Skip to main content

VGK George se kerkraad vs. George Herald


Thu, Oct 22, 2015

Bevinding deur die Persombudsman

22 Oktober 2015

Hierdie bevinding is gebaseer op die skriftelike voorleggings van mnr. Heine Muller, kantoorbestuurder van die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) op George (Rosemoor), en dié van Michelle Pienaar, joernalis van die George Herald koerant.

Klag

Die kerkraad van die VGK op George kla oor twee berigte in die George Herald, gepubliseer op 10 September en 17 September 2015 onderskeidelik, onder die opskrifte Vrae ná drie predikers hasepad kies en Versoening ontwyk VGK. Albei stories is deur Pienaar geskryf.

Die kerkraad kla dat:

·         albei berigte feite-foute bevat (besonderhede hieronder);

·         die eerste storie soms nie lesers van die nodige konteks voorsien het nie;

·         eensydige menings in albei stories gepubliseer is, sonder om die ander kant van die saak te stel; en

·         die verslaggewer nie die foute reggestel het in die tweede berig nadat sy daaroor ingelig is nie, en haar ook nie gesteur het aan bewyse wat aan haar voorgelê is nie.

Die tekste

Die eerste storie sê drie predikante van die VGK George in Rosemoor het dié kerk binne ? bestek van drie jaar verlaat. “In fluistergange van die gemeente word vingers tans na die kerkraad gewys.”

Die ring (? groepering van nabygeleë gemeentes) het na berig word ? uitnodiging aan ontevrede lidmate gerig wat skriftelike klagtes ingedien het, asook aan die kerkraad, om ? “spesiale verhoor” by te woon waartydens hul aantygings bespreek sou word.

Die eerste predikant wat die gemeente verlaat het, het glo nie belang gestel om sy eie afskeidsgeleentheid by te woon nie. Twee ander leraars het ? selfoon-boodskap van ? kerkraadslid gekry waarin hulle versoek word om nie verder nagmaal te bedien nie.

Mnr. Alec Sambo word aangehaal dat magsmisbruik binne die kerkraad en sy onderskeie kommissies veroorsaak het dat predikers die hasepad kies.

Die tweede storie berig oor die byeenkoms wat toe gehou is. Pienaar haal Sambo weer aan, wat gesê het dat die ring die ontevredenes genooi het in die verwagting dat hulle die saak kon uitpraat. “[Maar] toe ons daar kom wil hulle net praat oor versoening… Ons het wel hand geskud, maar ons harte is nie daar nie.”

Sy vrou, Maureen, het na berig word die vergadering vroeg verlaat. “Ek is nog nie reg vir versoening nie. Ons moet eers die vullis uit die wond kry voor ons pleisters kan plak,” het sy gesê.

Die berig sê ook dat Muller verduidelik het dat die verhouding met twee van die predikante oor ? tydperk versuur het. “Van hierdie predikante het ook by tye onkerklik opgetree.”

Die klag in meer besonderhede

Eerste storie

Die kerkraad sê dit was misleidend om:

·         te berig dat drie predikante die gemeente binne ? bestek van drie jaar verlaat het. Die eerste leraar het reeds op 20 April 2010 die gemeente verlaat omdat sy vrou ? pos in Bloemfontein aanvaar het – “Hy het dus nie die ‘hasepad’ gekies nie”; die tweede leraar het op vervroegde aftrede gegaan; en die derde een se kontrak is beëindig met die nodige vooraf-kennisgewing;

·         die woord “verhoor” te gebruik het – nêrens in enige korrespondensie is dit ? “verhoor” genoem nie;

·         te skryf dat die eerste predikant nie daarin belang gestel het om sy eie afskeidsgeleentheid by te woon nie – hy het sy afskeidspreek gelewer, ? geskenk ontvang, en ? deel van die afskeidsgeleentheid bygewoon. “Om te berig dat hy ‘nie belanggestel’ het nie, is ? onregverdige en ongegronde opinie, plaas woorde in [sy] mond, en die berig lewer geen bewys van die oorsprong van hierdie opinie nie”;

·         die indruk te geskep het dat een predikant se vroeë aftrede gekoppel kon word aan ? SMS. “Nêrens in [sy] korrespondensie…trek hy self hierdie verband of noem hy dit as ? moontlike rede nie. Die ander predikant se kontrak is nie hernu nie omdat ? nuwe predikant premanent aangestel is in die pos waarin hy waargeneem het. Ook hy het dus nie die ‘hasepad’ gekies nie en sy vertrek het ook nie met ? SMS verband gehou nie”;

·         na Alec Sambo as ? “bekommerde gemeentelid” te verwys – hy is nie lid van die gemeente nie, hoewel hy soms kerkdienste daar bywoon. Dit is “[onduidelik] waarom hy as gemeentelid of segspersoon van die ontevredenes aangehaal is”;

·         te berig dat 72 lidmate ? griewe-lys onderteken het – tewyl die gemeente volgens ? ouditeursverslag altesame 2 015 lidmate het; en

·         te insinueer dat die ring sou gesê het dat dié liggaam die bedanking van vyf kerkraadslede sou vereis het – terwyl daardie stelling aan Sambo toegeskryf moes word.

Die kerkraad voeg by dat, hoewel Sambo geregtig was op sy mening, sy stellings onwaar en ongegrond was. Die raad het nie ? lidmaat se mening nodig om kontrakte te hernuwe al dan nie – die prosedure word in die Kerkorde uitgespel. Alle kerkraadsbesluite is gedokumenteer, en Sambo sal moet bewys dat die “regte prosedures” nie gevolg is nie. “Dit grens aan laster, en die Kerkraad is nie gevra om spesifiek hierop kommentaar te lewer nie.”

Tweede storie

Die kerkraad kla dat die verslaggewer:

·         nie die foute in die eerste storie, wat Muller aan haar uitgewys het, in die opvolgberig reggestel het nie; en

·         vir Muller verkeerd aangehaal het – hy het nie gesê dat van die predikante “onkerklik” opgetree het nie, maar eerder dat hulle “onkerkregtelik” gehandel het.

Algemeen

Die kerkraad kla dat die verslaggewer die kant van die “ontevredenes” gekies het en haar nie gesteur het aan bewyse wat aan haar voorgelê is nie. Pleks dat die koerant ? platform gebied het om mense ? regverdige kans te gee om hul kant van die saak te stel, het die berigte eerder onmin gesaai.

Die koerant se verweer

Pienaar reageer soos volg:

·         Die “segspersoon” van die ontevredenes, Alec Sambo, het haar meegedeel dat die drie predikante oor ? tydperk van drie jaar die gemeente verlaat het. Sy kon egter nie hierdie tydsbestek voor die eerste storie bevestig nie omdat die nuwe leraar nie kommentaar wou lewer nie;

·         Muller het dit wel onder haar aandag gebring dat die tydperk vyf jaar was. “Ek het toe ? punt gemaak om nie weer met die volgende berig ? tydsbestek te koppel aan die predikante se diensverlating nie. Muller het nie vir my gevra om ? regstelling te plaas nie. Ek het gereken daar is nie so ? groot verskil tussen 3-jaar en 5-jaar binne die raamwerk van die storie nie”;

·         Die skrywe van die skriba van die ring, ds. Clive Zinkfontein, oor die voorgestelde ontmoeting tussen die ring, die kerkraad en die ontevredenes het self die uitnodiging as ? “special hearing” bestempel. Die opskrif van dié brief lui ook, “Hearing Session…”;

·         Sambo het die stelling gemaak dat die eerste predikant nie sy afskeidsgeleentheid bygewoon het nie – daarom het sy die woord “glo” in daardie stelling ingesluit. Sy sê dié stelling is deur Muller bevestig, en haal hom soos volg aan: “Dit is korrek dat [die gewese predikant] nie die afskeidsgeselligheid bygewoon het nie. So was hy ook nie skaam nie om die geskenk te vat SONDER om DANKIE te sê”;

·         Volgens Sambo het een van die predikante die SMS aan hom gewys. Die bestaan daarvan is ook deur hul prokureur, mnr. Elroy van Rooyen, asook deur Muller self bevestig. “Die sms was blybaar die laaste strooihalm wat die kameel se rug gebreek het. Ek het dit belangrik geag, omdat die predikant kort daarna sy vroeë aftrede bekend gemaak het”;

·         Sambo is “definitief” die segspersoon van die ongelukkiges. Ander gemeentelede het die verslaggewer na hom en sy vrou verwys. “Hulle het my op kantoor kom sien. Ek was nie bewus daarvan dat hy nie op die kerk se databasis as gemeentelid geregistreer is nie. Hy het homself ? gemeentelid genoem”;

·         As die kerkraad vir Sambo van laster wil aankla, is dit sy vrye reg;

·         Dit maak nie saak hoe groot ? gemeente is nie – 72 ongelukkiges is genoeg om na waarde geag te word;

·         Oor die eis dat vyf kerkraadslede moes bedank, stem sy saam sy moes dit duideliker gemaak het dat sy vir Sambo aangehaal het en nie die ring nie. “Dit was nie met opset nie…” Muller het haar nie op hierdie moontlike misverstand gewys nie;

·         Muller het aan haar bevestig dat die verhoudings tussen die kerkraad en predikante oor ? tydperk versuur het; en

·         Oor die verwysing na “onkerklik” pleks van “onkerkordelik”: Vir die gewone leser maak dit “weinig” verskil. Muller fouteer egter as hy sê hy het slegs verwys na voorbeelde waar die predikante nie binne die kerkreëls gehou het nie. “Hy het hom wel ook uitgespreek oor hul optredes buite kerkverband, en dit het dalk die verwarring veroorsaak. Die punt is, ek wou weergee dat die predikante nie altyd reg opgetree het nie. Hulle kant was nie so blink soos [Muller] wou voorgee nie”.

Muller reageer

Muller sê Pienaar se verweer is in werklikheid ? verskoning vir swak joernalistiek omdat sy:

·         nie dubbel seker gemaak het van haar feite nie;

·         eenbron-artikels geskryf het;

·         nie uit die staanspoor kommentaar bekom het van die betrokke partye nie (soos die predikante);

·         nie ? begrip het van laster nie;

·         nie genoeg konteks in haar berigte gehad het nie;

·         namens haar lesers besluit het dat 72 ontevredenes noemenswaardig is; en

·         oor die algemeen aannames maak, dit as feite in haar beriggewing aanbied, en agter die woord “glo” skuil.

Ontleding

Eerste storie

Saam met Prinsloo aanvaar ek dat die tydperk van drie jaar, soos deur haar berig, verkeerd was en dat dit vyf jaar moes gewees het.

? Verdere kwessie is of die predikers die “hasepad” gekies het, soos die opskrif lui; ‘n beskrywing wat deur die kerkraad betwis word.

Muller se verduideliking in hierdie verband is nie sterk genoeg nie. Volgens Pienaar se notas is die volgende ter sprake:

·         Die eerste predikant het wel die gemeente verlaat omdat sy vrou ? pos elders aanvaar het. In haar gesprek met dié leraar op 2 Oktober 2015 sê hy hy woon in Bloemfontein en “wou afstand kry tussen my en die kerk”. Sy argumenteer: “Alhoewel [die predikant] onderneem het om vir my die redes vir sy bedanking by VGK Rosemoor skriftelik te stuur, het hy (later) besluit om nie kommentaar te lewer oor hoekom hy daar weg is nie. Indien dit bloot was omdat sy vrou ? werk in ? ander dorp gekry het, sou dit tog nie ? probleem gewees het om daaroor te praat nie”;

·         Die feit dat die tweede leraar op vervroegde aftrede gegaan het, kan “onskuldig” wees; dit kan egter ook dui op ? situasie wat hy as onhoudbaar ervaar het. Volgens Pienaar het hy gesê: “Ek was net nie meer gemaklik om met my bediening daar aan te gaan nie. [Die eerste predikant] was ook daar weg omdat dit nie vir hom gemaklik was om daar aan te gaan nie”;

·         Dit is waar dat die derde predikant se kontrak beëindig is met die nodige vooraf-kennisgewing. Dít is egter wat die tweede leraar te sê gehad het: “[Die derde predikant] se situasie was effe anders – hy het net ? kontrak gehad – maar ? groot deel van die ongelukkigheid gaan oor hoe hy hanteer is…[In] baie van ons se opinie was daar geen rede hoekom hy nie permanent beroep kan word nie. ? Groot deel van die gemeente was baie gelukkig met sy bediening, en was gemaklik (daarmee) dat hy beroep word in ? permanente posisie… Die prosedure was nie noodwendig tegnies verkeerd nie, maar op ? baie subtiele manier [het] die manier waarop hy hanteer is…baie ongelukkigheid veroorsaak”; en

·         Die tweede leraar het die saak só teenoor Pienaar opgesom: “Die essensie van die berig was…korrek, naamlik dat dit ? kritiese vraag vra oor die situasie in die gemeente wat maak dat twee predikante blykbaar onvergenoegd (sic) die gemeente verlaat (het) en die gemeente self ontsteld is oor die manier waarop [die derde predikant] hanteer is. U interpretasie van my situasie was korrek want my eie versoek tot vervroegde aftrede is as gevolg van onvergenoegdheid oor die situasie in die kerkraad en die manier waarop [die derde predikant] se kontrak beëindig is”.

Ek aanvaar dat Prinsloo geregverdig was in haar beriggewing oor hierdie sake. Let egter daarop dat dit nie beteken dat sy noodwendig in alle opsigte reg was nie – die vraag is hoe geregverdig sy was om in haar stories die inligting te gebruik wat sy tot haar beskikking gehad het (in die lig van die welbekende en invloedryke Bogoshi-uitspraak oor hierdie kwessie). Ek let op dat haar gesprekke met twee predikante eers plaasgevind het ná haar stories gepubliseer is – maar die kern van haar aanvoeling ná gesprekke met ander mense het bloot die predikante se menings bevestig.

Derdens: Zinkfontein se skrywe aan die betrokke partye is vergesel van ? opskrif wat na ? “hearing session” verwys. Hy skryf ook, “I have been instructed…to invite the two parties…to a Special Hearing…”

Ek aanvaar dat die geleentheid nie ? “verhoor” was nie; terselfdertyd kan ek Pienaar nie verkwalik dat sy “hearing” met “verhoor” vertaal het nie.

Volgens Prinsloo se notas het Muller bevestig dat die betrokke predikant nie sy eie afskeidsgeselligheid bygewoon het nie. Ek het geen rede om haar notas in twyfel te trek nie, waarin sy Muller aanhaal wat so sê. Sy was daarom geregverdig om te beweer dat die leraar nie daarin belang gestel het om dit by te woon nie.

Dit mag so wees dat die tweede predikant nêrens in sy korrespondensie self ? verband getrek het tussen die SMS wat hy ontvang het en sy besluit om vroeg af te tree nie. Ek vind dit egter maklik om te glo dat dit wel ? rol gespeel het – die bediening van die sakramente is ? integrale deel van die bediening, en ? “mosie” van wantroue in hierdie verband tas ? leraar se integriteit in die hart daarvan aan.

Oor die rede(s) waarom die derde predikant nie voltyds beroep is nie, kan ek my nie uitspreek nie.

Ek aanvaar Prinsloo se verduideliking oor hoekom sy na Sambo as ? “bekommerde gemeentelid” verwys het – gemeentelede het hom na haar verwys as hul segsman, hy het haar op kantoor besoek, en die joernalis het geen rede gehad om die gemeente se rekords na te gaan om vas te stel of Sambo wel ? lidmaat is nie.

Die feit dat die storie na 72 lidmate verwys wat ? griewe-lys onderteken het, is ook reverdigbaar. Dit is waar dat daardie lidmate sowat 3.5% van die totale gemeente uitmaak. Terselfdertyd kan 72 ontevrede lidmate nie geïgnoreer word nie. Dit sou nie skade gedoen het om te berig uit hoeveel lidmate die gemeente bestaan nie; dit is egter ook nie ? verbreking van die Perskode om dit nie te gedoen het nie (oor die rede wat ek hierbo aangevoer het).

Soos die berig geskonstrueer is, kan lesers nie verkwalik word as hulle sou meen dat dit die ring was wat gesê het dat dié liggaam die bedanking van vyf kerkraadslede vereis het nie (terwyl daardie stelling aan Sambo toegeskryf moes word). Hierdie was bloot lomp joernalistiek omdat dit verwarrend en misleidend geformuleer was, en dit smeek om ? regstelling.

Prinsloo het die reg gehad om Sambo aan te haal waar hy gesê het dat die kerkraad nie altyd die “regte prosedures” in sy besluitnemingsprosesse gevolg het nie. Hierdie is ? ernstige aanklag; die minste wat Prinsloo moes gedoen het nadat sy besluit het om Sambo in hierdie verband aan te haal, was om die kerkraad se kommentaar hieroor te vra.

Die argument dat die nuwe predikant nie kommentaar wou lewer nie bied in hierdie konteks nie genoeg skuiling nie – die “besluitnemingsprosesse” was voor haar tyd, en Prinsloo kon maklik die hoof-ouderling of enige ander ouderling hieroor gevra het.

Tweede storie

Van al die “foute” wat Muller aan Prinsloo uitgewys het, moes sy die verwysing na “drie jaar” en die misleidende stelling oor die vereiste bedanking van vyf kerkraadslede wel reggestel het. Ek vind die joernalis se verduideliking van die drie jaar enigsins vreemd – die hart van die storie was dat predikante die gemeente binne ? kort tyd verlaat het oor onenighede. Die vyf jaar stel tog die saak in ? ander perspektief.

Dieselfde geld vir die verwysing na “onkerklik”, pleks van “onkerkregtelik”. Al is daar ook oningeligte lidmate wat nie die verskil tussen hierdie twee begrippe snap nie, soos Prinsloo aanvoer, is daar in werklikheid ? hemelsbreë verskil.

Bevinding

Eerste storie

Die stelling dat drie predikante die gemeente binne ? bestek van drie jaar verlaat het, was onakkuraat en verbreek Art. 2.1 van die Perskode: “The press shall take care to report news truthfully, accurately and fairly.”

Die “vereiste” dat vyf ouderlinge moes bedank, was misleidend omdat die redelike leser maklik tot die gevolgtrekking kon kom dat dit die ring was wat hierdie vereiste gestel het. Dit verbreek Art. 2.2 van die Perskode: “News shall be presented in context and in a balanced manner, without any intentional or negligent departure from the facts, whether by…misrepresentation…”

Prinsloo moes Sambo se aangehaalde stelling oor die “regte prosedures” opgevolg het deur ? geleentheid aan die kerkraad te bied om daarop te reageer. Dit verbreek Art. 2.5 van die Perskode: “A publication shall seek the views of the subject of critical reportage in advance of publication…”

Hoewel ek die klag oor die volgende sake van die hand wys, vra ek tog vriendelik – in die gesindheid van reg en geregtigheid – dat die volgende sake reggestel word:

·         Die vergadering was nie ? “verhoor” nie; en

·         Sambo was nie ? gemeentelid nie.

Die res van die klag word van die hand gewys.

Tweede storie

Die feit dat Prinsloo nie die verwysing na drie jaar, asook na “onkerklik” reggestel het nie, verbreek Art. 2.6 van die Perskode: “A publication shall make amends for publishing information or comment that is found to be inaccurate by printing, promptly and with appropriate prominence, a retraction, correction or explanation.”

Erns van oortreding(s)

Onder die opskrif Hierarchy of sanctions onderskei Artikel 8 van ons Klagteprosedure tussen minder ernstige oortredings (Vlak 1), ernstige oortredings (Vlak 2) en ernstige wangedrag (Vlak 3).

Die verbreking van die Perskode, soos hierbo uitgestippel, is almal Vlak 2-oortredings.

Optrede

Eerste storie

George Herald word versoek om die kerkraad in die algemeen en Muller in die besonder om verskoning te vra vir die:

·         foutiewe stelling dat drie predikante die gemeente binne ? bestek van drie jaar verlaat het – met ? regstelling daarby;

·         misleiende beriggewing oor die vereiste dat vyf ouderlinge moes bedank (omdat dit maklik verkeerdelik aan die ring toegeskryf kon word, pleks van aan Sambo) – met ? verduideliking daarby;

·         feit dat die joernalis nie die kerkraad se mening gevra het oor Sambo se stelling dat die kerkraad nie altyd die regte prosedures gevolg het gedurende belangrike besluitnemingsprosesse nie; en

·         feit dat Prinsloo nie die foutiewe verwysings na “drie jaar”, asook na “onkerklik” reggestel het nie.

Oor die stellings dat die vergadering ? verhoor was en dat Sambo ? gemeentelid was, het ek bevind dat dit nie die Perskode verbreek het nie omdat Pienaar daardie inligting ter goeder trou gerapporteer het. Ek kan daarom nie die koerant aansê om dit reg te stel nie. Ek sal egter graag wil sien dat hierdie sake ook in die teks ter sprake kom – ek verlaat my hier op die koerant se goeder trou.

Dit staan die koerant vry om daardie dele van die klag wat ek van die hand gewys het, ook te noem – mits dit volg op die gevraagde verskoning.

Gebruik asseblief die volgende sin aan die einde van die teks: “Besoek www.presscouncil.org.za vir die volledige bevinding.”

Die koerant word versoek om die berig voor publikasie aan my beskikbaar te stel vir goedkeuring.

Die opskrif moet die inhoud van die berig weerspieël.

Indien die storie/s op die koerant se webtuiste verskyn het, moet die verskoning ook daar geplaas word.

Aansoek om verlof tot appèl

Ons klagte-prosedure bepaal dat enige party binne sewe werksdae ná die ontvangs van hierdie beslissing aansoek om appèl by die Voorsitter van die Appèlkomitee, regter Bernard Ngoepe, kan aanteken. Gronde vir die appèl moet duidelik uiteengesit word. Hy kan by khanyim@ombudsman.org.za bereik word.

Johan Retief

Persombudsman