Skip to main content

Melvyn Cupido vs. Die Son


Tue, Sep 16, 2014

Bevinding deur die Persombudsman

16 September 2014

Hierdie bevinding is gebaseer op die skriftelike voorleggings van mnr. Melvyn Cupido en dié van Neil Scott, nuusredakteur van die koerant Die Son.

Klag

Cupido kla oor ? storie in Die Son op 3 September 2014 onder die opskrif Tikkop los hospitaal vir mang. (“Mang” is sleng vir “tronk”.)

Hy sê dat hy die koerant gevra het om ? foto van sy seun (Clarence van Wyk) te plaas nadat dié uit Die Tygerberg-hospitaal weggeloop het en in daardie stadium vermis was, maar pleks daarvan beskryf die storie hom as ? tik-gebruiker (“tikkop”) – wat vernederend is en sy reputasie en waardigheid geskend het.

Die teks

Die storie, geskryf deur Bohemia Hoffmeester, sê Van Wyk (van Scottsdene, Kaapstad) het sy pa slapelose nagte besorg nadat hy uit die hospitaal weggeloop het (waar hy aanvanklik vasgemaak is om hom te bedwing) en niemand in daardie stadium geweet het waar hy hom bevind nie. Die pa het na berig word gesê dat tik vir sy seun se toestand verantwoordelik was. Nadat die pa “oral” na sy seun gaan soek het, het hy later uitgevind dat Van Wyk in Parow se polisie-selle aangehou word nadat hy in hegtenis geneem is op ? klag van die beskadiging van eiendom.

Sowel die storie as die opskrif tipeer Van Wyk as ? “tikkop”.

Ontleding

Cupido verduidelik sy klag in meer detail soos volg: Hy het aanvanklik die koerant genader om hom te help om sy seun te vind (wat in daardie stadium “vermis” was). Hy het die verslaggewer “in sy onskuld” vertel wat gebeur het sodat sy die saak beter kon verstaan – hy het nooit bedoel dat die besonderhede van sy seun gepubliseer moes word nie. Kort ná die gesprek het hy uitgevind dat Van Wyk in die Polisie-selle in Parow aangehou word. Hy bel toe die verslaggewer met dié nuus, met die verstandhouding dat dit nie meer nodig was om sy seun as vermis te beskryf nie.

Hoffmeester het egter voortgegaan om ? storie van die saak te maak – wat sy seun beswadder en die “vel van sy gesig” afgetrek het. Die berig het boonop die indruk geskep dat hy, as pa, die inligting aan die koerant verskaf het om sy seun “af te breek” – terwyl hy eerder na sy gesin wil omsien en hulle wil beskerm en help.

In latere korrespondensie voer Cupido aan dat Van Wyk, ná die publisering van die berig, kwalik ? werk sal kan kry – terwyl hy vyf kinders het om te onderhou.

Scott sê nadat Cupido se seun gevind is, het hy (die pa) steeds ingestem dat die storie geplaas kon word.

“Ons doel was nie om sy seun te verneder nie, maar om verslag te doen oor ? nuuswaardige storie oor ? dwelm wat daagliks verwoesting saai en ons gemeenskappe vernietig.”

Nadat Van Wyk uit die hospitaal ontsnap het, is hy vir saakbeskadiging in hegtenis geneem. “Ons gemeenskappe moet ingelig word oor die…gevolge van tik…anders sal ons ons plig as joernaliste versaak…Of moes ons die hele saak onder die mat invee…tot die nadeel van wetsgehoorsame burgers?”

                        My oorwegings

Ek kan goed verstaan dat die berig Cupido ongelukkig gestem het – ek aanvaar dat sy bedoeling was om sy seun te vind, en nie om allerlei besonderhede openbaar te maak nie. Dit moes inderdaad vir hom ? skok gewees het om Van Wyk se vuil wasgoed op die draad te sien hang.

Ek aanvaar ook dat die berig sy seun skade berokken het. Die vraag is egter of hierdie skade onnodig was (soos beskryf in die voorwoord tot die Perskode).

Aan die ander kant het die koerant ? plig teenoor die gemeenskap, soos deur Scott aangevoer.

Ek weeg nou hierdie twee sake (persoon en gemeenskap) teenoor mekaar op.

In hierdie proses kan ek nie anders nie – ? koerant kan wel die wense en begeertes van mense in ag neem, maar uiteindelik mag ? redakteur nie toelaat dat daardie “wense en begeertes” redaksionele besluite beslissend beïnvloed nie. Die storie beskryf ? verhaal van wat moontlik kan gebeur wanneer iemand tik gebruik. Ek aanvaar dat hierdie boodskap sommige mense twee keer sal laat dink voor hulle tik te gebruik – en daarom weeg die gemeenskap-deel van die saak swaarder as die persoon-deel.

Hoewel Cupido nie spesfiek oor die term “tikkop” kla nie (sy klag gaan oor die feit dat sy seun as ? tik-gebruiker geïdentifiseer is), is hierdie woord tog hinderlik. Nadat ek egter met verskeie mense in die Wes-Kaap gepraat het wat deur tik-gebruik geraak word, aanvaar ek dat “tikkop” ? term is wat algemeen in gebruik, sosiaal aanvaarbaar en nie noodwendig vernederend is nie.

Bevinding

Die klag word van die hand gewys.

Aansoek om verlof tot appèl

Ons klagte-prosedure bepaal dat enige party binne sewe werksdae ná die ontvangs van hierdie beslissing aansoek om appèl kan aanteken by die Voorsitter van die Appèlkomitee, regter Bernard Ngoepe. Gronde vir die appèl moet duidelik uiteengesit word. Hy kan by khanyim@ombudsman.org.za bereik word.

Johan Retief

Persombudsman