Yolande Maritz vs.Volksblad

Bevinding deur die Persombud

1 Julie 2016

Hierdie bevinding is gebaseer op die skrywes van mnr. Willie Botha, as prokureur in opdrag van me. Yolandé Maritz, en dié van Gert Coetzee, redakteur van die Volksblad.

Maritz kla oor vier stories in Volksblad wat op 28 Maart 2016 onder die volgende opskrifte gepubliseer is:

·         Storm om vroedvrou van Bfn los – Klagtes ná watergeboortes;

·         As ? watergeboorte skeefloop – Twee ma’s vertel van hartseer-gevolge vir hul babas;

·         Verpleegstersraad gaan ondersoek instel; en

·         Vroedvrou sê sy huil saam met ma.

Klag

Maritz kla dat die:

·         joernalis nie haar kommentaar gevra het nie – oor ? aantyging dat ? oorlede baba breinskade opgedoen het gedurende ? bevalling waarby sy betrokke was;

·         storie verkeerdelik:

o   berig het dat die oorlede baba ? watergeboorte gehad het;

o   ? beskuldiging van nalatigheid teen haar gemaak het; en

o   berig het dat ? klag teen haar by die Verpleegstersraad ingedien is.

Sy beweer ook die verslaggewer het nagelaat om te berig sy het aanbeveel dat die baba na Universitas Hospitaal oorgeplaas word – sy sê die pa het daarop aangedring dat sy kind eerder na Rosebank Hospitaal geneem word. “Etlike ure het dus verlore gegaan met die nuwe reëlings…”

Maritz bevraagteken verder die bestaan van die mediese “verslag” wat breinskade sou vermeld het.

Sy sê die berigte het “oneindige skade” aan haar praktyk aangerig, en meld dat “dreigbriewe” by haar huis afgelewer is.

Die teks

Die hoofstorie, geskryf deur Marietjie Gericke, sê die SuidAfrikaanse Verpleegstersraad gaan bewerings van nalatigheid ondersoek teen Maritz, ? Bloemfonteinse vroedvrou, nadat ? baba ná geboorte dood is en ? ander breinskade opgedoen het.

Die argumente

Maritz sê die baba is op ? bed gebore (nie in water nie) en het geen fetale nood gedurende of ná geboorte getoon nie.

Sy het aanbeveel dat die baba na Universitas Hospitaal oorgeplaas word, maar die pa het daarop aangedring dat sy kind eerder na Rosebank Hospitaal geneem word. “Etlike ure het dus verlore gegaan met die nuwe reëlings maar interessant, dit maak glad nie deel uit van enige artikel nie.”

Sy het toe die baba en die ma na Netcare se eenheid vir intensiewe sorg (NICU) vervoer “omdat ambulanse soms te lank neem” en ekstra koste meebring.

Selfs nadat die pediater daar oorgeneem het, het die baba geen suurstofnood ervaar nie.

Die kind het sy eerste epileptiese aanval in NICU gehad. Nadat sy die ma daaroor ingelig het, het laasgenoemde haar man geslaan en gesê dis sy skuld omdat hy (die pa) ? epilepsielyer is.

Toe sy die ma gevra het waarom sy nooit tydens konsultasies gesê het haar man ly aan epilepsie nie, het sy geantwoord dat sy “bang was ek verwys haar staat toe en sy wil nie daar kraam nie”.

Maritz sê sy het by die ma gebly tot laasgenoemde vir ? keisersnit by die teater ingestoot is.

Ná ongeveer vier ure is die baba na Rosebank Hospitaal oorgeplaas.

Maritz het die ma die volgende oggend besoek en met die pediater gepraat, wat haar vertel het dat hy die baba ? bietjie suurstof gegee het en dat alles toe in orde was.

Die baba is twaalf dae later oorlede.

Maritz sê sy het Volksblad skriftelik gevra om die verslae of mediese inligting aan haar bekend te maak – maar die koerant het geweier om dit te doen. Sy beweer die “verslag” wat Volksblad aan my kantoor beskikbaar gestel het, bevat slegs die bevindings van ? radioloog, wat boonop nie tot enige gevolgtrekking gekom het nie.

Volgens haar het twee plaaslike dokters gesê daar was geen moontlikheid van breinskade nie.

Coetzee sê die koerant het die volle storie, insluitende die aantyging van breinskade, voor publikasie aan Maritz voorgelê. Die verslaggewer het ook sowat drie ure lank met die vroedvrou gepraat.

Die redakteur voeg by dat Maritz die hele storie, insluitende die aantyging van breinskade, op haar eie Facebook-blad van 23 Maart gepubliseer het – nog voordat Volksblad die storie gepubliseer het. Volgens hom het die koerant die voorlopige berig aan haar gestuur sodat sy daarna kon kyk en besluit of sy verder kommentaar wou lewer.

Ontleding

Maritz se eerste klag is dat die joernalis nie haar kommentaar gevra het oor die aantyging dat die oorlede baba breinskade opgedoen het nie.

Dis onwaar – Volksblad het ? voorlopige storie aan haar gestuur vir haar kommentaar (die een wat sy of haar Facebook-blad geplaas het nog voordat Volksblad die storie gepubliseer het). Die inleidende sin van daardie berig vermeld reeds breinskade.

Hoe Maritz dus hierdie deel van haar klag regverdig, is duister.

Tweedens, die stories sê nie dat die baba in water gebore is nie; inteendeel, dit vertel hoe die ma op ? bed gekraam het. Volgens die ma was sy wel vroeër in water – ? stelling wat Maritz nie betwis nie.

Die klag dat die joernalis verkeerdelik berig het dat die oorlede baba ? watergeboorte gehad het, kan dus ook nie slaag nie.

Dieselfde geld vir die aantyging van nalatigheid. Dié stelling word nie deur Volksblad gemaak nie, maar deur die ma. Laasgenoemde het die volste reg op haar mening gehad, al was sy ook verkeerd – en die koerant het eweneens die volste reg gehad om haar mening te plaas.

Die stelling van “nalatigheid” was presies dit – dit is as ? mening gestel, nie as ? feit nie.

Ek stem saam dit sou beter gewees het as die storie vertel het dat tyd verlore gegaan het nadat sy aanbeveel het dat die baba na Universitas Hospitaal oorgeplaas word. Weens die feit dat die baba eers twaalf dae later dood is, ag ek hierdie paar ure, wat die beriggewing betref, nie as van wesenlike belang nie.

Oor die mediese “verslag” wat breinskade sou vermeld het, kan ek my nie uitspreek nie. Wat wel belangrik is, is om daarop te let dat die storie dit nie as ? feit stel nie – Gericke het dit duidelik gestel dit was die ouers wat gesê het dokters het hulle sodanig ingelig.

Die feit dat Maritz nie geweet het dat ? klag teen haar by die Verpleegstersraad ingedien is nie, soos die hoofstorie beweer, dien natuurlik nie as ? bewys dat geen sodanige klag bestaan het nie. Daar is immers ? moontlikheid dat sy in daardie stadium nog nie van die klag verwittig is nie.

Ek het geen rede om die stelling oor ? klag by daardie raad te betwyfel nie.

Bevinding

Die klag word van die hand gewys.

Appèl

Ons Klagte-prosedure bepaal dat enige party binne sewe dae ná hierdie bevinding uitgestuur is, aansoek om appèl kan doen by die voorsitter van die SA Pers-Appèlraad, Regter Bernard Ngoepe. In daardie geval moet die gronde vir die aansoek volledig uiteengesit word. Hy kan by Khanyim@ombudsman.org.za bereik word.

Johan Retief

Persombud