Skip to main content

Nicky Hand vs.Sondag


Fri, Feb 8, 2013

 

 

Bevinding deur die Persombudsman

8 Februarie 2013

Hierdie bevinding is gebaseer op die skriftelike voorleggings van M&M van Niekerk, vir mnr. Nicky Hand, en die Sondag koerant.

Klag

Skoolhoof Nicky Hand (Prieska Gekombineerde Skool) kla oor ‘n storie in Sondag op 5 Augustus 2012 onder die opskrif Was hoof se Hand in koekieblik? Hy kla ook oor ‘n “regstellingsberig” op 9 September, getiteld Die kat kom weer – Hoof briesend oor sy onregverdige skorsing.

Hand voorsien my van twee skrywes aan Sondag, waaruit ek sy klag oor die oorspronklike storie moes aflei.

Hy kla dat die:

·         bewering van diefstal teen hom ongegrond, ongeverifieer en lasterlik was, en dat dit boonop gegrond was op kwaadwillige bronne;

·         berig verkeerdelik sê dat mnr. Hermie van der Merwe, provinsiale sekretaris van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), met Sondag gepraat het; en

·         foto nie van hom was nie maar van sy seun, en dat die koerant dit sonder toestemming van sy Facebook-profiel bekom en gepubliseer het.

Hand kla ook dat die “regstellingsberig” nie voldoende was nie.

Ontleding

Die eerste storie, geskryf deur Inge Liebenberg, sê dat ouers van Hand se skool kwaad is omdat hy geskors is ná hy “glo met sy hand in die koekieblik gevang is”. Sy berig ook dat ‘n ondersoek teen Hand aan die gang was.

Die “regstellingsberig” meld dat Hand blind was van woede oor sy skorsing. Daar was na berig word ook persoonlike vetes van ‘n “paar ouers” teen hom, wat ondertussen glo reeds geskik is. Liebenberg haal ‘n woordvoerder van die Noord-Kaap se onderwysdepartement, mnr. Sydney Stander, aan wat die skoolhoof se skorsing aan bedrog en finansiële wanadministrasie sou wyt.

Ongegronde, ongeverifieerde, lasterlike bewering – gegrond op kwaadwillige bronne

Hand kla dat die storie ongegronde bewerings bevat –  hy sê “die beweringe…is totaal ongegrond en van alle waarheid ontbloot”, was ongeverifieerd en lasterlik van aard. Hy voeg by dat die bronne kwaadwillig was en dring daarop aan dat hul name aan hom bekendgemaak moet word.

Van Niekerk laat egter na om uit te spel presies watter beweringe vals is.

Dit gaan duidelik nie oor sy skorsing nie, aangesien sy prokureur dit in sy skrywe van 6 Augustus 2012 aan Sondag erken het. Die enigste logiese afleiding wat ek kan maak, is dat hy ontevrede is met die moontlike rede wat voorgehou is vir sy skorsing, naamlik diefstal.

Sondag het my voorsien van kopieë van agt stories in ander publikasies wat oor Hand se skorsing gehandel het.

Ek let op dat nie een van hierdie artikels ‘n rede verskaf het vir sy skorsing nie – dit spekuleer nie eens daaroor nie; inteendeel, etlike berigte noem dat die gemeenskap ‘n rede soek vir Hand se skorsing en dat niemand blykbaar enige idee het waarom die Departement so opgetree het nie.

Die storie in Sondag vertel egter ‘n ander verhaal – hier word naamlik een, anonieme bron aangehaal wat die rede vir Hans se skorsing aan diefstal wyt. Let wel: Die storie haal nie “bronne” aan nie (soos Hand sê) – dit grond naamlik die diefstal-bewering op een bron alleen.

Sondag voer aan dat die storie hierdie inligting wat hy van die bron bekom het, as ‘n bewering en nie as ‘n feit nie aangebied het.

‘n Bewering kan egter net so skadelik as ‘n stelling wees, en die koerant se verweer op hierdie punt moet daarom versigtig beoordeel word. ‘n Bron kan immers nie sommer enige bewering maak, en ‘n koerant gaan eenvoudig voort om dit te publiseer – met die verskoning dat dit as ‘n bewering, en nie as ‘n feit nie, aangebied word. Koerante moet immers hul inligting sif, weeg en noukeurig beoordeel.

Wat meer is, as Liebenberg die bewering oor diefstal geverifieer het, moes sy dit in die storie genoem het – wat nie gebeur het nie. Ek neem daarom aan dat sy inderdaad die koekieblik-bewering nie geverifieer het nie.

Nou, die klag oor laster. Ek het hierdie definisie op die internet gekry: “Laster is enige doelbewuste valse kommunikasie wat iemand se reputasie skade berokken, die respek, agting of vertroue wat in iemand gestel word verminder, of vyandige menings of gevoelens teen ‘n persoon oordra.”

Dis meestal baie moeilik om kwaadwilligheid te bewys. In haar regstellingsberig publiseer Liebenberg egter hierdie sin: “Beweringe dat hy nie sy hande van die skool se finansies kon afhou nie was toe al die tyd kwaadwillige skinderstories…” (eie beklemtoning)

Hiermee erken die joernalis self dat die een bron wat sy aangehaal het, kwaadwillig was en ‘n skinderstorie aan haar as die waarheid verkwansel het. Sy bieg met ander woorde dat sy nie die bewering van een, anonieme bron moes gepubliseer het nie en dat sy haar deur hierdie bron laat verlei het – ek ken geen goeie joernalis wat doelbewus kwaadwillige skinderstories sal publiseer nie.

Hierdie kantoor het nou al tot vervelens toe gewaarsku teen die gebruik van ‘n enkele, anonieme bron. Dis ‘n gevaarlike praktyk! Enige persoon kan naamlik sê net wat hy/sy wil, sonder om daarvoor verantwoording te doen. So ‘n bron kan inderdaad maklik kwaadwillige motiewe hê.

Gegee die feit dat Liebenberg self in haar regstellingsberig geskryf het dat haar bron se inligting “kwaadwillige skinderstories”(lees: doelbewuste, valse kommunikase wat Hand se reputasie skade berokken het) was, kan ek nie anders as om die verwysing na Hand se hand in die “koekieblik” as lasterlik te beskou nie. Onthou dat die herhaling van laster (afkomstig van die bron) ook laster is.

Ek het daarom ook min twyfel dat die bewering van diefstal, soos deur Sondag gepubliseer, Hand onnodige skade berokken het.

Hy vra ook dat die bronne se name aan hom bekendgemaak moet word.

Die koerant kan dit egter nie doen nie, aangesien Art. 12.1 van die Perskode bepaal dat die pers onder ‘n verpligting is om sy vertroulike bronne te beskerm.

Geen gesprek met Van der Merwe

Die storie haal Van der Merwe aan dat hy “vir Sondag” sou gesê het dat die redes vir Hand se skorsing vaag was.

Hand sê Van der Merwe ontken dat hy ooit sy posisie met die koerant bespreek het en vind dit daarom “onaanvaarbaar dat u hom aanhaal terwyl u nooit met hom in verbinding was nie”.

Die koerant reageer nie op hierdie deel van die klag nie.

By nadere ondersoek blyk dit dat twee van die berigte in ander publikasies wat oor dieselfde saak gegaan het, Van der Merwe aangehaal het dat hy sou gesê dat die redes vir Hand se skorsing vaag is.

Gegee bogenoemde twee oorwegings, is my enigste redelike afleiding dat die joernalis doodgewoon Van der Merwe se kommentaar soos gepubliseer in ander koerante oorgeskryf het. Daarmee is niks verkeerd nie, mits die “vir Sondag” eerder “na berig word” gelees het. Soos Liebenberg dit geskryf het, wek dit inderdaad die vals indruk dat Sondag direk met Van der Merwe gepraat het.

Verkeerde foto; geen toestemming

Die onderskrif lui: “GESKORS: Prieska se geskorste Hand sê dat die foto by die storie dié van sy seun op sy troue was en kla dat dit sonder sy toestemming van sy Facebook-profiel bekom en gepubliseer is.”

Hand kla dat die foto nie van hom was nie maar van sy seun, en dat die koerant dit sonder toestemming van sy Facebook-profiel bekom en gepubliseer het.

Sondag het reeds ‘n regstelling oor die verkeerde foto geplaas. Dit lees soos volg: “FLATER: Sondag het verledeweek die meegaande foto verkeerdelik by ’n berig getiteld ‘Was hoof se Hand in koekieblik?’ gebruik. Die persone op die foto is nie die Hoërskool Prieska se hoof óf sy vrou nie. Sondag vra om verskoning vir enige verleentheid wat deur die fout veroorsaak is.”

Dit bring my by die vraag of die koerant toestemming moes kry om ‘n Facebook-foto te publiseer.

Indien die foto van Hand self sou gewees het, sou die koerant steeds daarop geregtig gewees het om dit sonder toestemming te publiseer, aangesien dit nie sy privaatheid geskend het nie (Facebook is per definisie publiek, nie privaat nie) en ook omdat dit in die openbare belang was. Ek kan daarom geen rede sien waarom Sondag hiervoor verlof moes vra nie.

‘Regstellingsberig’ nie voldoende

Hand sê dat die regstellingsberig verskyn het sonder dat hy dit vooraf gesien het. Van Niekerk skryf: “Ons is van mening dat sodanige berig nie as ‘n regstellingsberig beskou kan word nie en dat dit nie die lug suiwer rondom die lasterlike beweringe wat in die aanvanklike berig…gemaak is nie.”

Sondag skryf dat dit nie sy redaksionele beleid is om stories aan subjekte voor te lê voor publikasie nie.

Dit is inderdaad die koerant se reg. Dalk kan die koerant dit egter oorweeg om ‘n uitsondering te maak wanneer dit by ‘n regstellingsberig kom – as die subjek daarmee ook ontevrede is, verleng en vererger dit immers net die probleem.

Hoe ook al, die regstellingsberig is myns insiens voldoende – dit weerlê naamlik die kern van die probleem in die eerste berig (bewerings van diefstal) en maak dit af as “kwaadwillige skinderstories”.

Daarmee is die onreg reggestel, hoewel dit sonder ‘n verskoning aan Hand aangebied is – ‘n saak wat ek hieronder sal regstel.

Bevinding

Ongegronde, ongeverifieerde, lasterlike bewering – gegrond op kwaadwillige bronne

Liebenberg het die bewering oor diefstal nie geverifieer nie en het ook nie genoem dat sy dit nie kon doen nie. Haar bron was kwaadwillig, en die joernalis het doodgewoon daardie inligting herhaal – wat op laster neergekom het.

Dit verbreek:

·         Art. 1.4 van die Perskode wat lui: “Wanneer daar rede is om die akkuraatheid van ‘n berig te betwyfel en dit prakties haalbaar is om die akkuraatheid daarvan te verifieer, sal dit geverifieer word. Wanneer dit nie prakties haalbaar is om die akkuraatheid van ‘n berig te verifieer nie, sal dit in so ‘n berig genoem word”;

·         Art. 12.2: “Die pers sal die gebruik van anonieme bronne vermy behalwe as daar geen ander manier is om die storie te hanteer nie. Sorg moet aan die dag gelê word om sulke inligting te bevestig”; asook

·         Art. 1.1: “Die pers is verplig om nuus …billik te rapporteer.”

Hand se versoek dat die koerant sy bron aan hom bekend moet maak, word van die hand gewys.

Geen gesprek met Van der Merwe

Die storie skep die vals indruk dat Sondag met Van der Merwe gepraat het.  Dit verbreek Art. 1.1 van die Perskode wat sê: “Die pers is verplig om nuus eerlik (en) akkuraat…te rapporteer.”

Verkeerde foto; geen toestemming

Hierdie deel van die klag word van die hand gewys.

‘Regstellingsberig’ nie voldoende

Hierdie deel van die klag word van die hand gewys.

Algemene opmerking

Ek vind die verbrekings van die Perskode, soos hierbo aangetoon, kommerwekkend.

Optrede

Sondag word gevra om Hand om verskoning te vra dat ons ‘n lasterlike bewering, afkomstig van ‘n kwaadwillige bron, oor hom gepubliseer het.

Die koerant word ook ernstig vermaan omdat die joernalis:

·         nie die bewering oor diefstal geverifieer het nie;

·         nagelaat het om dit in die storie te noem;

·         haar deur ‘n kwaadwillige (anonieme) bron laat verlei het; en

·         die valse indruk geskep het dat die koerant met Van der Merwe gepraat het.

Die koerant word gevra om die volgende te publiseer (onder ‘n opskrif wat sowel die woord “verskoning”, of ‘n dergelike term, en sy van moet gebruik):

Begin van teks

Sondag vra mnr. Nicky Hand, skoolhoof van Prieska Gekombineerde Skool, om verskoning omdat ons ‘n lasterlike bewering, afkomstig van ‘n kwaadwillige bron, oor hom gepubliseer het.

Die SA Persombudsman, Johan Retief, het ons ook ernstig vermaan omdat ons nie ‘n bewering oor diefstal geverifieer het nie, omdat ons nagelaat het om dit in die storie te noem, omdat ons ons deur ‘n kwaadwillige (anonieme) bron laat verlei het, en omdat ons die vals indruk geskep het dat ons met ‘n woordvoerder gepraat het.

Dit kom nadat, Hand ‘n klag by die Ombudsman gelê het oor ‘n storie wat ons op 5 Augustus 2012 onder die opskrif Was hoof se Hand in koekoeblik? gepubliseer het. Hy het ook gekla oor ‘n “regstellingsberig” op 9 September, getiteld Die kat kom weer – Hoof briesend oor sy onregverdige skorsing.

 

Die eerste storie, geskryf deur Inge Liebenberg, het gesê dat skoolouers kwaad is omdat hy geskors is. Liebenberg haal ‘n bron aan wat sou sê dat Hand glo met sy hand in die koekieblik gevang is.

Die “regstellingsberig” meld dat Hand blind was van woede oor sy skorsing. Liebenberg haal ook ‘n woordvoerder van die Noord-Kaap se onderwysdepartement, mnr. Sydney Stander, aan wat die skoolhoof se skorsing aan bedrog en finansiële wanadministrasie sou wyt.

Retief het gesê: “Ek het…min twyfel dat die bewering van diefstal, soos deur Sondag gepubliseer, Hand onnodige skade berokken het.”

Hy het bygevoeg: “Ek vind die verbrekings van die Perskode…kommerwekkend.

 

Retief het egter:

·         Hand se versoek van die hand gewys dat die koerant sy bron aan hom bekend moet maak;

·         die klag dat ons ‘n Facebook-foto sonder toestemming gepubliseer het, ook van die hand gewys; en

·         bevind dat ons regstellingsberig voldoende was, aangesien ons gerapporteer het dat die bewering oor diefstal “kwaadwillige skinderstories” was. “Daarmee is die onreg reggestel…” het hy gesê.

Besoek www.presscouncil.org.za (rulings, 2012) vir die volledige bevinding.

Einde van teks

Appèl

Let asseblief daarop dat ons klagte-prosedure bepaal dat enige party binne sewe dae ná die ontvangs van hierdie beslissing appèl by die Voorsitter van die SA Appèlraad, Regter Ralph Zulman, kan aanteken. Gronde vir die appèl moet duidelik uiteengesit word. Hy kan by khanyim@ombudsman.org.za bereik word.

Johan Retief

Persombudsman