Skip to main content

Hardy Mills vs. Die Hoorn


Thu, Jul 10, 2014

Bevinding deur die Persombudsman

10 Julie 2014

Hierdie bevinding is gebaseer op die skriftelike voorleggings van mnr. Hardy Mills en dié van Schalk le Roux, uitgewer van Die Hoorn koerant.

Klag

Mills kla oor ? voorblad-storie in Die Hoorn, gepubliseer op 12 Junie 2014 onder die opskrif Uitspraak ter syde in lastersaak.

Hy kla dat die:

  • stelling dat die hofdatum hom ontgaan het, vals was; en
  • joernalis hom nie om kommentaar genader het nie.

Die teks

Die storie, geskryf deur Garnett Wicomb, gaan oor ? hofsaak waarby Mills (as prokureur) en sy kliënt (uitvoerende burgemeester Gordon April) nie opgedaag het nie.

Ontleding

Hofdatum ‘ontgaan’ Mills

(Hoewel Mills dit nie in sy aanvanklike klag genoem het nie, het Le Roux tog op hierdie saak gereageer – en eersgenoemde het sy beswaar in latere korrespondensie duideliker gestel. Ek hanteer daarom hierdie deel van die klag.)

Die sin in dispuut lui: “April se regsverteenwoordiger, Hardy Mills, het die hof Vrydag meegedeel dat die hofdatum hom ontgaan het.”

Mills kla dat die datum hom nie “ontgaan” het nie, maar dat daar bloot ? misverstand oor die datum was. Hy sê die stelling was daarom onakkuraat, en het hom onnodig in ? slegte lig gestel. Hy voeg (later) by dat hy aan die uitgewer verduidelik het dat dit ? misverstand was. “Tog het hy besluit om Wicomb se berig onveranderd te plaas.”

Le Roux sê dat Wicomb die hooflanddros, mnr. Jaco Lambrechts, oor hierdie saak genader het. Die inligting wat die verslaggewer gekry het, is dat “hulle deurmekaar geraak het met die datums”. Die uitgewer voeg by dat hy self vir Mills hieroor uitgevra het, maar dat laasgenoemde toe “ontwykend” was. “Ek verstaan werklik nie hoekom…Mills…nie die rede vir my wou gee toe ek hom gebel en gevra het waarom hy en April nie by die hofsaak opgedaag het nie. [Dit] is…nie ? doodsonde nie, maar ek dink dit is wel volledigheidshalwe nodig om ? rede [daarvoor] te gee…”

My oorwegings

Mills en Le Roux se getuienis verskil oor wat tussen hulle twee gesê is – eersgenoemde verklaar dat hy die uitgewer ingelig het dat dit ? misverstand was, en laasgenoemde beweer dat Mills ontwykend was oor die rede waarom hy afwesig was. Ek het inderdaad geen grond om te besluit wie van die twee reg is in hierdie geval nie.

Le Roux het my meegedeel dat Wicomb eers ná die berig verskyn het, die rede vir Mills se afwesigheid by Lambrecht verneem het.

Dit beteken dat:

  • Wicomb verkeerdelik berig het dat die hofdatum vir Mills ontgaan het; en
  • die koerant nie genoeg moeite gedoen het om bogenoemde betyds uit te vind nie.

Die stelling in dispuut was duidelik nie akkuraat, en ook nie billik nie. Dit plaas sekerlik (onnodig) ? vraagteken agter laasgenoemde se professionaliteit.

Ek meen dat ‘n regstelling dié saak genoegsaam sal beredder en vertrou dat albei partye dit dan as agter die rug sal beskou.

Nie om kommentaar genader

Mills kla dat Wicomb hom nie om kommentaar genader het nie. Hy voer aan dat, omdat die stelling oor “ontgaan” hom in ? slegte lig gestel het, daar des te meer ? verpligting op Wicomb was om sy weergawe te verneem.

Le Roux antwoord dat joernaliste gewoonlik nie ná ? hofverskyning daardie persoon of sy regsverteenwoordiger om kommentaar nader nie – veral as die saak nog nie afgehandel is nie. Hy voeg by dat hy wel vir Mills oor hierdie saak uitgevra het, maar dat laasgenoemde toe “ontwykend” was.

In sy reaksie op bogenoemde, wys Mills daarop dat die koerant die volgende dag wel met die “ander” prokureur (mnr. Badenhorst) gepraat het. “Sy rede waarom ek nie deur Wicomb genader is nie dra dus geen gewig nie, inteendeel dit weerspreek sy rede. As Wicomb vir Badenhorst genader het, kon hy my dieselfde vergunning gegee het.”

Hy erken egter wel dat Le Roux hom oor die rede vir sy afwesigheid uitgevra het.

My oorwegings

Le Roux is oor die algemeen korrek wat hofverslaggewing betref – maar in hierdie geval het die beriggewing nie oor die meriete van die hofsaak self gegaan nie. Ek meen daarom dat die koerant vir Mills om kommentaar moes genader het.

Dit het die uitgewer egter wel gedoen.

BEVINDING

Hofdatum ‘ontgaan’ Mills

Die ter sake deel van die storie verbreek Art. 2.1 van die Perskode wat lui: “Die pers is verplig om nuus eerlik, akkuraat en billik te rapporteer.”

Nie om kommentaar genader

Hierdie deel van die klag word van die hand gewys.

OPTREDE

Die Hoorn word betig omdat hy onakkuraat en onbillik berig het oor die rede vir Mills se afwesigheid en nie genoeg moeite gedoen het om dit betyds uit te vind nie, en word gevra om Mills se verduideliking vir sy afwesigheid op die voorblad te plaas.

Die teks moet voor publikasie aan my voorgelê word vir goedkeuring.

AANSOEK OM VERLOF TOT APPèL

Ons klagte-prosedure bepaal dat enige party binne sewe werksdae ná die ontvangs van hierdie beslissing aansoek om appèl kan aanteken by die Voorsitter van die Appèlkomitee, regter Bernard Ngoepe. Gronde vir die aansoek moet duidelik uiteengesit word. Hy kan by khanyim@ombudsman.org.za bereik word.

Johan Retief

Persombudsman