Administrateur van die Tiaan Boshoff Fonds vs. Hermanus Times

Bevinding deur die Persombudsman

3 Februarie 2014

Hierdie bevinding is gebaseer op die skriftelike voorleggings van ‘n administrateur van die Tiaan Boshoff Fonds op Hermanus en die Hermanus Times koerant.

Omdat ‘n saak van diefstal teen hierdie persoon aanhangig gemaak is en sy ten tye van hierdie bevinding nog nie gepleit het nie, gaan ek die naam deurgaans verswyg.

KLAG

Die administrateur kla oor ‘n storie in die Hermanus Times, gepubliseer op 5 Desember 2013 onder die opskrif Tiaan nou ook sy kunsbeen kwyt.

Die klag is dat die:

·         joernalis nie die inligting gebruik het wat sy beskikbaar gestel het nie;

·         koerant haar nie genoeg tyd gegee het om behoorlik kommentaar te lewer nie; en

·         storie feitelik verkeerd is.

DIE STORIE

Die storie, geskryf deur Janine van der Riet, sê dat ‘n saak van diefstal teen ‘n administrateur van die Tiaan Boshoff Fonds by die Hermanus polisie geopen is “nadat Tiaan se kunsbeen, handfiets en tennisrolstoel van hom weggegneem is”. Die kind (14) is sonder ‘n linkerbeen gebore en sy regtervoet is daarna afgesit. ‘n Fonds is gestig waarmee ‘n handfiets, ‘n tennisrolstoel en ‘n prostese vir sy gebruik mettertyd gekoop en/of verkry is.

ONTLEDING

Hoewel die storie nie die administrateur se naam genoem het nie, lei ek uit korrespondensie af dat die klaer die persoon is na wie die artikel verwys. Ek neem in ag dat die gemeenskap relatief klein en die saak in die openbare belang is, en meen dat dit daarom redelik is om aan te neem dat talle lesers die klaer met die storie sou verbind het. Ek aanvaar daarom dat die persoon die reg gehad het om ‘n klag by hierdie kantoor in te dien.

Inligting nie gebruik nie

Die administrateur het dokumente van die Fonds voor die publisering van die storie aan die koerant ge-epos (op 3 Desember om 16:04), waarin dit telkens (reg of verkeerd) uitgespel word dat die betrokke toerusting aan die Fonds behoort. Die klag is dat die koerant hierdie inligting geïgnoreer het. Dieselfde geld vir ooreenkomste wat na bewering nie deur Tiaan se pa nagekom is nie.

Saam met hierdie dokumente kom die volgende boodskap: “Ek stuur solank hierdie dokumente as bewys dat die fiets en prostese aan die Fonds behoort…”

Hier is duidelik ‘n verskil van mening – die storie praat immers van “Tiaan se” kunsbeen, handfiets en tennisrolstoel wat “van hom weggeneem is”. Die koerant was (is) duidelik onder die indruk dat die artikels vir Tiaan se alleen-gebruik bedoel is of aan hom behoort, terwyl die administrateur meen dat dit nie die kind s’n is nie, maar dat dit die eiendom van die Fonds is. Albei kante beroep hulle op dokumentasie – dié wat die administrateur aan die Hermanus Times gestuur het, en die koerant wat na die stigtingsdokument van die Tiaan Basson Fonds verwys.

Let asseblief daarop dat hierdie saak tans voor die hof is. Ek gaan (en kan/mag) daarom nie enige uitspraak lewer oor wie die wettige eienaar van die goedere nie – dit is die hof se taak; ek is ook nie geïnteresseerd in die vraag of die klaer (of die Fonds se administrateurs) dalk met hul optrede gefouteer het nie. Ek gaan my beslis nie op die hof se terrein begewe nie. My enigste belangstelling in hierdie saak is in die vraag of die koerant eties berig het (lees: opgetree het in ooreenstemming met die letter en gees van die Perskode).

My ondersoek lei daarom nou na die inhoud van die dokumente wat die administrateur aan die koerant verskaf het, met die oog daarop om één vraag te beantwoord: Was die inhoud van hierdie dokumentasie van so ‘n aard dat dit wesenlik met die inligting in die berig verskil het (wat publikasie sou noodsaak)?

Die feite hieronder spreek vanself.

Die eerste dokument, wat lyk na ‘n amptelike briefhoof en onderteken is deur twee persone (onder andere die administrateur), is gedateer 17 Julie 2013. Daarin word Tiaan se behandeling beskryf, waarna dit gestel word dat die fisioterapeut sou besluit oor onder meer die “termination of physiotherapy treatment”. Dan kom die volgende: “In November 2013 the Fund will have the option to return the left prosthetic leg to Icexpress if the above schedule was not completed successfully. The Fund will continue to make contributions within reason towards the maintenance of the left prosthetic leg as long as funds are available.”

Daar is ook ‘n sogenaamde “fietsooreenkoms” (gedateer 20 Februarie 2013). Dit lui: “Die Tiaan Boshoff Fonds leen hiermee die rooi handfiets aan Tiaan om mee te oefen vanaf Dinsdag 19 Februarie to (sic) Maandag 25 Februarie om 17h00. Ek, T.J. Boshoff, Ouer van Tiaan Boshoff, onderneem om die fiets terug te besorg by bg adres teen 25/02/2013 in dieselfde toestand waarin ek dit ontvang het.”

Bogenoemde was vir ‘n resies wat in George gehou is.

In nog ‘n dokument, gedateer 12 Maart 2013 en ook onderteken deur die administrateur, word dit gestel dat dit aan mnr. Boshoff duidelik gemaak is dat die Fonds die eienaar van die fiets is.

In ‘n ander dokument (Oktober 2013) word gesê: “Die prostese bly die eiendom van die Fonds tot op 12 maande tot afgeteken deur die Fisioterapeut.”

Die volgende is so belangrik dat ek dit gaan herhaal: My vraag is nie of die administrateur reg is in haar aansprake dat die artikels aan die Fonds en dus nie aan Tiaan kan behoort nie.

Wat wel van belang is, is dat die klaer ‘n ander mening as dié van die koerant oor die eienaarskap van die artikels gehuldig het. Die administrateur het hierdie mening aan die koerant oorgedra, betyds vir publikasie – en ek meen dat die publiek die reg gehad het om oor hierdie kern-aspek ingelig te word.

Die feit dat die koerant nie oor bogenoemde berig het nie, was daarom onbillik en het die potensiaal gehad om die administrateur en die Fonds onnodige skade te berokken.

Daarom vind ek die koerant se verweer op hierdie punt effe vreemd – die Hermanus Times sê hy het nie oor die administrateur se dokumentasie berig nie omdat dit nie die kern van die saak sou geraak het nie. Ek verskil hiermee – as die artikels aan die Fonds sou behoort, kon die mense wat dit administreer tog binne daardie riglyne opgetree het. Dit het met die kern van die saak te make, al was die saak ook breër as net hierdie een aspek.

Ek waardeer dit daarom dat die koerant om verdere opklaring gevra het, en betreur dit dat die administrateur nie haar weg oopgesien het om betyds op vrae te reageer nie (sien my argumentasie hieronder). Dit neem egter nie die verpligting weg wat op die koerant gerus het om te publiseer wat wel beskikbaar was nie omdat dit, ten minste gedeeltelik, met die hart van die saak te doen gehad het.

Te min tyd vir kommentaar

Die administrateur kla dat die koerant hom/haar nie ‘n redelike tyd gegee het om behoorlik te reageer nie. Die klaer verduidelik dat die komitee-lede nie betyds kontakbaar was nie (die een was in die hospitaal met ‘n gebreekte rug en die ander was besig met ‘n sitting en daarna ook onderweg vir chirurgie). Intussen was daar “erge vloedskade” aan die klaer se huis en rekenaar.

Die klaer het die koerant om uitstel gevra, gegee die praktiese probleme waarmee sy te make gehad het.

Hier is die feite:

·         Die koerant kontak die administrateur per epos met ‘n lys van vrae op Maandag, 2 Desember, om 13:54; en

·         Die joernalis stel die spertyd uit tot Dinsdag, 4 Desember, om 16:00.

Gegee bogenoemde, vind ek dit vreemd dat die administrateur nie kans gesien het om op die vrae te reageer nie – die aard en omvang daarvan was nie so ingewikkeld dat dit soveel tyd sou verg om behoorlik daarop te reageer nie. En die saak was immers belangrik?

Tweedens, ‘n koerant is onder geen verpligting om uitstel te verleen nie, veral nie wanneer ‘n berig in die oorweldigende openbare belang is nie (soos in hierdie geval) en die aard van die vrae sodanig was dat sy genoeg tyd gehad het om daarop te reageer.

Die administrateur moet daarom self die skuld dra dat haar kant van die saak nie gepubliseer is nie.

Ek let op dat die:

·         koerant die administrateur daarna weer om kommentaar genader het, maar dat hy/sy onseker was om te reageer omdat die saak nog hangende in hierdie kantoor was; en

·         klaer nie sy/haar naam genoem wil hê in ‘n opvolg-berig nie (wat korrek is, aangesien die persoon nog nie gepleit het nie).

Feite-foute

Die administrateur verduidelik nie presies watter feite-foute in die storie voorkom nie. Ek lei af dat dit hoofsaaklik om die eienaarskap van die artikels gegaan het – ‘n saak waaraan ek reeds aandag gegee het.

BEVINDING

Inligting nie gebruik nie

Hermanus Times het nagelaat om die Fonds se mening oor die eienaarskap van die goedere te publiseer. Dit verbreek die volgende artikels van die Perskode:

·         2.1: “Die pers is verplig om nuus…billik te rapporteer”; en

·         2.2 “Nuus sal binne konteks en op ‘n gebalanseerde manier aangebied word, sonder enige doelbewuste of agtelosige afwyking van die feite hetsy deur…wesenlike weglatings…”

Te min tyd vir kommentaar

Hierdie deel van die klag word van die hand gewys.

Feite-foute

Geen verdere bevinding word hier gemaak nie.

OPTREDE

Hermanus Times word:

·         berispe omdat die koerant nagelaat het om die ander mening oor die eienaarskap van die betrokke artikels weer te gee, soos hierbo uiteengesit;

·         gevra om die administrateur die geleentheid te gee om sy/haar mening te gee in die vorm van ‘n brief aan die redakteur, indien die klaer dit so verkies. In daardie geval moet die inhoud van sodanige brief aan hierdie kantoor voorgelê word vir goedkeuring; en

·         versoek om die onderstaande teks te publiseer.

Begin van teks

Die nasionale persombudsman het Hermanus Times berispe omdat ons nagelaat het om die Tiaan Burger Fonds se mening oor die eienaarskap van sekere sporttoerusting te publiseer.

‘n Administrateur van die Fonds het ‘n klag by die ombudsman ingedien oor ‘n storie wat ons op 5 Desember verlede jaar gepubliseer het onder die opskrif Tiaan nou ook sy kunsbeen kwyt.

Die storie, geskryf deur Janine van der Riet, sê dat ‘n saak van diefstal teen die administrateur by die Hermanus polisie geopen is “nadat Tiaan se kunsbeen, handfiets en tennisrolstoel van hom weggegneem is”. Die kind (14) is sonder ‘n linkerbeen gebore en sy regtervoet is daarna afgesit. ‘n Fonds is gestig waarna ‘n handfiets, ‘n tennisrolstoel en ‘n prostese vir sy gebruik mettertyd gekoop en/of verkry is.

Die persoon se naam word nie genoem nie omdat hy/sy nog nie in die hof gepleit het nie.

Die klag was dat die joernalis nie die inligting gebruik het wat beskikbaar gestel is nie (waarin gesê word – reg of verkeerd – dat die toerusting aan die Fonds behoort, en nie aan Tiaan nie), dat die koerant die klaer nie genoeg tyd gegee het om behoorlik kommentaar te lewer nie, en dat die storie feitelik verkeerd is.

Die ombudsman, Johan Retief, het gesê dat die saak tans voor die hof is. “Ek gaan (en kan/mag) daarom nie enige uitspraak lewer oor wie die wettige eienaar van die goedere nie – dit is die hof se taak; ek is ook nie geïnteresseerd in die vraag of die administrateur (of die Fonds se administrateurs) dalk met hul optrede gefouteer het nie. Ek gaan my beslis nie op die hof se terrein begewe nie.

“My enigste belangstelling in hierdie saak is in die vraag of die koerant eties berig het (lees: opgetree het in ooreenstemming met die letter en gees van die Perskode).”

Hy het beklemtoon dat daar ‘n ander mening was as ons s’n oor die eienaarskap van die artikels. Die administrateur het hierdie ander mening aan ons oorgedra, betyds vir publikasie – en die publiek het die reg gehad om oor hierdie kern-aspek ingelig te word.

“Die feit dat die koerant nie oor bogenoemde berig het nie, was daarom onbillik en het die potensiaal gehad om die administrateur en die Fonds onnodige skade te berokken.”

Retief het dit egter betreur dat die klaer nie sy/haar weg oopgesien het om betyds op verdere vrae te reageer nie.

Hy het ook vir ons versoek om die klaer die geleentheid te gee om sy/haar mening te gee in die vorm van ‘n brief aan die redakteur (indien so verkies).

Besoek www.presscouncil.org.za vir die volledige bevinding.

Einde van teks

AANSOEK OM VERLOF TOT APPèL

Ons klagte-prosedure bepaal dat enige party binne sewe werksdae ná die ontvangs van hierdie beslissing aansoek om appèl by die Voorsitter van die Appèlkomitee, regter Bernard Ngoepe, kan aanteken. Gronde vir die appèl moet duidelik uiteengesit word. Hy kan by khanyim@ombudsman.org.za bereik word.

Johan Retief

Persombudsman