Skip to main content

Joggie Scholtz vs. Huisgenoot


Sun, Aug 16, 2015

Bevinding deur die Persombudsman

16 Augustus 2015

Hierdie bevinding is gebaseer op die skriftelike voorleggings van mnr.Joggie Scholtz, voorsitter van die beheerliggaam van die Hoërskool Swartland, en dié van Nadia Honiball adjunk-redakteur van Huisgenoot.

Klag

Scholtz kla na aanleiding van ‘n artikel in Huisgenoot, gepubliseer op 5 Maart 2015, onder die opskrif Ek’s nie klaar met skool – Sy vete met die beheerliggaamvoorsitter was voorbladnuus, maar die Swartland-hoof glo dit sal weer beter gaan.

Hy voer aan dat die plaaslike hof (in Malmesbury) vir hom en teen die skoolhoof bevind en aangedui het dat laasgenoemde die hof met opset mislei het – en vereis daarom ‘n regstelling (hy vra nie om ‘n verskoning nie) omdat die storie nie waar, akkuraat, regverdig en gebalanseerd was nie.

Scholtz sê ook die tydskrif moet die hofbeslissing publiseer, aangesien die oorspronklike storie daarna verwys het.

Die teks

Die artikel, deur Joanie Bergh, is grootliks geskryf vanuit die oogpunt van die plaaslike skoolhoof, mnr. Dirk Marais. Die joernalis verhaal ‘n vete tussen Scholtz en Marais, en skryf dat dit vlam gevat het toe die skool nie volle erekleure vir hokkie aan eersgenoemde se dogter wou toeken nie. Die saak het na berig word by die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) beland, en het ook ‘n nadraai in die plaaslike landdroshof gehad.

Bergh rapporteer: “Op 13 Februarie het Dirk … ‘n tussentydse beskermingsbevel teen Joggie gekry. Hy voer aan Joggie het hom die afgelope ses maande herhaaldelik met SMS’e en e-posse gedreig en geviktimiseer… Min het Dirk geweet Joggie sou die lewe vir hom so moeilik maak dat hy geen ander uitweg gesien het as om ‘n beskermingsbevel teen hom the kry nie… ‘Ek het liggaamlik en geestelik ‘n groot knou weg…’ Die afgelope jaar voel dit vir hom asof Joggie hom in ‘n hoek wil dryf en sy pligte as skoolhoof minag… ‘Hy het my begin verneder en viktimiseer voor medepersoneellede. Hy het geen respek vir my pligte as skoolhoof gehad nie’.”

Die verslaggewer berig die tydskrif het Scholtz om kommentaar genader, maar sy prokureur (mnr. Jan Potgieter) het gesê die saak was sub judice en wou daarom nie in daardie stadium kommentaar lewer nie.

Huisgenoot

Honiball weier om ‘n verskoning te plaas oor iets wat nie bestaan het met die publisering van die storie nie. Sy bied Scholtz ‘n geleentheid om sy kant van die saak te stel in ‘n opvolg-berig (‘n uitnodiging wat hy nie aanvaar nie).

Die hofuitspraak

In die landdros se bevinding skryf mnr. Jeffrey Jantjies onder meer: “…[Marais’s] contention that he was harassed by [Scholtz], and required protection, becomes unstuck.”

Die landdros voeg by dat Marais, by meer as een geleentheid, nie eerlik met die hof was nie (hy het die hof “doelbewus mislei”), en dat die skoolhoof sekere inligting van die hof weerhou het.

Jantjies het Scholtz van alle blaam onthef en het Marais se hofaansoek met koste verwerp.

My oorwegings

Dario Milo en Pamela Stein skryf in hul boek A Practical Guide to Media Law: “Fair and substantially accurate reporting does not require a verbatim report of the (court) proceedings. A condensed report on proceedings is acceptable, provided the report covers the position of all parties involved in the proceedings. There must be no inaccuracies in the report and the report must be balanced as between the parties involved. Importantly, if earlier reported allegations in court are rebutted at a later stage in the proceedings, then…this must be recorded.” (My beklemtoning.)

Gegee die hof se bevinding, roep Marais se aantygings (sien die kassie hierbo), soos deur Huisgenoot gerapporteer, om ‘n regstelling omdat dit fundamenteel onregverdig teenoor Scholtz was (gegee die hofuitspraak), asook om die publisering van die hof se bevinding (soos Scholtz tereg vra).

Dit is (natuurlik) nie nodig om die hele bevinding te rapporteer nie – ‘n verwysing na die kern van Jantjies se uitspraak sal voldoende wees.

Dit is nie vir my duidelik waarom Scholtz Huisgenoot se aanbod om ‘n opvolg-storie van die hand gewys het nie – dit sou tog die tydskrif die gulde geleentheid gegee het om die hofuitspraak te weerspieël het.

Hoe dit ook al sy, dit is bloot billik en regverdig om aan Scholtz se versoek te voldoen.

Dit is ook onduidelik waarom Huisgenoot nie uit sy eie berig het oor die hofuitspraak nie. Ná die skadelike aantygings van Marais teen Scholtz was die tydskrif immers onder ‘n etiese verpligting om dit te doen.

Bevinding

Let daarop dat ek nie bevind dat die storie van 5 Maart die Perskode verbreek het nie. Daarom gaan ek ook nie Huisgenoot vra om verskoning daarvoor aan te teken nie.

Huisgenoot se raaiselagtige versuim om ‘n opvolg-berig te plaas oor die feit dat die hof Scholtz van alle blaam onthef het, is egter ‘n verbreking van Art. 2.6 van die Perskode wat lui: “A publication shall make amends for publishing information or comment that is found to be inaccurate by printing, promptly and with appropriate prominence, a retraction, correction or explanation.”

Erns van oortreding(s)

Onder die opskrif Hierarchy of sanctions onderskei Artikel 8 van ons Klagteprosedure tussen minder ernstige oortredings (Vlak 1), ernstige oortredings (Vlak 2) en ernstige wangedrag (Vlak 3).                                                                                     

Die oortreding, soos hierbo beskryf, is ‘n Vlak 2-oortreding, gegee die onnodige skade wat die versuim om oor die hofuitspraak te berig Scholtz berokken het.

Optrede

Omdat Marais se aantygings teen Scholtz ernstig van aard was, word Huisgenoot gevra om die wesenlike inhoud van die hofuitspraak te rapporteer, en te berig dat die versuim om dit te doen hom onnodige skade berokken het. 

Die teks moet na die klag by die Ombudsman verwys, en eindig met die volgende sin: “Besoek www.presscouncil.org.za vir die volledige bevinding.”

Indien die artikel op Huisgenoot se webtuiste verskyn het, moet die teks ook daar gepubliseer word.

Die opskrif(te) moet die inhoud van die berig weerspieël.

Die tydskrif word versoek om die berig voor publikasie aan die Persombudsman beskikbaar te stel vir goedkeuring.

Aansoek om verlof tot appèl

Ons klagte-prosedure bepaal dat enige party binne sewe werksdae ná die ontvangs van hierdie beslissing aansoek om appèl by die Voorsitter van die Appèlkomitee, regter Bernard Ngoepe, kan aanteken. Gronde vir die appèl moet duidelik uiteengesit word. Hy kan by khanyim@ombudsman.org.za bereik word.

Johan Retief

Persombudsman