Piet Rudolph vs Beeld

Bevinding deur die Adjunk- Persombudsman

23 Mei 2011
Hierdie bevinding is gebaseer op die skriftelike voorleggings van mnr. Piet Rudolph van die Orde Boerevolk se Aksiekomitee en die Beeld koerant.
Klag
Mnr. Piet Rudolph kla oor ‘n storie wat op 19 Februarie 2011 in Beeld gepubliseer is onder die opskrif Piet in arres – Bloed spat nadat ‘ou man’ glo skoor soek.
Hy kla dat die volgende woorde/stellings vals/misleidend is, naamlik dat hy:
  • 63 jaar oud is;
  • betrokke was by ‘n aanranding op mnr. Paul Kruger (vuisgeveg);
  • aanvallende vrae gevra het;
  • dr. Dan Roodt gekonfronteer het;
  • op Kruger afgestorm het met ‘n doelgerigte stappie; en
  • nie die kans gegee is om kommentaar te lewer nie.
Hy kla ook oor die gebruik van die woorde “skoor soek” in die onderkop.
 
Ontleding
Die storie, geskryf deur Amanda Roestoff, sê dat Rudolph in hegtenis geneem is omdat hy glo in ‘n vuisgeveg op ‘n vergadering van die Volksraadsverkiesingskomitee (VVK) in Krugersdorp betrokke was en ‘n vuurwapen in dié proses op mense gerig het.
Die doel van die vergadering was na berig word om ‘n komitee te verkies wat met die regering oor ‘n volkstaat moet onderhandel.
Die storie sê verder dat ‘n volgeling van Rudolph volgens die Pro-Afrikaanse Aksiegroep (Praag) uit die bloute op Kruger, voorsitter van die VVK, afgestorm en hom in die gesig geslaan het dat die bloed spat.
Roestoff haal ‘n bron aan wat beweer dat Rudolph heeltyd van agter in die gehoor skoor gesoek en opmerkings gemaak het. Rudolph het toe na bewering saam met mnr. Willem Boshoff byna heel voor gaan sit en “aanvallende vrae” aan Kruger gestel.
Die gemoedere het volgens die storie gou-gou hoog geloop. Rudolph en Basson het Roodt, ‘n benoemde, glo teen die bors getik en gekonfronteer.
Sy skryf dat ‘n “gryskopman” volgens ‘n ooggetuie daarna op Kruger met ‘n “doelgerigte stappie” afgestorm het en dat hy (nou geïdentifiseer as Boshoff) Kruger toe in die gesig geslaan het. Sy vervolg: “’n Stoeiery het ontstaan waarin die sprekers en ander mense die aanvaller en die gryskopman van Kruger geskei het. Kruger het die vergadering toe beëindig en die polisie is ontbied, het die Krugersdorper gesê.” Die storie sê ook dat Rudolph en Boshoff na bewering daarna in hegtenis geneem is omdat ‘n vuurwapen glo op een van die leiers gerig is.
Roestoff berig dat Rudolph en Boshoff die nag in polisieselle in Krugersdorp deurgebring en die volgende dag vlugtig in die landdroshof verskyn het. “Rudolph is op borgtog van R1 500 vrygelaat en Boshoff op eie verantwoordelikheid.”
Saam met die storie verskyn ‘n foto van Rudolph en van ‘n bebloede Kruger.
Ons kyk nou na die meriete van die klag:
Ouderdom
Die storie sê Rudolph is 63 jaar oud.
Rudolph sê hy is 74.
Beeld erken dat sy ouderdom verkeerd aangegee is en sê dat hy bereid is om ‘n regstelling te plaas.
Rudolph reageer hierop deur te sê dat die berig geskryf is ‘n dag nadat hy reeds in die hof verskyn het en dat sy ouderdom op die klagstaat was. Hy lei hieruit af dat Beeld se beriggewing male fide was.
Sover ek kan sien, kan Beeld se beriggewing net male fide wees as hy met die fout wou suggereer dat ‘n 63-jarige makliker in ‘n geveg betrokke kan raak as ‘n 74-jarige – ‘n doelbewuste poging dus om Rudolph se openbare beeld skade te berokken. Dit klink egter vir my te dik vir ‘n daalder – die storie was “sterk” genoeg en Roestof het nie ‘n subtiele foefie nodig gehad om haar storie sterker te probeer maak nie.
Ek het dus geen redelike grond om ‘n fout soos hierdie aan male fide toe te skryf nie; ek het heelwat meer getuienis nodig voordat ek iemand se integriteit so in twyfel sal trek.
Betrokke by ‘n aanranding op Kruger (vuisgeveg)
Die storie sê dat Rudolph in hegtenis geneem is op ‘n klag van aanranding omdat hy “glo” in ‘n vuisgeveg betrokke was. Die onderkop praat van bloed wat spat nadat Rudolph glo skoorgesoek het.
Rudolph ontken dat hy in ‘n vuisgeveg en by ‘n aanranding op Kruger betrokke was. In antwoord op ‘n latere vraag van my, skryf Rudolph: “Na ek my vraag gevra het, het ek teruggekeer na my sitplek. Ek was nie weer naby Kruger nie.”
In sy klag ontken hy egter nie dat hy in ‘n onderonsie gewikkel was nie. Hy sê: “Ek is aangerand, rondgestamp, in die gesig geslaan, in die gesig gespoeg, geskop en teen die grond neergegooi.”
Hy noem ook dat “al die ander gebeure waarna verwys word” (in die storie) buite in die straat gebeur het. Hy sê dat die klag van die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen niks te doen gehad het met enige gebeure binne die saal waar die vergadering gehou is nie. Daardie gebeure, argumenteer hy, het niks met sy klag teen Beeld te doen nie.
Die koerant sê die berig dui nie aan of die gebeure in die vergadering of buite plaasgevind het nie. “Myns insiens kan binne en buite die vergadering as een gesien word want daar sou niks buite gewees het as daar nie iets binne was nie. Ons bronne het dit as een beleef.”
In sy reaksie op Beeld se verweer, bring hy ‘n nuwe aspek na vore – Rudolph ontken naamlik nou ook dat hy op ‘n klag van aanranding in hegtenis geneem of daarvan aangekla is.
Hoewel hy in sy oorspronklike klag dit nie direk sê nie, noem hy tog (net nadat hy die sin wat verwys na die vuisgeveg aangehaal het) dat die “hele berig” vals is. Billikheidshalwe, en ook omdat Beeld op ‘n latere vraag van my hierdie saak aanroer, voeg ek dus die onderhawige kwessie by.
Beeld sê hiervan dat hy sy inligting by die polisiewoordvoerder, ao. Dennis Jones, gekry het. “Dit was in daardie stadium die koerant se feite.”
Die koerant sê ook dat, met Rudolph en Boshoff se eerste vlugtige verskyning, was daar nog geen klagstaat nie. Die koerant sê dat die polisie eers later Rudolph en Boshoff se sake van mekaar geskei het met afsonderlike klagstate – “waarop die aanklag van aanranding op Boshoff se klagstaat verskyn en nie op Rudolph s’n nie”.
Die aspekte waarna ek dus nou kyk, is Rudolph se ontkenning dat hy:
  • in ‘n vuisgeveg en in ‘n aanranding op Kruger betrokke was; en
  • op ‘n klag van aanranding in hegtenis geneem is of daarvan aangekla is.
Eerstens, die beweerde vuisgeveg. Ek neem die volgende faktore in ag:
  • Die storie stel dit nêrens as ‘n feit dat Rudolph in ‘n vuisgeveg betrokke was (met verwysing na ‘n aanranding op Kruger) nie – selfs wanneer ‘n bron aangehaal word, word telkens geskryf dat dit “glo” gebeur het;
  • Hoewel Rudolph dit ontken dat hy in ‘n vuisgeveg betrokke was, sê hy self dat hy “aangerand, rondgestamp, in die gesig geslaan, in die gesig gespoeg, geskop en teen die grond neergegooi” is. Hy was dus, volgens sy eie erkenning, in ‘n onderonsie betrokke. Selfs al was hierdie onderonsie “eensydig”, in die sin dat hy nie geslaan het nie maar slegs geslaan is, kan dit nog steeds gesê word dat hy inderdaad (volgens sy eie erkenning) in ‘n vuisslanery betrokke was.
Gebaseer op bogenoemde, kan hierdie deel van Rudolph se klag kwalik gehandhaaf word.
Tweedens, die volgende oorwegings geld in verband met Rudolph se ontkenning dat hy op ‘n klag van aanranding in hegtenis geneem of daarvan aangekla is:
  • Beeld se stelling dat die polisie later Rudolph en Boshoff se sake van mekaar geskei het en dat die aanklag van aanranding nie op Rudolph s’n verskyn nie, is ‘n erkenning dat laasgenoemde reg is – hy is klaarblyklik inderdaad nie van aanranding aangekla nie;
  • Ek het geen rede om te vermoed dat die koerant se inligting nie van ‘n polisiewoordvoerder afkomstig was nie; en
  • Dit is dit nie die koerant se plig om inligting wat die polisie aan sy joernaliste verskaf te verifieer nie.
Dit was dus redelik vir die koerant om te berig dat Rudolph op ‘n aanklag van aanranding in hegtenis geneem is, al het hierdie inligting agterna geblyk vals te wees.
Aanvallende vrae
Roestoff berig dat Rudolph (en Boshoff) byna heel voor gaan sit en “aanvallende vrae” gestel het.
Rudolph ontken dat sy vraag aanvallend was. Hy sê dit was vraetyd en mense met vrae is vorentoe genooi. Hy voeg by dat die kwessie of sy vraag aanvallend was of nie, nie ter sprake is nie “want niemand het ‘n kwalifikasie daaraan gestel nie”. Hy kla dat die berig so geparafraseer is om hom in ‘n slegte lig te probeer stel. Hy sê ook dat, as gemoedere hoog geloop het, dit te wyte was aan Kruger se onvermoë om vrae te beantwoord – die blaam vir aggressie kan daarom nie voor sy deur gelê word nie.
Hy vra ook “wat nou sodanig aanvallend daaraan was” deur die stelling te maak dat Kruger besig was met ‘n “nuwe ding en dat die herstel van die Boererepublieke die enigste moontlike politieke oplossing vir die land is”.
Hy vra ook: “Waarom word my billike geleentheid om ‘n mening uit te spreek verkriminaliseer…?”
Beeld sê dat die vergadering op ‘n gestoei en ‘n vuisgeveg uitgeloop het en dat mense dus nie onnodig in ‘n negatiewe lig gestel kan word nie – veral nie as jy een van net twee is wat in hegtenis geneem is en die nag in ‘n sel deurgebring het vir jou vermeende aandeel in ‘n geveg nie. Die koerant voeg by: “Dit het duidelik van twee bronne gekom dat mnr. Rudolph se vrae aanvallend was. Die vergadering het in chaos geëindig.”
Die volgende oorwegings geld hier:
  • Die berig stel dit as ‘n feit dat Rudolph se vrae aanvallend was en dig dit nie aan ‘n bron toe nie;
  • Rudolph sê egter self dat die kwessie of sy vraag aanvallend was of nie, nie ter sprake is nie – in daardie geval is hierdie deel van die klag per implikasie beuselagtig;
  • Gegee die vuishou wat Kruger gekry het en ook dit wat met Rudolph self gebeur het (volgens hom), sou ek verbaas gewees het as sy vrae nie-aanvallend was – die atmosfeer was duidelik gelaai en dit is dus redelik moontlik waar dat sy vraag as aanvallend geïnterpreteer kon word;
  • Die gebruik van die woord “aanvallend” kan nie gelykgestel word aan verkriminalisering nie – dis immers nie onwettig om aanvallende vrae te vra nie;
  • Rudolph se vraag hoe sy verwysing na die herstel van die Boererepublieke as aanvallend gesien kan word, kan beantwoord word – dit lê immers nie net in die woorde wat gebruik word nie, maar veral ook in die toon waarmee die woorde gebesig word wat bepaal of dit wat gesê is aanvallend was of nie. Hiermee sê ek nie dat Rudolph se woorde aanvallend was nie, maar net dat dit aanvallend kon wees, afhangende van die toon waarmee hy gepraat het; en
  • Woorde wat ‘n mens nie aanvallend bedoel nie, kan soms wel as sodanig geïnterpreteer word.
Gegrond op bogenoemde oorwegings is dit redelik moontlik waar dat Rudolph se vraag as aanvallend beskou kon word en was die koerant dus gereverdig om dit so te berig.
Roodt gekonfronteer
Roestoff berig dat Rudolph en Boshoff vir Roodt “glo” teen die borskas getik en gekonfronteer het.
Rudolph sê dis onwaar dat Roodt deur hom en Boshoff gekonfronteer is “oor sy prulskrywery en neerhalende gedig oor die volksmoeder”. Hy sê ook dat Boshoff nie naby Roodt was nie “en het hom glad nie aangeraak nie”.
Die koerant reageer nie op hierdie deel van die klag nie.
Ek neem die volgende in ag:
  • Die stelling dat die twee mans vir Roodt teen die bors getik en gekonfronteer het, word weer aan ‘n bron toegedig en weer word dit nie as ‘n feit gestel nie (die woord “glo” word gebruik); en
  • Dit is opvallend dat Rudolph nie kla dat dit onwaar is dat hy vir Roodt aangeraak het nie – hy sê net dat Boshoff nie naby Roodt was en dat Boshoff glad nie vir Roodt aangeraak het nie.
Ek aanvaar dus dat Rudolph erken dat hy wel vir Roodt op die bors getik het. As “op die bors tik” nie konfrontasie is nie, weet ek nie wat konfrontasie is nie.
Op Kruger afgestorm met ‘n doelgerigte stappie
Die storie sê: “Die volgende oomblik het die ‘gryskopman met ‘n baard’ glo op Kruger afgestorm met ‘ ‘n doelgerigte stappie’, het die inwoner gesê.”
Rudolph kla dat hierdie sin ‘n aandiksel en verdraaiing van die ergste graad is en maak daarteen kapsie dat hy daarin as ‘n aggressor voorgestel word. Hy sê: “Hy (Kruger) ken my en weet wie ek is. As dit ‘n ongenoemde, en daarby ‘n enkele, onbevestigde bron was wat so ‘n bewering maak, sou dit billikheidshalwe gestaaf en getoets moes word…Dit is nie gedoen nie, desnieteenstaande word dit gekonstateer asof dit ‘n feit is. Dit is onbillik en is so gedoen om my in ‘n slegte lig te stel.”
Hy voeg by: “Enigeen wat Willem Boshoff ken, sal weet dat hy nie aan daardie beskrywing kon voldoen het nie.”
In antwoord op ‘n latere vraag van my, sê Rudolph dat die verwysing na ‘n gryskopman per implikasie na homself verwys.
Beeld ontken dat daar enige aggressie in die verwysing na ‘n “doelgerigte stappie” gelees kan word.
Ek het dit aan Beeld gestel dat ‘n “doelgerigte stappie” inderdaad nie noodwendig op aggressie dui nie, maar dat die woord “afgestorm” binne die konteks van die storie nie anders vertolk kan word nie. Daarom het ek die koerant gevra om meer lyf aan sy verweer op hierdie punt te gee.
In sy antwoord op hierdie vraag, sê die koerant dat daar wel aggressie op die vergadering was. Hierdie inligting, sê Beeld, kom van twee bronne. Boonop verwys die berig na aggressie aan Rudolph se kant, argumenteer die koerant.
Ek moet sê dat hierdie deel van Rudolph se klag verwarrend is. Aan die een kant maak hy daarteen kapsie dat die sin in dispuut vir hom as aggressor voorstel. Aan die ander kant sê hy egter ook (met verwysing na dieselfde sin): “Enigeen wat Willem Boshoff ken, sal weet dat hy nie aan daardie beskrywing kon voldoen het nie.”
Dis verwarrend, want die “gryskopman met ‘n baard” (enkelvoud) wat glo met ‘n doelgerigte stappie op Kruger afgestorm het, kan tog nie tegelyk na Rudolph en Boshoff verwys nie.
Kom ons kyk weer na die sin in dispuut, asook na die daaropvolgende sin: “Die volgende oomblik het die ‘gryskopman met ‘n baard’ glo op Kruger afgestorm met ‘ ‘n doelgerigte stappie’, het die inwoner gesê. Boshoff het Kruger toe glo vol met die vuis in die gesig gemoker.”
Dit laat min ruimte vir twyfel – die “gryskopman met ‘n baard” dui heel waarskynlik eerder op Boshoff as op Rudolph. Let ook op die gebruik van die woord “toe”. Dit dui weer eens op ‘n direkte verband tussen die gryskopman en Boshoff.
Hierdie interpretasie word gesteun deur ‘n vroeëre verwysing in die storie wat dit uitdruklik stel dat dit ‘n volgeling van Rudolph is wat uit die bloute op Kruger afgestorm en hom geslaan het.
Hierdie inligting word boonop gestaaf deur iets wat Rudolph self geskryf het, asook deur ‘n beëdigde verklaring wat Kruger afgelê het. In dié verklaring sê hy ‘n man “totaal onbekend aan hom” het vorentoe gestap en hom onverwags geslaan. Rudolph skryf: “Hy (Kruger) ken my en weet wie ek is.”
Die storie is egter self ook verwarrend op hierdie punt. Die sin wat volg op die een wat uitdruklik sê dat Boshoff vir Kruger geslaan het, lui soos volg: “ ‘n Stoeiery het ontstaan waarin die sprekers en ander mense die aanvaller en die gryskopman van Kruger geskei het.” (eie kursivering) Hieruit lyk dit of die gryskopman en die aanvanklike aanvaller nie dieselfde persoon is nie.
Hierdie is egter ‘n afleiding; die stelling dat dit Boshoff was wat die slaanwerk gedoen het asook die een wat sê dat dit ‘n volgeling van Rudolph was wat geslaan het, is nié.
Rudolph se klag dat die sin hom (verkeerdelik) as aggressor voorstel, kan dus nie gehandhaaf word nie omdat die storie eerder vir Boshoff as die aggressor identifiseer.
Geen kans vir kommentaar
Rudolph kla dat Beeld hom nie om kommentaar genader het nie en voeg by: “Die hele berig is vals en die waarheid daarvan kon maklik vasgestel gewees het deur met my te praat.”
Beeld sê dat Roestoff volgens normale joernalistieke praktyk inligting gekry het van mense wat op die vergadering teenwoordig was. Die koerant voer aan dat daar geen verpligting op hom is om kommentaar van ‘n beskuldigde in ‘n saak te kry nie. Beeld onderneem om die hofsaak by te woon en daaroor te berig (wanneer Rudolph sy kant van die saak kan stel).
Die koerant is reg – dit is nie normale praktyk om ‘n beskuldigde in ‘n saak vooraf om kommentaar te nader nie. Dit is selfs onwenslik, omdat die hof kan meen dat die pers met die saak inmeng.
Die onderkop: ‘skoorsoek’
Die onderkop lui: Bloed spat nadat ‘ou man’ glo skoor soek.
Rudolph kla dat dit onwaar is dat hy skoorgesoek het. Hy sê: “As tussenwerpsels beskou word as skoorsoek, was u beriggewer nog nooit op ‘n politieke vergadering nie.”
Beeld reageer nie op hierdie deel van die klag nie.
Dit was nie nodig nie.
Die storie haal ‘n bron aan wat sou sê: “ ‘n Ou man het heeltyd van agter in die gehoor skoor gesoek en opmerkings gemaak.” Dit word (weer eens) as ‘n mening gestel en nie as ‘n feit nie – en dit was die koerant se reg om sy bron aan te haal. Dit is hierdie aanhaling wat in die onderkop gebruik word. Boonop stel die onderkop dit ook nie as ‘n feit dat die “ou man” inderdaad skoorgesoek het nie – dit sê dat die man na bewering (“glo”) skoor gesoek het.
Art. 5.1 van die Perskode sê: “Opskrifte…moet ‘n redelike weerspieëling van die inhoud van die betrokke storie…wees.” Dit is presies wat hier gebeur het.
 
Bevinding
Die storie gee Rudolph se ouderdom verkeerdelik as 63 aan. Dit verbreek Art. 1.1 van die Perskode wat sê: “Die pers isverplig om nuus…akkuraat…te rapporteer.
Die res van die klag word van die hand gewys.
Optrede
Met verwysing na sy foutiewe beriggewing oor Rudolph se ouderdom word Beeld gemaan om akkurater met inligting om te gaan en om die fout reg te stel.
Dit staan die koerant vry om (‘n opsomming van) hierdie bevinding te publiseer.
Die koerant word versoek om die regstelling en ‘n moontlike opsomming van die bevinding voor publikasie aan die Adjunk- Persombudsman beskikbaar te stel.
Gebruik asseblief die volgende sin aan die einde van die teks: “Besoek www.presscouncil.org.za (rulings, 2011) vir die volle bevinding.”
Appèl
Let asseblief daarop dat ons klagte-prosedure bepaal dat enige party binne sewe dae ná die ontvangs van hierdie beslissing appèl by die Voorsitter van die SA Appèlraad, Regter Ralph Zulman, kan aanteken. Gronde vir die appèl moet duidelik uiteengesit word. Hy kan by khanyim@ombudsman.org.za bereik word.
Johan Retief
Adjunk- Persombudsman

Piet Rudolph vs. Beeld

Die storie gee Rudolph se ouderdom verkeerdelik as 63 aan. Dit verbreek Art. 1.1 van die Perskode wat sê: “Die pers is verplig om nuus…akkuraat…te rapporteer.