Dan Roodt vs Die Burger

Complainant: Dan Roodt

Article: Van hekse kom nie altyd onheil

Date: 029 January 2012

Respondent: Die Burger

Klag
Dr. Dan Roodt, ‘n skrywer en leier van die Pro-Afrikaanse Aksiegroep (Praag), kla oor ‘n meningsartikel in Die Burger wat op 24 November 2011 onder die opskrif Van hekse kom nie altyd onheil gepubliseer is.
Roodt kla dat:
  • die verwysings na hom as “verregs”, “rassis” en “ekstreem” hom beswadder en belaster; en
  • die artikel ‘n verdraaide weergawe van ‘n TV-program aanbied waaraan hy deelgeneem het en wat die konteks van ‘n bespreking oor wiskunde en “swart prestasie” nie verreken het nie.
Ontleding
Die artikel, geskryf deur Ilse Bigalke (‘n “onafhanklike kommentator”), noem onder meer dat die TV-aanbieder vir Roodt gevra het waarop hy sy standpunt baseer dat swart mense weens hul genetiese samestelling nie wiskunde kan doen nie. Sy skryf dan dat ander deelnemers Roodt se “bas red” met generiese antwoorde.
Ek kyk nou na die meriete van die klag:
Verregs, rassis, ekstreem
Die artikel verwys na Roodt as ‘n “verregse” Afrikaner-aktivis, en voeg by dat sy sienings “fundamentalisties” en “ekstreem” is.
Roodt kla dat sulke tiperings hom beswadder en belaster.
Die Burger sê dat die gewraakte verwysings geregverdigde kommentaar en in die openbare belang is. Die koerant verwys na die uitspraak van regter James Goodey op 13 Junie 2011 in ‘n lastereis wat Roodt teen Media24, Leopold Scholtz en Christo van der Rheede ingestel het omdat hy ‘n rassis genoem is.
Die Burger skryf dat bogenoemde verweerders aanvaar het dat die bewering van rassisme op die oog af lasterlik was omdat regdenkende mense minder van Roodt sou dink as gevolg daarvan. Hulle het egter hoofsaaklik aangevoer dat daardie bewering waar of wesenlik waar was, en dat dit in die openbare belang was.
Die koerant sê die feit dat Goodey die saak met koste van die hand gewys het, beteken dat die hof aanvaar het dat die stelling oor rassisme waar of wesenlik waar was.
Hierdie argument is logies en ek aanvaar dit as sodanig – wat beteken dat Bigalke, soos Media24, geregverdig was om die verwysings in dispuut te gebruik.
Ek neem ook in ag dat hierdie verwysings in ‘n meningsartikel voorkom en dat dit duidelik nie as feite voorgehou word nie.
Dit bring my by wat die Perskode oor die uitspreek van menings vereis.
Art. 8, wat oor dié saak handel, vereis onder meer dat sodanige menings eerlik en sonder kwaadwilligheid uitgespreek moet word, en dat alle beskikbare en relevante feite billik in ag geneem moet word.
Hierdie artikel is in lyn met ‘n uitspraak van die Grondwetlike Hof in April 2011 (in die saak Robert McBride vs. The Citizen), waarin die hof onder meer gesê het dat kritiek beskerm word, selfs al is dit ekstreem, onregverdig, ongebalanseerd, oordrewe en bevooroordeeld – solank dit ‘n eerlike mening is, sonder kwaadwilligheid uitgespreek word, in die openbare belang is, en gebaseer is op ware feite.
Ek het geen rede om te glo dat Bigalke haar mening oneerlik en kwaadwilliglik uitgespreek het en daardeur die Perskode oortree het nie.
Konteks van TV-program nie verreken nie
Roodt kla dat die artikel ‘n verdraaide weergawe van die TV-program aanbied en dat Bigalke nie die konteks van die bespreking oor wiskunde en swart prestasie verreken het nie. Hy voeg by dat hy ‘n brief aan Die Burger aangebied het waarin dié konteks verskaf word – hy sê dié brief is volgens sy beste wete nooit gepubliseer nie.
Die Burger sê dat Roodt “bloot verkeerd” is – sy brief is op 30 November 2011 op bladsy 15 gepubliseer onder die opskrif Gee swart jeug gevorderde wiskunde.
In dié brief verduidelik Roodt dat hy sy gewraakte opmerking oor swart matriekleerlinge se voorliefde vir wiskunde al dan nie gemaak het in reaksie op iemand se klag in die Sowetan naamlik dat dit ‘n feit is dat swart matriekstudente in die periode ná 1994 die rekord vir die swakste presteerders hou. Roodt skryf verder dat swart studente in Amerika ook in dié vak onderpresteer – wat een “liberale siel” (soos hy dit stel) sou genoop het om te sê dat hulle “net nie genoeg blootstelling aan gevorderde wiskunde kry nie”. Hierop stel Roodt dan voor dat wiskundige geletterdheid dus afgeskaf moet word, en dat alle swart leerlinge gedwing moet word om gevorderde of alfa-wiskunde te doen.
Die vraag is nou of bogenoemde konteks enige wesenlike verskil aan Bigalke se artikel sou gemaak het.
Ek let op dat Roodt nie ontken dat hy sou gesê het dat swart mense “weens hul genetiese samestelling” nie wiskunde kan doen nie – hy ontken dit nie in sy brief aan Die Burger nie en ook nie in sy klag na hierdie kantoor nie. In nie een van hierdie gevalle het hy dié gulde geleenthede aangegryp nie, wat onverstaanbaar is indien dit nié sy standpunt verteenwoordig nie.
Ek neem dus aan dat dit wel sy mening is.
In daardie geval, meen ek, maak die konteks soos Roodt dit in sy brief stel nie ‘n wesenlike verskil aan die artikel nie. Dis naamlik nie regtig ter sake wat gelei het tot die gewraakte stelling nie; wat meer relevant is, is die stelling self en die vraag waarop Roodt dit baseer – ‘n vraag wat klaarblyklik nie beantwoord is nie en wat meer relevante konteks sou verskaf het. Die joernalis kan nie daarvoor verkwalik word dat Roodt klaarblyklik in gebreke gebly het om op dié vraag te reageer nie.
Oor Bigalke se gewaande “verdraaide weergawe” van die TV-program: Uit korrespondensie tussen my kantoor en Roodt kon ek nie agterkom presies waarna hy verwys wat “verdraai” sou wees nie (behalwe vir die “konteks” wat sou ontbreek).
‘n Laaste opmerking: In sy brief aan Die Burger beweer Roodt dat die TV-program waarskynlik “al weer versnipper en geredigeer” was om hom in ‘n swak lig te stel. Selfs al sou dit waar wees, kan Bigalke nie daarvoor verkwalik word nie. Dit staan Roodt vry om ‘n klag hieroor by die Uitsaaiklagtekommissie te lê.
Bevinding
Die klag word van die hand gewys.
Appèl
Let asseblief daarop dat ons klagte-prosedure bepaal dat enige party binne sewe dae ná die ontvangs van hierdie beslissing appèl by die Voorsitter van die SA Appèlraad, Regter Ralph Zulman, kan aanteken. Gronde vir die appèl moet duidelik uiteengesit word. Hy kan by khanyim@ombudsman.org.za bereik word.
Johan Retief
Adjunk- Persombudsman