Skip to main content

Willie Paterson vs. Die Burger


Thu, Jul 16, 2015

Bevinding deur die Persombudsman

16 Julie 2015

Hierdie bevinding is gebaseer op die skriftelike voorleggings van mnr. Willie Paterson en dié van Theuns van der Westhuizen van Die Burger.

Klag

Paterson kla oor die selektiewe toepassing van persvryheid, asook oor ‘n storie in Die Burger, geplaas op 22 Junie 2015 onder die opskrif Só’n strafhof is nie regverdig.

Hy kla:

·         dat die koerant persvryheid selektief toepas oor die Israel-Palestina situasie deur die “oneweredige plasing van briewe en artikels” wat Israel benadeel;

·         oor die verwysing na Israel se “massamoorde op Palestyne” in die storie; en

·         oor die “verregaande” vergelyking van Eerste Minister Binyamin Netanyahu (Israel) met pres. Omar Al-Basjir (Soedan).

Paterson sê dit is ‘n “bekende feit” dat konflik met die Palestyne nie deur Israel geïnisieer word nie, “maar dat optrede genoodsaak word deur die afvuur van vuurpyle vanaf Gaza op die burgers van Israel”.

Die teks

Die artikel, geskryf deur Rapule Tabane (politieke redakteur van City Press), handel oor die Suid-Afrikaanse regering se weiering om gehoor te gee aan ‘n hofbevel om Al-Basjir in hegtenis te laat neem. Hierdie weiering “het tot nuwe vrese gelei” – as die regering een keer daarmee weggekom het, gaan dit waarskynlik weer gebeur.

Tabane skryf geregtigheid moet gesien word om toegepas te word, dat dit deursigtig moet wees, en dat almal gelyk voor die gereg moet wees. “Ons kan nie geskok wees oor die afgryse van sterftes in Afrika, maar immuun bly teen die net so afgryslike sterftes van duisende Irakiërs aan die hand van Amerikaners nie. En terwyl ons Al-Basjir in hegtenis wil laat neem, moet ons net so hard probeer om…Netanyahu te laat boet vir die massamoorde op Palestyne.”

Die Burger reageer

Van der Westhuizen betwis die aantyging dat Die Burger persvryheid selektief toepas deur nie teenargumente en debat toe te laat nie. Hy verwys in dié verband na drie briewe van Paterson wat voorheen gepubliseer is.

Hy wys ook daarop dat die koerant daagliks talle briewe oor ‘n verskeidenheid van onderwerpe ontvang, en argumenteer dat dit onmoontlik is om almal s’n te publiseer (weens die gebrek aan beskikbare plek). “Die Burger probeer nogtans om deurgaans ‘n ewewigtige weergawe van sy lesers se menings te bied.”

Van der Westhuizen reageer nie op die deel van die klag wat na die “massamoorde op Palestyne” verwys nie, en ook nie op die vergelyking tussen Netanyahu en Al-Basjir nie.

My oorwegings

Selektief

Dit val buite my mandaat om my uit te spreek oor hierdie deel van die klag – die beslissing oor wat ‘n koerant plaas en nie plaas nie, is die redakteur se prerogatief. Ek kan slegs reageer op dit wat gepubliseer is, en nie op ‘n koerant se keuse om sekere tekste nie te publiseer nie.

Massamoorde; valse vergelyking

Ek neem in ag dat die teks ‘n meningsartikel was en nie harde nuus nie.

Dit hang af van watter perspektief ‘n mens na die situasie in die Midde-Ooste kyk – die een persoon se vryheidsvegter kan die ander se terroris wees.

Paterson is geregtig op sy mening dat dit ‘n “bekende feit” is dat konflik met die Palestyne nie deur Israel geïnisieer word nie.

Weer eens hang dit egter af deur watter bril ‘n mens na die situasie kyk. Dit is veilig om te aanvaar dat die meeste Palestyne dit nie as ‘n “bekende feit” sal tipeer nie, maar waarskynlik die teenoorgestelde sal sê.

Daarom was Tabane, soos Paterson, geregtig op sy mening – en die koerant om die stelling te publiseer.

Dieselfde geld vir die vergelyking van Netanyahu met Al-Basjir.

Oor die klag dat die koerant nie die ander kant van die saak publiseer nie, het ek my reeds uitgespreek.

Bevinding

Die klag word van die hand gewys.

Aansoek om verlof tot appèl

Ons klagte-prosedure bepaal dat enige party binne sewe werksdae ná die ontvangs van hierdie beslissing aansoek om appèl by die Voorsitter van die Appèlkomitee, regter Bernard Ngoepe, kan aanteken. Gronde vir die appèl moet duidelik uiteengesit word. Hy kan by khanyim@ombudsman.org.za bereik word.

Johan Retief

Persombudsman