Riana Lucas vs. Die Son

Bevinding deur die Persombudsman

3 Maart 2014

Hierdie bevinding is gebaseer op die skriftelike voorleggings van me. Riana Lucas en Hein Coetzee, joernalis van Die Son koerant.

Klag

Lucas kla oor ‘n storie in Die Son op 31 Desember 2013, onder die opskrif Ou sterf op sy birthday – Paartie eindig met lem in sy kop.

Sy kla dat die storie verkeerdelik berig het dat haar:

  • motor deur die plaaslike gemeenskap beskadig is; en
  • seun ‘n vriend van die oorledene was.

Sy kla ook dat die storie haar seun:

  • geïdentifiseer het, al het hy nog nie in daardie stadium in die hof verskyn nie; en
  • as skuldig uitgebeeld het.

Die teks

Die storie, geskryf deur Hein Coetzee, sê dat ‘n jong man (Yannick “Oubek” Wildemands) in Mosselbaai by ‘n nagklub deur ‘n vriend (ene “Ches” – sy regte naam is Chesney) met ‘n mes doodgesteek is.

Ontleding

Motor deur plaaslike gemeenskap beskadig

Die storie sê: “Die plaaslike gemeenskap het ná die voorval die kar van die vermeende moordenaar gaan smash.”

Lucas beweer dat dit nie die gemeenskap was wat die voertuig beskadig het nie, maar sê dat dit eerder “ongewenste elemente” was wat die skade aangerig het.

Coetzee antwoord dat dit inderdaad lede van die gemeenskap was wat die beskuldigde se motor beskadig het. “Die sogenaamde ‘ongewenste elemente’ was ook deel van die gemeenskap.”

Die uitdrukking in die storie (“die plaaslike gemeenskap”) was weliswaar lomperig, omdat dit die indruk geskep het dat die hele gemeenskap of groot dele daarvan opgeruk het om wraak te neem. Aan die ander kant is dit waarskynlik waar dat die “ongewenste elemente” inderdaad ook deel van die gemeenskap was. Daarom sou ‘n beter bewoording gewees het dat “lede van die plaaslike gemeenskap” skade aan die voertuig aangerig het.

Ek meen egter dat ‘n lompe uitdrukking nie noodwendig ‘n verbreking van die Perskode is nie omdat niemand daardeur onnodige skade berokken is nie – soos in hierdie geval.

Vriend van die oorledene

Die storie sê: “Yannick ‘Oubek’ Wildemans se kop is met ‘n mes deur een van sy vriende deurboor.” (eie beklemtoning) Coetzee haal ook Yannick se suster aan wat sou gesê het dat haar broer en Chesney die afgelope maande baie tyd saam met mekaar spandeer het.

Lucas ontken dat haar seun en Yannick vriende was.

Die verslaggewer sê dat die oorledene se suster asook die eienaar van die nagklub hom hierdie inligting gegee het. Hy verduidelik dat die vriendskap twee weke voor die voorval tot ‘n einde gekom het nadat Chesney ontdek het dat hy nie die pa van ‘n kind was nie (die pa was glo ‘n ander vriend van die oorledene). “Die aangeklaagde se pa het hierdie inligting vir die eienaar van die nagklub gegee.”

Gegrond op bogenoemde, meen ek dat Coetzee genoeg inligting tot sy beskikking gehad het om redelikerwys te rapporteer dat die oorledene en die beskuldigde vriende was (al is hul vriendskap ook enkele weke voor die voorval beeïndig).

Vóór hofverskyning

Die storie noem die verdagte se naam, en meld dat hy enkele dae later op ‘n klag van moord in die hof sou verskyn.

Lucas kla dat die berig haar seun geïdentifiseer het, al het hy nog nie in daardie stadium in die hof verskyn of gepleit nie.

Dit is inderdaad normale joernalistieke praktyk om nie die naam te noem van ‘n aangeklaagde voordat daardie persoon nie gepleit het nie. Daar is egter niks in die Perskode wat sodanige publikasie verhinder nie – veral nie as daardie betrokke persoon geen onnodige skade daardeur sou gely het nie. Ek neem in hierdie verband in ag dat slegs enkele dae verloop het voordat Chesney wel in die hof sou verskyn het.

Egter: Die berig het verder gegaan as net om Chesney se naam as verdagte te noem – hy word inderdaad ook as skuldige uitgebeeld. Dit oortree alle norme wat in hierdie verband bestaan. Dit is een ding om ‘n verdagte te identifiseer, maar totaal ‘n ander om daardie persoon as skuldig uit te beeld voor die hof nie daaroor uitspraak gelewer het nie. Sien die hofie direk hieronder.

‘Moordenaar’

Lucas kla dat die storie haar seun ‘n vermeende moordenaar noem, en voeg by: “En my kind is nog nie skuldig bevind op enige klag nie!”

Coetzee sê dat hy slegs die suster van die oorledene aangehaal wat sou beweer het dat Chesney haar broer vermoor het. Hy voeg by dat daar CCTV materiaal is wat Chesney as die moordenaar impliseer.

Hierdie reaksie van die koerant is betreurenswaardig, om verskeie redes:

  • Al het Yannick se suster ook gesê dat Chesney haar broer vermoor het, gee dit nog nie die koerant die reg om dit te herhaal nie; laasgenoemde is nog nie skuldig bevind nie – dit is die hof se taak om oor sy skuld te besluit;
  • Asof dit nie genoeg is nie, stel Coetzee dit boonop (in die tweede paragraaf) as ‘n feit dat Yannick deur een van sy vriende vermoor is. Ek let op dat Chesney se naam nie in daardie paragraaf genoem word nie – maar uit die res van die storie blyk dit wel glashelder dat hierdie feitestelling na hom verwys het; en
  • Al is die getuienis teen Chesney ook hoe sterk, bly dit die hof se taak om oor sy skuld al dan nie te besluit – dit is nie vir die koerant om daaroor “uitspraak” te lewer nie.

Hierdie beriggewing is fundamenteel onbillik teenoor Chesney. Al bevind die hof uiteindelik ook teen hom, was die koerant steeds nie geregverdig in sy beriggewing ten tye van publikasie nie.

Bevinding

Motor deur plaaslike gemeenskap beskadig

Hierdie deel van die klag word van die hand gewys.

Vriend van die oorledene

Hierdie deel van die klag word van die hand gewys.

Vóór hofverskyning; ‘moordenaar’

Die koerant was onbillik teenoor Chesney deur hom nie bloot as verdagte nie, maar inderdaad ook as skuldige te identifiseer. Dit verbreek Art. 1.2 van die Perskode wat lui: “Die pers moet seker maak dat hy nuus…billik oordra.”

Optrede

Die Son word gevra om verskoning aan te teken aan Chesney en sy ma omdat die storie dit as ‘n feit gestel het dat hy die moord gepleeg het, en om daardie verskoning prominent te publiseer.

Die koerant word versoek om die berig voor publikasie aan die Persombudsman beskikbaar te stel. Gebruik asseblief die volgende sin aan die einde van die teks: “Besoek www.presscouncil.org.za vir die volledige bevinding.”

Aansoek om verlof tot appèl

Ons klagte-prosedure bepaal dat enige party binne sewe werksdae ná die ontvangs van hierdie beslissing aansoek om appèl by die Voorsitter van die Appèlkomitee, regter Bernard Ngoepe, kan aanteken. Gronde vir die appèl moet duidelik uiteengesit word. Hy kan by khanyim@ombudsman.org.za bereik word.

Johan Retief

Persombudsman