PCSA Press Code 2019 – Afrikaans Version

Die Perskode vir Etiek en Gedrag vir die Suid-Afrikaanse druk- en aanlynmedia 

Die Persraad van Suid-Afrika en die Interaktiewe Advertensieburo van Suid-Afrika aanvaar die volgende kode vir druk- en aanlyn-media (saam verwys na as “die media”).

VOORWOORD

Die media bestaan om die gemeenskap te dien. Hul vryheid sorg vir die onafhanklike en noukeurige ondersoek van die magte wat die gemeenskap vorm en is noodsaaklik om die belofte van demokrasie te verwesenlik. Dit stel burgers in staat om ingeligte oordele oor sake van die dag te vorm, ’n sentrale rol wat in die Suid-Afrikaanse Grondwet erken word.

Artikel 16 van die Handves van Regte bepaal:

  1. Elkeen het die reg op vryheid van uitdrukking, waarby inbegrepe is:
  2. a) die vryheid van die pers en ander media;
  3. b) die vryheid om inligting of idees te ontvang of oor te dra;
  4. c) die vryheid van artistieke kreatiwiteit; en
  5. d) akademiese vryheid en vryheid van wetenskaplike navorsing.

 

  1. Die reg in subartikel (1) omvat nie:
  2. a) propaganda vir oorlog nie;
  3. b) die aanstigting van dreigende geweld nie; of
  4. c) die verkondiging van haat wat op ras, etnisiteit, geslagtelikheid of godsdiens gebaseer is en wat aanhitsing om leed te veroorsaak, uitmaak nie.

Die media streef daarna om hierdie regte vir die land se burgers in trust te hou; en hulle is onderworpe aan dieselfde regte en pligte as individue. Dit is elkeen se plig om hierdie regte te verdedig en te bevorder, met erkenning aan die stryd waaruit dit ontstaan het: die media, die publiek en die regering, almal wat gesamentlik die demokratiese staat vorm.

Die media se werk word ten alle tye deur die openbare belang gerig waaronder verstaan word inligting van legitieme belang of waarde vir burgers.

As joernaliste verbind ons onsself aan die hoogste standaarde, om geloofwaardigheid te handhaaf en om die vertroue van die publiek te behou. Dit beteken dat ons altyd na waarheid streef, onnodige skade probeer vermy, ’n verskeidenheid van menings in ons beriggewing reflekteer, spesiale sorg vir kinders en ander kwesbare groepe toon, sensitiwiteit vir die kulturele sedes van lesers en vir persone  oor wie berig word, openbaar en om onafhanklik op te tree.

Hoofstuk 1: MEDIA-GEGENEREERDE INHOUD EN AKTIWITEITE

1. Insameling en rapportering van nuus

Die media moet:

1.1 sorg dra om waarheidsgetrou, akkuraat en billik oor nuus verslag te doen;

1.2 nuus binne konteks en op ’n gebalanseerde manier aanbied, sonder enige doelbewuste of nalatige afwyking van die feite, hetsy deur verdraaiing, oordrywing, wanvoorstelling, wesenlike weglating of opsomming;

1.3 slegs as feit aanbied dit wat redelikerwys waar kan wees; menings, bewerings, gerugte of vermoedens sal duidelik as sodanig aangebied word;

1.4 nuus wettig, eerlik en billik bekom, tensy openbare belang dit anders vereis;

1.5 persoonlike inligting slegs vir joernalistieke doeleindes aanwend;

1.6 hulleself as sodanig identifiseer, tensy openbare belang of hul veiligheid dit anders vereis;

1.7 die akkuraatheid van twyfelagtige inligting verifieer, indien moontlik; indien nie, moet dit so gestel word;

1.8 waar moontlik, die mening van die persoon oor wie krities verslag gedoen word vóór publikasie bekom, tensy hulle verhinder kan word om verslag te doen, of getuienis vernietig kan word, of bronne geïntimideer kan word. So ’n persoon moet ’n redelike tyd gegun word om te reageer; indien nie in staat om kommentaar te kry nie, moet dit so gestel word;

1.9 vermeld wanneer ’n artikel op beperkte inligting gebaseer is en dit aanvul wanneer nuwe inligting vorendag kom;

1.10 vergoed vir die plasing van onakkurate inligting of kommentaar deur dadelik en met gepaste prominensie ’n herroeping, regstelling, verduideliking of verskoning te publiseer;

1.11 prominent aandui wanneer ’n aanlyn-artikel aangepas is of ’n verskoning of herroeping gepubliseer is en dit aan daardie teks skakel, terwyl die oorspronklike artikel behou kan word;

1.12 nie verplig wees om enige artikel te verwyder wat nie onregmatig lasterlik is nie; en

1.13 nie plagiaat pleeg nie.

2. Onafhanklikheid en Botsende Belange

Die media moet:

2.1 nie toelaat dat kommersiële, politieke, persoonlike of ander nie-professionele oorwegings verslaggewing beïnvloed nie en sal belange-botsings sowel as praktyke vermy wat lesers aan die media se onafhanklikheid en professionaliteit kan laat twyfel;

2.2 nie enige voordeel ontvang wat verslaggewing kan beïnvloed nie;

2.3 duidelik aandui wanneer ’n buite-organisasie tot die koste van nuusinsameling bygedra het; en

2.4 redaksionele inhoud duidelik van advertensies en geborgde geleenthede onderskei.

 3. Privaatheid, Waardigheid en Reputasie

Die media moet:

3.1 sorg en omsigtigheid aan die dag lê in sake rakende die private lewe van individue. Die reg tot privaatheid kan ondergeskik aan openbare belang gestel word;

3.2 spesiale waarde heg aan Suid-Afrikaanse kulturele sedes rakende die beskerming van privaatheid en waardigheid van diegene wat in rou is en hul respek vir oorledenes, asook rakende kinders, bejaardes en fisiese en geestelike gestremdes;

3.3 sorg en omsigtigheid aan die dag lê in sake rakende waardigheid en reputasie, wat slegs ondergeskik gestel kan word indien dit in die openbare belang is en:

3.3.1. die feite wat gerapporteer is waar, of redelikerwys waar is; of

3.3.2. die verslaggewing neerkom op beskermde kommentaar, gebaseer op feite waarna behoorlik verwys is en wat waar of redelikerwys waar is; of

3.3.3. die verslaggewing neerkom op ’n billike en akkurate verslag oor verrigtinge in ’n hof, die Parlement of enige kwasi-geregtelike tribunaal of forum; of

3.3.4. dit redelik was om die inligting te kommunikeer omdat dit voorberei is in ooreenstemming met aanvaarbare beginsels van joernalistieke gedrag; of

3.3.5. die artikel was, of het deel gevorm van, ’n akkurate en onpartydige verslag oor ’n geskil waarin die klaer ’n party was;

3.4 nie oorlewendes van verkragting of van seksuele geweld, wat seksuele intimidasie en teistering* insluit, identifiseer, of mense se MIV-/vigsstatus bekendmaak sonder hul toestemming nie en in die geval van kinders, van hul wettige voog of ’n soortgelyke verantwoordelike volwassene sowel as van die kind (met inagneming van die fase van ontwikkeling waarin die kind hom of haar bevind) en ’n openbare belang duidelik is, en dit in die beste belang van die kind is.

* Die Wêreldgesondheidsorganisasie definieer seksuele geweld onder meer soos volg: “Seksuele geweld sluit optrede in wat wissel van verbale teistering tot gedwonge penetrasie en verskeie vorms van dwang wat wissel van sosiale druk en intimidasie tot fisieke geweld…”

 4. Die Beskerming van Persoonlike Inligting*

Die media moet:

4.1 redelike stappe neem om te verseker dat persoonlike inligting in hul besit teen misbruik, verlies en ongemagtigde toegang beskerm is;

4.2 verseker dat persoonlike inligting wat hulle versamel akkuraat, redelikerwys volledig en op datum is;

4.3 stappe neem om die akkuraatheid van hul inligting te verifieer en, indien nodig, dit wysig wanneer ’n persoon ’n regstelling oor sy of haar persoonlike inligting versoek;

4.4 slegs genoegsame persoonlike inligting openbaar om die persoon oor wie verslag gedoen word te identifiseer omdat sommige inligting, soos adresse, ander in staat mag stel om inbreuk op hul privaatheid en veiligheid te kan maak; en

4.5 die betrokke persoon of persone inlig en redelike stappe neem om enige skadelike gevolge te beperk wanneer daar redelikerwys vermoed word dat ’n ongemagtigde persoon toegang tot persoonlike inligting deur die media gehou, kon verkry het.

*  “Persoonlike inligting” word soos volg in Artikel 1 van die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting Wet 4 van 2013 gedefinieer: “Persoonlike inligting” aangaande ’n identifiseerbare, lewendige, natuurlike persoon, en waar van toepassing, ’n identifiseerbare, bestaande regspersoon, met inbegrip van, maar nie beperk nie tot (a) inligting met betrekking tot die ras, geslagtelikheid, geslag, swangerskap, huwelikstaat, nasionale, etniese of sosiale herkoms, kleur, seksuele oriëntering, ouderdom, fisiese of geestelike gesondheid, welsyn, gestremdheid, godsdiens, gewete, oortuiging, kultuur, taal en geboorte van die persoon; (b) inligting met betrekking tot die opvoeding of die mediese, finansiële, kriminele of werksgeskiedenis van die persoon; (c) enige identifiserende nommer, simbool, e-posadres, fisiese adres, telefoonnommer, inligting met betrekking tot ligging, aanlyn identifiseerder of ander bepaalde toewysing aan die persoon; (d) die biometriese inligting van die persoon; (e) die persoonlike menings, sieninge of voorkeure van die persoon; (f) korrespondensie gestuur deur die persoon wat vanselfsprekend of uitdruklik van ’n private of vertroulike aard is of verdere korrespondensie wat die inhoud van die oorspronklike korrespondensie aan die lig sal bring; (g) die sieninge of menings van ’n ander persoon met betrekking tot die persoon; en (h) die naam van die persoon waar dit verskyn met ander persoonlike inligting met betrekking tot die persoon of waar die bekendmaking van die naam op sigself inligting oor die persoon aan die lig sal bring.

5. Diskriminasie en Haatspraak

Die media moet:

5.1. diskriminerende of verkleinerende verwysings na mense se ras, geslagtelikheid, geslag, swangerskap, huwelikstatus, etniese of sosiale herkoms, kleur, seksuele oriëntasie, ouderdom, gestremdheid, godsdiens, gewete, geloof, kultuur, taal en geboorte, of enige ander status vermy en nie daarna op ’n bevooroordeelde of neerhalende manier verwys nie – en moet slegs na bogenoemde verwys wanneer dit streng relevant is tot die saak waaroor berig word en in die openbare belang is; en

5.2 hul reg en plig om verslag te doen oor en kommentaar te lewer op alle sake van legitieme openbare belang balanseer met die verpligting om nie materiaal te publiseer nie wat neerkom op propaganda vir oorlog, die aanstigting van dreigende geweld, of haatspraak – dit is, die verkondiging van haat wat op ras, etnisiteit, geslagtelikheid of godsdiens gebaseer is en wat aanhitsing om leed te veroorsaak, uitmaak.

6. Bepleiting

Die media mag hul eie menings oor omstrede onderwerpe sterk bepleit, mits hulle duidelik onderskei tussen feit en mening en nie relevante feite wanvoorstel, weerhou of verdraai nie.

 7. Beskermde Inhoud

7.1 Die media is daarop geregtig om kommentaar en kritiek te lewer op enige optrede of saak wat in die openbare belang is; en

7.2 kommentaar of kritiek word beskerm, selfs al is dit ekstreem, onregverdig, ongebalanseerd, oordrewe en bevooroordeeld, solank dit nie kwaadwillig is nie, op ’n saak in openbare belang is, billike rekenskap gee van alle wesenlike feite wat waar of redelikerwys waar is, en op so ’n manier aangebied word dat dit duidelik kommentaar blyk te wees.

8. Kinders

In die gees van Artikel 28.2 van die Handves van Regte* moet die media:

8.1 buitengewoon sorgsaam en omsigtig te werk gaan wanneer oor kinders* berig word. As daar enige moontlikheid bestaan dat verslaggewing skade van enige aard aan ’n kind kan berokken, moet hy/sy nie ’n onderhoud mee gevoer word, gefotografeer of geïdentifiseer word nie sonder die toestemming van ’n wettige voog of ’n soortgelyke verantwoordelike volwassene en van die kind (met inagneming van die fase van ontwikkeling waarin die kind hom of haar bevind) en ’n openbare belang duidelik is;

8.2 nie kinderpornografie* publiseer nie; en

8.3 nie kinders identifiseer wat slagoffers van mishandeling of uitbuiting is nie, of wat aangekla is van of skuldig bevind is aan ’n misdaad nie, sonder die toestemming van ’n wettige voog of ’n soortgelyke verantwoordelike volwassene en van die kind (met inagneming van die fase van ontwikkeling waarin die kind hom of haar bevind),’n openbare belang duidelik is en dit in die kind se beste belang is.

* Artikel 28.2 van die Handves van Regte in die Suid-Afrikaanse Grondwet sê: “ʼn Kind se beste belang is van deurslaggewende belang in elke aangeleentheid wat die kind raak.”

*  ’n “Kind” is ’n persoon wat jonger as 18 jaar is.

* Kinderpornografie word in die Wet op Film and Publikasies gedefinieer as: “Enige beeld, ongeag hoe dit geskep is, of enige beskrywing van ’n persoon, werklik of nageboots, wat onder die ouderdom van 18 jaar is, of wat sodanig uitgebeeld, voorgestel of beskryf word, of wat voorgegee word sodanig te lyk of blyk te wees, en wat – (a) besig is met seksuele gedrag; (b) deelneem aan, of ’n ander persoon help om deel te neem aan, seksuele gedrag; of (c) die liggaam, of dele van die liggaam, van sodanige persoon vertoon of beskryf op ’n wyse of in omstandighede wat, binne die konteks, neerkom op seksuele uitbuiting, of op so ’n wyse dat dit vir die doeleindes van seksuele uitbuiting gebruik kan word.’’

 9. Geweld, Grafiese Inhoud

Die media moet:

9.1 die nodige sorg en verantwoordlikheid aan die dag lê wanneer hulle oor wreedaardigheid, geweld en lyding berig;

9.2 nie geweld of onwettige optrede goedkeur, bevorder of idealiseer nie; en

9.3 inhoud vermy wat gewelddadige misdaad of ander vorme van geweld of eksplisiete seks uitbeeld, tensy die openbare belang anders vereis – in welke geval ’n prominent vertoonde waarskuwing moet aandui dat die inhoud grafies en onvanpas vir sekere gehore, soos kinders, is.

10. Opskrifte, Foto-onderskrifte, Plakkate, Foto’s en Video- / Oudio-inhoud

 10.1 Opskrifte, foto-onderskrifte en plakkate moet nie die publiek mislei nie en moet ’n redelike weerspieëling van die inhoud van die betrokke berig of foto gee; en

10.2 Foto’s en video- / oudio-inhoud moet nie wanvoorstel of mislei nie of gemanipuleer word om dit te doen nie.

11. Vertroulike en Anonieme Bronne

Die media moet:

11.1 vertroulike bronne van inligting beskerm – die beskerming van bronne is ’n basiese beginsel in ’n demokratiese en vry gemeenskap;

11.2 die gebruik van anonieme bronne vermy, tensy daar geen ander manier is om met die storie te werk te gaan nie en moet sorg dra om sulke inligting te bevestig; en

11.3 nie inligting publiseer wat op ’n vertrouensbreuk neerkom nie, tensy openbare belang dit anders vereis.

12. Betaling vir Inligting

Die media moet bedenklike joernalistiek vermy waar informante vergoed word om hulle te oorreed om die inligting te gee, veral wanneer hulle misdadigers is – tensy die betrokke materiaal in die openbare belang gepubliseer behoort te word en betaling nodig is om dit te kan doen.

 

Hoofstuk 2: LESER-GEGENEREERDE INHOUD EN AKTIWITEITE*

13. Beginsels

Die media:

13.1 is nie verplig om alle leser-gegenereerde inhoud (LGI) vóór publikasie te modereer nie;

13.2 moet ’n LGI-beleid hê, in ooreenstemming met die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, wat moderering en/of die verwydering van LGI of gebruikersprofiele beheer;

13.3 mag, in ooreenstemming met hul beleid, enige LGI- of gebruikersprofiel verwyder;

13.4 moet hul beleid vir die publiek beskikbaar stel en duidelik uiteensit die:

13.4.1 proses van goedkeuring, indien enige, wat voornemende gebruikers moet volg, sowel as enige terme, voorwaardes en vrywaringsklousules gedurende so ’n registrasieproses;

13.4.2 inhoud wat verbied sal word; en

13.4.3 manier waarop die publiek hulle van verbode inhoud in kennis kan stel;

13.5  moet, waar moontlik, ’n kennisgewing op die platforms publiseer waarin die plaas van verbode inhoud ontmoedig word;

13.6  moet die publiek inlig dat LGI direk deur gebruikers geplaas is en dat dit nie noodwendig hul menings weerspieël nie;

13.7  moet gebruikers aanmoedig om inhoud te rapporteer wat die bepalings van hul beleid kan skend; en

13.8  moet veral aanlyn-platforms wat op kinders gerig is, noukeurig monitor.

 14. Verbode Inhoud

Materiaal is verbode inhoud as dit uitdruklik nie toegelaat word nie in ’n lid se LGI-beleid en in Art. 5.2 van hierdie Kode (wat verwys na Art. 16 van die Handves van Regte, wat alles in ’n LGI-beleid wat daarteen kan indruis, troef.)

 15. Verweer

15.1 Dit is ’n verweer vir die media om aan te toon dat hulle nie die inhoud waaroor gekla word, geskryf of geredigeer het nie;

15.2 Waar ’n klaer egter ’n skriftelike kennisgewing aan die bepaalde publikasie gestuur het, die bepaalde inhoud geïdentifiseer het, gespesifiseer het waar dit verskyn het en gemotiveer het waarom dit verbode is (sien Art. 14); moet die media dan óf:

15.2.1 die betrokke LGI so gou moontlik verwyder en die klaer daarvan in kennis stel; óf

15.2.2 besluit om nie die LGI te verwyder nie en die klaer daarvan in kennis stel. In daardie geval kan die klaer die saak by die Persombud aanhangig maak, wat dit sal hanteer asof die LGI deur die lid self geplaas is.

*  Hierdie afdeling is van toepassing wanneer ’n klag teen ’n lid gelê word oor kommentaar en inhoud wat deur gebruikers op alle platforms onder beheer van ’n lid en waarop die inhoud versprei word, geplaas is.

EINDE

 

Stappe by die lê van ’n klag

Stap 1: 

As u glo dat ’n publikasie – gedruk of aanlyn – Die Perskode vir Etiek en Gedrag vir die Suid-Afrikaanse druk- en aanlynmedia verbreek het, kan u ’n klag aanlyn of per brief, faks, SMS of e-pos by die Persraad se Openbare Advokaat aanhangig maak. Dit moet binne 20 werksdae van die publikasie van die betrokke storie gedoen word.

Indien nodig, sal die Openbare Advokaat u help om u klag te formuleer. Die Openbare Advokaat sal ook as u kampvegter gedurende die proses optree en u saak voor die Ombud en die Appèl-paneel verdedig, sou dit daardie stadium bereik. Noem die naam en datum van die publikasie in u klag en verskaf ook redes waarom u meen dat dit die Perskode verbreek het. Dit sal die proses bespoedig as u ’n afskrif van die storie saam met die klag stuur.

Stap 2:

Die Openbare Advokaat sal namens u met die publikasie onderhandel in ’n poging om ’n spoedige skikking te bewerkstellig.

Stap 3:

Indien geen sodanige skikking bereik is binne 15 dae nadat die publikasie van u klag in kennis gestel is nie, sal die Openbare Advokaat die saak na die Ombud vir ’n beslissing verwys. Die Ombud kan ’n verhoor hou en sal bygestaan word deur twee lede van die Paneel van Beoordelaars – ’n verteenwoordiger van die media en van die publiek. Besluite word deur ’n meerderheidstem bepaal.

Stap 4:

Indien enige van die partye nie tevrede is met bogenoemde uitkoms nie, kan die saak op appèl na die Appèl-voorsitter, die afgetrede Gautengse regter-president Bernard Ngoepe, geneem word. Die regter sal ook die saak met ’n verteenwoordiger van die media en tot drie publieke verteenwoordigers van die Paneel van Beoordelaars aanhoor.

Stap 5:

Indien enige van die partye nie tevrede met die besluit van die Appèl-voorsitter is nie, kan die saak vir hersiening na ’n hof geneem word.

Lees asseblief die volle op die webblad, www.presscouncil.org.za.Vir meer inligting, stuur ’n epos na enquiries@ombudsman.org.za