Skip to main content

Boland Rugbyunie vs Son


Mon, Jun 8, 2020

Besonderhede

Verwysingsnommer: 7811

Klaer: Boland Rugbyunie

Ingedien deur: Ivan Pekeur, president van die unie

Datum van publikasie: 13 Maart 2020

Opskrif: ‘Spioene’ in Boland

Aanlyn: Ja

Outeur van storie: Francois de Wet

Respondente: Neil Scott en Francois de Wet.

  1. Klag

1.1 Boland Rugbyunie (BRU) kla dat die volgende stellings in die storie  feitelik verkeerd is (en vra bewyse daarvoor):

  • “Henfre Brand, Gerald Jacobs, Mark Abrahams en Hermanus Oktober is na bewering geviktimiseer en onbillik behandel”;
  • “Pekeur is onder druk om die BRU se finansiële verslae by die klubs in te dien”; en
  • “Luidens die brief gaan Pekeur die finansiële state op die BRU se volgende vergadering aanbied”.

1.2 BRU kla ook dat Son geen poging aangewend het om die korrektheid van die feite met dié unie te verifieer nie.

1.3 Pekeur sê dié verslaggewing is skadelik vir BRU se beeld en belemmer sy kanse om borge te bekom. Hy vra vir ‘n regstelling en ‘n verskoning.

1.4 Die artikels in die Perskode waaroor gekla word, is:

  • 1.1: “Die media moet sorg dra om waarheidsgetrou, akkuraat en billik oor nuus verslag te doen;
  • 1.2: “Die media moet nuus binne konteks en op ’n gebalanseerde manier aanbied, sonder enige doelbewuste of nalatige afwyking van die feite, hetsy deur verdraaiing, oordrywing, wanvoorstelling, wesenlike weglating of opsomming;”
  • 1.3: “Die media moet slegs as feit aanbied dit wat redelikerwys waar kan wees; menings, bewerings, gerugte of vermoedens sal duidelik as sodanig aangebied word;
  • 1.7: “Die media moet die akkuraatheid van twyfelagtige inligting verifieer, indien moontlik; indien nie, moet dit so gestel word;
  • 1.8: “Die media moet, waar moontlik, die mening van die persoon oor wie krities verslag gedoen word vóór publikasie bekom… So ’n persoon moet ’n redelike tyd gegun word om te reageer; indien nie in staat om kommentaar te kry nie, moet dit so gestel word”; en
  • 3.3: “Die media moet sorg en omsigtigheid aan die dag lê in sake rakende waardigheid en reputasie.”
  1. Die storie

Die storie gaan hoofsaaklik oor ‘n bewering van Pekeur in die sosiale media dat daar ‘n “klomp spioene” is wat inligting met die media deel om hom en sy bestuur in ‘n swak lig te stel.

  1. Die argumente

3.1 Geviktimiseer, onbillik behandel

3.1.1 Die BRU kla dat die volgende sin in die storie foutief was – en vra vir bewyse daarvoor: “Henfre Brand, Gerald Jacobs, Mark Abrahams en Hermanus Oktober is na bewering geviktimiseer en onbillik behandel.”

3.1.2 De Wet sê hy het dit nie as ‘n feit gestel nie – dit was ‘n uittreksel uit Rapport se berig van 8 Maart 2020. Hy voeg by dat die klaer dalk gerieflikheidshalwe nagelaat het om te noem dat hy ook berig het: “’n Sondagkoerant het boonop berig vier stadionwerkers het bedank” (wat die sin in dispuut voorafgegaan het).

Ontleding

3.1.3 Die sin in dispuut is uit ‘n media-etiese oogpunt in orde – maar ongelukkig om die verkeerde redes. Ek probeer verduidelik:

3.1.4 Volgens Son se eie getuienis is sy berig op dié van Rapport geskoei.

3.1.5 Pekeur het oor daardie berig ook gekla. My bevinding was in die koerant se guns, hoofsaaklik omdat die:

  • joernalis sy inligting bekom het uit ‘n amptelike dokument, naamlik ‘n klag teen die BRU by die Kommissie vir Bemiddeling, Versoening en Arbitrasie (KBVA);
  • verslaggewer die inligting as ‘n bewering, en nie as ‘n feit nie, aangebied het; en
  • die saak in die openbare belang was.

3.1.6 De Wet publiseer dieselfde bewering – en omdat Rapport se beriggewing billik, regverdig en akkuraat was, was dit ook so met Son se berig.

3.1.7 Dit kon egter so anders gewees het!

3.1.8 Daar is geen aanduiding dat De Wet die moeite gedoen het om Rapport se berig onafhanklik te verifieer deur self insae in die KBVA-klag te verkry nie. (As hy dit wel gedoen het, het Son nie die moeite gedoen om dit so in sy reaksie op die BRU-klag aan te toon nie.)

3.1.9 Dit is ‘n gevaarlike praktyk. Wanneer ‘n koerant ‘n ander publikasie as sy bron van inligting gebruik, beteken dit nie net sy bron is sekondêr nie, maar hy stel homself ook bloot aan onetiese beriggewing. As Rapport se berig, argumentshalwe, lasterlik was, sou ‘n herhaling daarvan in Son immers ook lasterlik gewees het.

3.1.10 Dit beteken nie dat ‘n koerant nie mag berig oor wat ‘n ander geskryf het nie – maar dan moet dit so duidelik gestel word. Son het dit wel in die sin gedoen wat onmiddellik aan die een in dispuut voorafgegaan het, soos deur De Wet aangevoer. Ongelukkig is daar egter ‘n tussenkop tussen daardie twee sinne, wat dit bemoeilik het om die sin in dispuut met die verwysing van die Sondagkoerant te verbind.

3.1.11 Pekeur se versoek dat die koerant bewyse vir die stellings in dispuut moet bring, is nie redelik nie. As die berig dit as ‘n feit gestel het, was dit ‘n ander saak. ‘n Koerant kan nie regter-regter speel oor bewerings wat sy bronne maak nie. Terloops, dieselfde geld vir die kantoor van die persombud.

3.1.12 Ek kom terug by my eerste sin hierbo: “Die sin in dispuut is uit ‘n media-etiese oogpunt in orde…” – want ‘n ander koerant het sy werk behoorlik gedoen; “…maar ongelukkig om die verkeerde redes” – want Son het bloot op Rapport se berig gesteun, sonder om die inhoud daarvan behoorlik te verifieer.

3.1.13 Gelukkig vir Son was Rapport se berig verantwoordelik – en daarom was daar ook nie fout met Son s’n nie. In die toekoms, egter, moet Son versigtiger wees. As Rapport verkeerd berig het, sou Son bloot daardie verkeerde beriggewing voortgesit het.

3.1.14 Onafhanklike verifiëring is en bly noodsaaklik!

3.2 Finansiële state

3.2.1 Die storie sê: “Pekeur is onder druk om die BRU se finansiële verslae by die klubs in te dien… Luidens die brief (Pekeur s’n) gaan Pekeur die finansiële state op die BRU se volgende vergadering aanbied”.

3.2.2 Pekeur betwis dié stellings. Hy sê die unie se president lê nie finansiële state aan die unie op sy Algemene Jaarvergadering voor nie – dít is die taak van die ouditeure (PriceWaterhouseCoopers, PWC).

3.2.3 De Wet sê hy het jare van ondervinding van rugbyunies se jaarvergaderings – en hy weet dis aanvaarde praktyk dat ‘n unie sy finansiële state aan klubs voorlê, aangesien klubs die aandeelhouers in ‘n rugbyunie is en hulle wil weet hoe die unie se geld bestee word.

3.2.4 Hy sê hy vind daarom Pekeur se verduideliking dat finansiële state net aan ouditeurs gewys word “snaaks”, aangesien die aandeelhouers (die klubs) nie daarna kan kyk nie. 

3.2.5 Hy voeg by die bestuur van verskeie klubs (wat uit vrees vir viktimisasie anoniem wil bly) het aan hom bevestig dat hulle die finansiële state versoek, aangesien daar uit verskeie oorde beskuldigings na die BRU gegooi is oor sy finansiële situasie. 

3.2.6 Boonop, sluit hy af, het Pekeur self in sy brief aan klubs op die BRU se Facebook-blad geskryf dat die volle waarheid op ‘n volgende vergadering saam met die unie se bestuur en klubs verskaf sal word. 

3.2.7 Op ‘n (geldige) navraag van die waarnemende Openbare Advokaat, Fanie Groenewald, dat Son dalk die saak oor die lewering van finansiële state misverstaan het, hou De Wet by sy standpunt. Hy sê: “Mnr. Pekeur is dan meer as welkom om ‘n onderhoud met Son vas te maak om te verduidelik hoekom hy voel die ouditeur gee die finansiële verslae aan klubs by die AJV. Boland het ‘n AJV in Februarie gehad - geen finansiele verslae was verskaf nie. Dit is al in ander publikasies berig. Mnr. Pekeur het self in sy brief aangedui hy was nie by daai AJV nie. Daar was volgens my inligting ook geen PWC verteenwoordiger teenwoordig by die AJV nie.”

3.2.8 In reaksie hierop, bevestig Pekeur dat PWC self die finansiële verslag op die unie se jaarvergadering hanteer.

Ontleding

3.2.9 Pekeur se brief oor hierdie saak lui soos volg (waarop die berig geskoei is): “Die finansiële verslag sal by die vlg vergadering gereed wees en dan kan julle self oordeel.”

3.2.10 Dit sê nie dat Pekeur die verslag gaan “indien” of “aanbied” nie, soos deur De Wet berig; dit verwys egter ook nie na PWC nie.

3.2.11 Die kruks van hierdie kwessie lê by die woorde “indien” en “aanbied”. Natuurlik sou Pekeur nie self die verslag voorberei het nie. Dit was immers PWC se taak – en ek meen dat lesers dit só sou verstaan het.

3.2.12 As president van die unie sou hy egter wel die verslag aan die orde moes stel. In dié konteks gesien, kan die gebruik van die woorde “indien” en “aanbied” geregverdig word.

3.2.13 Hierdie is egter ‘n much-ado-about-nothing-saak. Die kern van die kwessie is immers nie wie die verslag gaan voorlê nie, maar dat dit voorgelê gaan word.

3.2.14 Wat die deurslag gee, is dat die gebruik van die woorde “indien” en “aanbied” nie Pekeur op enige manier kon benadeel nie. Lesers sou immers weet dat hy nie verantwoordelik was om dit op te stel nie.

  1. Nie om kommentaar gevra

3.3.1 Die BRU kla dat Son geen poging aangewend het om die korrektheid van die feite met dié unie uit te klaar nie.

3.3.2 De Wet sê Son het voorheen verskeie kere kommentaar van die unie probeer bekom. Hy sê hy het ook betroubaar van klubs in die unie verneem dat Son se verslaggewers nie welkom is by BRU-geleenthede nie. Hy voeg by dat Shafiek Mouton onlangs toegang tot die Boland-stadion se media-losie geweier is.

3.3.3 Hy meen Son kan “stappe” teen die BRU neem omdat dié unie “op Son se regte van persvryheid … trap.”

Ontleding

3.3.4 De Wet ontken nie dat hy nie probeer het om sy inligting met die unie te verifieer nie; inteendeel, hy verontskuldig hom deur aan te voer dat die BRU op verskeie maniere Son se reg tot persvryheid vertrap.

3.3.5 Ek vermoed sterk dat Pekeur nie geneë is of was om met sommige media, Son ingesluit, te praat nie. Ek beskou dit as versagtende omstandighede. Aan die ander kant, egter, is en bly die onus op die media om hul kant skoon te hou deur ten minste te probeer om kommentaar te kry. Art. 1.8 van die Perskode is immers glashelder oor dié saak.

  1. Bevinding

4.1 Die feit dat die koerant nie kommentaar by die BRU gekry het nie, verbreek Art. 1.8 van die Perskode wat sê die media moet, “waar moontlik, die mening van die persoon oor wie krities verslag gedoen word vóór publikasie bekom, tensy hulle verhinder kan word om verslag te doen, of getuienis vernietig kan word, of bronne geïntimideer kan word. So ’n persoon moet ’n redelike tyd gegun word om te reageer; indien nie in staat om kommentaar te kry nie, moet dit so gestel word.”

  1. Die res van die klag word van die hand gewys.
  1. Erns van die verbreking van die Perskode                                              

5.1 Onder die hofie Hierarchy of sanctions, Section 8 van die Klagte-prosedure onderskei die Persraad tussen geringe oortredings (vlak 1, wat nie die kern van die storie beïnvloed nie), ernstige oortredings (vlak 2) en ernstige wangedrag (vlak 3).

  1. Die verbreking van Art. 1.8 van die Perskode is in hierdie geval ‘n vlak 2-oortreding.
  1. Optrede

6.1 Son word berispe omdat die koerant nie die BRU om kommentaar gevra het nie. Gegee die “versagtende omstandighede” hierbo vermeld, word die koerant nie gevra om verskoning aan te teken nie. Die koerant word wel gevra om hierdie berisping op dieselfde bladsy te publiseer as waarop die oorspronklike berig verskyn het, asook op ‘n toepaslike plek op sy webtuiste.

  1. Die teks moet:
  • by die eerste geleentheid gepubliseer word nadat die tydperk van ‘n appèl verloop het;
  • verwys na die klag wat by hierdie kantoor ingedien is;
  • eindig met die sin, “Besoek www.presscouncil.org.za vir die volledige bevinding”;
  • gepubliseer word saam met die Persraad se logo (aangehak); en
  • deur die publikasie voorberei en aan my voorgelê word vir goedkeuring.

Appèl

Die klaer kan binne sewe dae ná ontvangs van hierdie bevinding aansoek om appèl doen. Rig sodanige skrywe aan die voorsitter van die Appèlkomitee, regter Bernard Ngoepe, en sit die gronde daarvan volledig uit. Hy kan by Khanyim@ombudsman.org.za gekontak word.

Johan Retief

Waarnemende Assistent-persombud