Skip to main content

Riaan van Lill vs. Huisgenoot


Fri, Feb 22, 2013

 

 

Bevinding deur die Persombudsman

22 Februarie 2013

Hierdie bevinding is gebaseer op die skriftelike voorleggings van dr. Riaan van Lill en die Huisgenoot tydskrif.

Klag

Dr Riaan van Lill kla oor ‘n artikel in Huisgenoot op 20 September 2012 op bladsy 40 onder die opskrif Kinderkokaïen gee my hoë punte – Ritalin, die staatmaker van AGS-lyers, raak nou die redmiddel van ambisieuse studente.

Hy kla dat die artikel verkeerdelik sê dat Ritalin verslawend is.

Ontleding

Die artikel, geskryf deur Latashia Naidoo, handel oor die voor- en nadele van die middel Ritalin, wat na berig word jou help om te konsentreer. Naidoo skryf grootliks oor die misbruik van hierdie middel, maar voek ook by dat die middel verslawend is.

Verslawend

Die artikel haal die volgende persone aan:

·        ‘n Nagraadse student, wat beweer dat Ritalin ‘n houvas op hom gehad het; en

·         Prof. Linda Brand, die vakvoorsitter van die Noordwes-universiteit se fakulteit farmakologie, wat sou gesê het: “Daar is met Ritalin, ‘net soos met enige middel,’ die kans dat jy verslaaf kan raak”.

 

Die storie sê ook: “Daar is ‘n baie goeie kans dat jy daaraan verslaaf kan raak. Ritalin se chemise samestelling is soortgelyk aan dié van kokaïen en amfetamiene.”

Van Lill kla dat die artikel verkeerdelik berig dat Ritalin verslawend is. Hy sê dat hy Brand ontken dat sy deur Naidoo genader is, asook dat sy nooit beweer het dat Ritalin verslawend is nie.

Hy voer aan dat die artikel die vuur van “Ritalin-fobie” nog verder aanblaas.

Huisgenoot sê daar is baie literatuur wat aandui dat Ritalin wel sielkundig verslawend is. “Nie almal stem met hierdie uitgangspunt saam nie, maar ons neem liewer ‘n konserwatiewe standpunt hieroor in. In die konteks van die artikel is dit ook duidelik dat hier van misbruik gepraat word, nie van gewone voorgeskrewe gebruik onder toesig van ‘n medikus nie.”

Huisgenoot het die volgende skakels aan my gestuur:

http://www.addictionsearch.com/treatment_articles/article/ritalin-abuse-addiction-and-treatment_43.html

http://learn.genetics.utah.edu/content/addiction/issues/ritalin.html

http://www.ritalinaddiction.com/

http://psychcentral.com/news/2009/02/03/adhd-drug-ritalin-possibly-addictive/3898.html

http://www.ritalinabusehelp.com/3-causes-of-ritalin-addiction

Ek kon vier uit die vyf skakels oopmaak, en elkeen het dieselfde boodskap gedra – ‘n mens kan aan Ritalin verslaaf raak as jy dit nie onder mediese toesig gebruik nie.

Die tydskrif voer ook aan dat Brand se toesighouer gebel het om beswaar te maak, maar “die uiteinde hiervan was dat dr. Brand toegegee het sy het wel met YOU gepraat”. Die (voormalige) redakteur voeg by dat die verslaggewer se aanhalings van Brand (in haar notas) vir haar voorgelees is, “en sy het toe nie haar stelling oor moontlike verslawing ontken nie”.

Van Lill reageer hierop deur te sê dat een van die skakels inligting van 2006 bevat en dat dit daarom moet inboet aan geloofwaardigheid. Hy spreek nie ‘n mening uit oor inligting wat daarop dui dat Ritalin nie tot verslawing kan lei onder behoorlike mediese toesig nie – wat impliseer dat die middel inderdaar verslawend kan wees wanneer daar geen sodanige mediese toesig is nie.

Eerstens, Huisgenoot is korrek dat die artikel gegaan het oor die misbruik van Ritalin – en dat dít tot verslawing kan lei. Dit storie kon dit wel duideliker gestel het dat die gebruik van Ritalin onder ordentlike mediese toesig nie gevaarlik is nie – maar ek het geen grond om te bevind dat hierdie leemte enige verbreking van die Perskode sou inhou nie.

Weer eens, die skopus van die artikel was nie om ‘n wetenskaplike verhandeling oor die gebruik en misbruik van Ritalin aan lesers voor te hou nie, maar eerder om te sê dat die onbehoorlike neem van die middel gevaarlik is (en dat die gebruik/misbruik daarvan algemeen geword het).

Huisgenoot was daarom geregverdig in sy beriggewing.

Tweedens, ek neem nie Brand se beweerde woorde in ag nie – Huisgenoot se saak staan sterk genoeg sonder haar getuienis.

Ek let op dat Naidoo “Brand” se van as “Bran” gespel het.

Bevinding

Die klag word van die hand gewys.

Appèl

Let asseblief daarop dat ons klagte-prosedure bepaal dat enige party binne sewe dae ná die ontvangs van hierdie beslissing appèl by die Voorsitter van die SA Beoordelingspaneel, Regter Ralph Zulman, kan aanteken. Gronde vir die appèl moet duidelik uiteengesit word. Hy kan by khanyim@ombudsman.org.za bereik word.

Johan Retief

Persombudsman