “hoerberoerte” onder meer beskryf as dit wat jy kry “as jy verby jou skarnier kwaad is”.

Ek kan die koerant nie verkwalik wanneer hy ‘n erkende woord in die regte betekenis gebruik nie. Selfs al het die joernalis dié woord tong-in-die-kies gebruik, kan dit nog steeds nie op ‘n verbreking van die Perskode neerkom nie.

Uitroepteken stigmatiseer

Die storie haal Diedericks-Hugo aan wat sê sy hoor Kleyn “hou eintlik meer van vroueliefde as van mans!”

Kleyn kla dat die uitroepteken op ’n subtiele en onaanvaarbare stigmatisering van gay-wees dui.

Sondag stem nie saam nie – hy sê die koerant is propvol uitroeptekens, en dit is deel van die koerant se styl (“tipies poniekoerant”). Die publikasie sê ‘n uitroepteken is bloot ‘n leesteken wat bietjie meer klem as ‘n punt lê, en ontken dat hy ‘n verskuilde agenda daarmee gehad het.

Ek stem saam met die koerant – die uitroepteken maak die stelling effens sterker, maar dat dit gay-wees stigmatiseer, is darem te dik vir ‘n daalder.

Verkeerd aangehaal

Die storie haal Kleyn aan wat sou gesê het dat Diedericks-Hugo haar gekonfronteer het oor die gerugte, en vervolg: “…maar ek is oortuig daarvan dat dit gefabriseer is…”

Kleyn kla dat die joernalis dié aanhaling verdraai het – sy sê sy het aan Liebenberg gesê dat Diedericks-Hugo die storie gefabriseer het. Sy voeg by: “Die doelbewuste verdraaiing van my woorde is verdere bewyse dat Liebenberg haar bron beskerm.”

Sondag sê dat Liebenberg se notas toon dat die woorde “gefabriseer”, “effe ongemaklik” en “ek is nie lus vir kinderkak nie” daarop verskyn. “Al hierdie woorde is in die storie ingewerk.”

Die koerant voeg by dat Liebenberg nie ontken dat Kleyn “moontlik” kon gesê het dat Diedericks-Hugo die storie gefabriseer het nie, maar redeneer dat die weglating daarvan egter nie neerkom op ‘n verdraaiing van die betekenis kan neerkom nie – direk voor die aanhaling word Diedericks-Hugo genoem as die persoon wat Kleyn aangevat het oor die gerugte; en die berig self haal eersgenoemde aan waar sy vir Kleyn uitwys as die moontlike derde party. “Hoekom sou Inge ‘doelbewus’ Kleyn se aanhaling verdraai om ‘haar bron te beskerm’ terwyl haar bron blyk uit die storie self?”

Eerstens, ek stem saam met die koerant dat dit nie sin maak dat Liebenberg die aanhaling doelgewus verdraai het om haar bron te beskerm nie.

Dit is egter redelik moontlik waar dat Kleyn wel gesê het dat Diedericks-Hugo die storie gefabriseer het. Ek neem ook in ag dat die koerant nie ontken dat Kleyn dit kon gesê het nie.

Ek aanvaar daarom dat Kleyn nie presies reg aangehaal is nie.

Die vraag is nou of die verandering materieel is, en of dit aan die betekenis verander van wat Kleyn wou oordra.

Ek dink nogal dat dit wel ‘n verskil maak. Soos die storie geskryf staan, het “iemand” (“‘n persoon van buite”) die storie gefabriseer. Gegee dat Diedericks-Hugo egter belange het of gehad het by Hugo, is dit belangrik om te weet dat Kleyn vir háár van die “fabrisering” verdink. Dis nie sommer enige persoon wat die storie versin het nie, dis Hugo se (gewese) vrou.

In die algemeen moet ek byvoeg dat dit onverskoonbaar is om ‘n bron nie presies reg aan te haal nie, veral wanneer aanhalingstekens gebruik word (soos in hierdie geval).

Suurdruiwe

Kleyn sê die feit dat Protea Boekhuis (waar sy vir Diedericks-Hugo opgevolg het) by die storie betrek word, lyk vir haar na suurdruiwe.

‘n Koerant kan moeilik oordeel oor mense se gewaande motiewe, en nog minder verantwoording daarvoor doen. In elk geval, as dit wel ‘n geval van suurdruiwe is, kom dit van Diedericks-Hugo af en nie van die koerant nie.

Die opskrif
Die opskrif lui: Digter se koeplet nou trilogie.

Hoewel Kleyn nie oor die opskrif gekla het nie, het dit my aanvanklik gepla. Op die oog af lyk dit of die opskrif dit as ‘n feit stel dat daar ‘n “liefdesdriehoek” is – anders as die storie, wat dit was bewerings aanbied. Ek het dit daarom by die klag gevoeg, omdat ek die koerant se mening hieroor wou hoor.

Sondag voer aan dat ‘n opskrif nie in isolasie van die storie gesien moet word nie – lesers sou binne die eerste drie paragrawe verstaan het dat dit bloot bewerings is. Gelees saam met die onderskrif en die subhoof, laat dit “geen twyfel oor die inhoud van die berig nie”.

Die koerant voeg by dat dit insiggewend is dat Hugo nie kla dat dit onwaar is dat daar ‘n trilogie is nie – hy kla bloot dat hy nie ‘n liefdesverhouding met Kleyn het nie.

Art. 11.1 van die Kode lui: “Opskrifte…moet ‘n redelike weergawe van die inhoud van die storie…reflekteer.”

Wanneer ‘n mens die saak uit alle moontlike hoeke bekyk, is dit wel moontlik om die opskrif as ‘n feit te interpreteer soos wat ek aanvanklik gedoen het, wat dan nie ‘n redelike weergawe van die storie sou wees nie en daarom die Kode sou verbreek. Dis egter ook moontlik om te sê dat die woord “trilogie” nie noodwendig op ‘n feit dui nie (in die sin dat daar werklik ‘n trilogie bestaan), maar eerder op die feit dat daar so ‘n gerug is.

Uiteindelik bestaan daar vir my genoeg twyfel oor dié saak dat ek nie tot ‘n bevinding kan kom dat die Perskode hier verbreek is nie. Ek gee dus die voordeel van die twyfel aan die koerant.

BEVINDING
Liefdesverhouding

Hierdie deel van die klag kan nie selfstandig beoordeel word nie, maar moet saam met die volgende hofie gelees word.

Op een bron gebaseer

Die storie dig die identifisering van Kleyn as ‘n moontlike derde party in Hugo se lewe net aan een bron toe – ‘n bron wat boonop bymotiewe kon gehad het, en wat dus vraagtekens plaas agter die waarheidsgehalte van die bewering. Omdat dit onnodige skade aan Kleyn se openbare beeld kon doen, moes die koerant hierdie bewering geverifieer het; as dit wel geverifieer is, moes dit so vermeld gewees het.

Dit verbreek Art. 1.4 van die Perskode wat lui: “Wanneer daar rede is om die akkuraatheid van ‘n berig te betwyfel en dit prakties haalbaar is om die akkuraatheid daarvan te verifieer, sal dit geverifieer word. Wanneer dit nie prakties haalbaar is om die akkuraatheid van ‘n berig te verifieer nie, sal dit in so ‘n berig genoem word.”

Die verbreek ook Art. 5 van die Perskode wat lees: “Die pers sal uitsonderlike sorg en oorweging skenk in sake wat mense se waardigheid en reputasie raak…”

Bloedjong, wulpse poppie
Hierdie deel van die klag word van die hand gewys.
Hoerberoerte
Hierdie deel van die klag word van die hand gewys.
Uitroepteken stigmatiseer
Hierdie deel van die klag word van die hand gewys.
Verkeerd aangehaal

Die foutiewe aanhaling verbreek Art. 1.1 van die Perskode wat lui: “Die pers is verplig om nuus…akkuraat…aan te bied.

Suurdruiwe
Hierdie deel van die klag word van die hand gewys.
Die opskrif
Hierdie deel van die klag word van die hand gewys.
OPTREDE

Sondag word versoek om Kleyn om verskoning te vra omdat die berig onnodige skade aan haar waardigheid en reputasie kon gedoen het deur haar identifisering as ‘n moontlike derde party in Hugo se lewe net aan een bron toe te dig – ‘n bron wat boonop betrokke was in sy lewe en agter wie se bewering vraagtekens geplaas kon word.

Die koerant word ook vermaan omdat ‘n aanhaling van Kleyn nie akkuraat weergegee is nie.

Sondag word versoek om ‘n opsomming van hierdie bevinding en sanksie te publiseer.

Die teks moet begin met die konteks en die verskoning, waarna die koerant vry is om uit te brei op die dele van die klag wat van die hand gewys is. Die teks moet afgesluit word met: “Sien www.presscouncil.org.za (rulings 2012) vir die volledige bevinding.”

Die koerant word versoek om die teks vir publikasie voor te berei en aan hierdie kantoor vóór publikasie voor te lê.

Omdat hierdie kantoor twee klagte oor dieselfde berig gehanteer het (een van Kleyn en een van Hugo), staan dit Sondag vry die twee tekste te kombineer – sou die koerant dit sinvol kon doen.

Die koerant word versoek om die teks op bladsy 6 te publiseer. Indien daar geen appèl is nie, moet dit op 25 Maart of 1 April 2012 gedoen word.

APPèL

Let asseblief daarop dat ons klagte-prosedure bepaal dat enige party binne sewe dae ná die ontvangs van hierdie beslissing appèl by die Voorsitter van die SA Appèlraad, Regter Ralph Zulman, kan aanteken. Gronde vir die appèl moet duidelik uiteengesit word. Hy kan by khanyim@ombudsman.org.za bereik word.

Johan Retief
Adjunk- Persombudsman