Skip to main content

Ds. Franco du Toit vs. Son


Fri, Jun 10, 2016

Bevinding deur die Persombud

10 Junie 2016

Hierdie bevinding is gebaseer op die skriftelike voorleggings van ds. Franco du Toit en dié van Neil Scott, nuusredakteur van Son.

Du Toit kla oor ? storie op bladsy 6 in die Son van 24 Mei 2016, onder die opskrif Skeuring dreig in VGK ná rape-storie oor predikant.

Klag

Du Toit kla dat sowel die berig as die opskrif foutief en op hoorsê gegrond was, en dat dit sy karakter geskend en sy roeping onnodige skade berokken het.

Hy kla die storie het verkeerdelik berig dat:

·         ? klag van verkragting teen hom aanhangig gemaak is – die klag was een van seksuele teistering;

·         sy naam “Francois” is;

·         dit “ironies” is dat hy onskuldig bevind is;

·         die ring hom geskors het (hy is in sy amp “gestuit”);

·         hy nie met die media wou praat nie – dit was vroeër, toe die hofsaak teen hom nog sub judice was;

·         hy, op ? Sondag toe twee dienste gehou is, in die kerk te Ashton gepreek het (hy was nie eens op die dorp nie);

·         daar ? “groter groep mense” op die stoep van die kerk diens gehou het – daar was “baie meer mense” binne die kerk; en

·         die klaagster se ma “ontsteld” was omdat die saak teen hom teruggetrek is – sy het self die saak teruggetrek.

Du Toit voeg by dat die berig na hom as ? “rape-predikant” verwys het – dit was kwaadwillig en het sy karakter geskend. Hy sê hy is nie skuldig bevind deur die hof of deur die ring van Zuurbraak nie. “Die berig lê my die vonnis op dat ek wel skuldig is aan so ? misdryf.”

Die predikant kla ook dat Son nie vir hom, of die kerkraad, of die ring om kommentaar gevra het nie.

Die storie

Die storie, geskryf deur Basil Davids, sê dat ? skeuring “glo” in die VGK-gemeente op Ashton dreig. “Sondagoggend het ? groot groep van die gemeente op die kerk se stoep hul eie diens gehou, terwyl … Du Toit sy erediens in die kerk gehou het,” het hy berig.

Davids skryf daar word “geskinder” dat die rede vir die skeuring is dat Du Toit uit die kerk geskors is oor bewerings van verkragting (verwysende na wat na bewering op ? jeugkamp in die Paarl gebeur het).

“Ironies genoeg is Du Toit onlangs onskuldig bevind en het hy weer sy amp opgeneem en begin preek,” het hy berig. Die predikant wou volgens die berig nie met die media praat nie. Die ma wat die saak teen Du Toit gemaak het, was glo “bitter ontsteld” dat die klag teen die leraar teruggetrek is.

Die argumente

Scott sê die opskrif verwys na gerugte, en dui nie Du Toit aan as ? verkragter nie. Hy voer aan dat Son al voorheen oor dié gerugte berig het, en dat Du Toit nie toe by die koerant gekla nie.

Hy ontken dat die berig na Du Toit as ? “rape-predikant” verwys, of dat die koerant hom aan enige misdaad skuldig sou bevind het. Hy sê die berig gaan oor die skeuring in die kerk as gevolg van verkrating-gerugte. “Dis ? feit dat ? hof die saak teruggetrek het en in die storie word genoem [Du Toit] is onskuldig bevind, maar daar is duidelik ongelukkigheid onder sommige lidmate oor die feit dat [hy] steeds as predikant in Ashton dien. As dit nie so was nie sou daar nie twee dienste op Sondag 22 Mei plaasgevind het [nie], een binne en een buite die kerk.”

Die nuusredakteur argumenteer: “Die storie handel oor die skeuring in die kerk en die hoofrede [daarvoor], volgens die ongelukkige lidmate van Ashton, is die beweringe oor wat by ? jeugkamp in die Paarl gebeur het: dat hy ? jong meisie sou verkrag het. Ds. Du Toit het juis vir dié saak in die Paarlse hof verskyn.”

Volgens Scott was Davids nie in die kerk toe die twee dienste gehou is nie, maar hy het sy inligting by ongelukkige gemeentelede gekry. Die joernalis sê hy het op ? vorige geleentheid vir Du Toit om kommentaar gevra, waarop die predikant geantwoord het dat hy niks met die media te doen wou hê nie en dat Son hom nie moes pla nie – en hy het die foon toe “neergedruk”.

Davids voeg by dat die koerant op ? vorige geleentheid na die dominee as “Francois” du Toit verwys het – en dat hy toe nie die koerant in kennis gestel het dat sy naam verkeerd gerapporteer is nie.

Scott verdedig ook die:

·         gebruik van die woord “ironie” in die storie – hy vra waarom sommige gemeentelede dan teen Du Toit gekant bly terwyl hy onskuldig bevind is; en

·         stelling dat die meisie se ma ontsteld was dat die saak teruggetrek is – die ma het onlangs aan Davids gesê dat Du Toit nie sy werk reg doen nie, en “daar het daai man … dan nou losgekom”.

Hy sê ook hy weet nie wat Du Toit met “stuiting” bedoel nie.

In latere korrespondensie skryf Scott dat Son bereid is om ? opvolg-artikel te plaas waarin Du Toit sy kant van die saak kan stel – soos dat hy nooit van verkragting aangekla is nie, dat die hofsaak teen hom teruggetrek is, en dat hy nie in die kerk was toe die twee dienste gehou is nie.

Du Toit verwerp hierdie aanbod omdat hy nie “sensasie” soek nie, en vra dat ek met ? bevinding voortgaan.

Analise

My oorwegings is soos volg:

·         Du Toit is nooit van verkragting aangekla nie, maar van seksuele teistering – ? klag wat teruggetrek is (om watter rede ook al), en waarop hy nooit gepleit het nie. Die blote gebruik van die woord “verkragting” is onverskoonbaar omdat dit  alle grense van waarheid en billikheid oorskrei het. Dit kon net een moontlike gevolg gehad het, naamlik ? onnodige aantasting van Du Toit se waardigheid en integriteit – iets wat ? persoon in die predikant se skoene kwalik kan bekostig;

·         Die gebruik van die woord “ironies” was ongelukkig, om die minste daarvan te sê – dit dui op ? waarde-oordeel aan die kant van die koerant, waarop die joernalis nie geregtig was nie;

·         Gegrond op getuienis van die VGK-gemeente op Montagu aanvaar ek die storie het verkeerdelik berig dat Du Toit die diens waargeneem het toe sommige ongelukkige lidmate op die stoep hul eie diens gehou het;

·         Dis ook onverskoonbaar dat Davids hom verlaat het op inligting wat sommige ontevrede lidmate aan hom gekommunikeer het, sonder om kommentaar te kry by Du Toit, en / of sy kerkraad, en / of die ring;

·         Die feit dat Du Toit vantevore kommentaar geweier het, kan nie beteken dat die koerant nie weer onder die verpligting was om te probeer om sy kant van die saak te hoor nie; en

·         Die storie het Du Toit se voornaam verkeerd berig.

Du Toit kloof egter hare wanneer hy kla oor die gebruik van die woord “skors”. Wanneer ? predikant in sy amp gestuit is, word hy geskors tot tyd en wyl uitspraak oor sy saak gegee word. Du Toit was effektief geskors, hangende die verhoor teen hom.

Ek kan my nie uitspreek oor Du Toit se argument dat daar “baie meer mense” binne die kerk was as op die stoep nie, en dat die ma nie ontsteld was nie omdat sy self die saak geruggetrek het.

Bevinding

Son het die volgende artikels van die Kode oortree (ek haal dit op Engels aan omdat daar nie ? Afrikaanse vertaling bestaan nie):

·         1.1: “The media shall take care to report news truthfully, accurately and fairly”;

·         1.2: “News shall be presented in context and in a balanced manner, without any intentional or negligent departure from the facts whether by distortions, exaggeration or misrepresentation, material omissions, or summarization”;

·         1.8: “The media shall seek the views of the subject of critical reportage in advance of publication…”; en

·         3.3: “The media shall exercise care and consideration in matters involving dignity and reputation…

Erns van oortredings

Onder die opskrif Hierarchy of sanctions (Seksie 8 van die Klagteprosedure) word onderskei tussen geringe oortredings (Vlak 1), ernstige oortredings (Vlak 2) en ernstige wangedrag (Vlak 3).                                                                                        

Die verbrekings van die Kode, soos hierbo aangetoon, is Vlak 2-oortredings.  

Sanksie

Son word gevra om Du Toit onvoorwaardelik om verskoning te vra omdat die:

·         berig verkeerdelik en onbillik na verkragting verwys het, terwyl die klag teen hom een van seksuele teistering was;

·         storie dit as feit gestel het dat Du Toit se skuldigbevinding “ironies” is;

·         joernalis foutiewelik berig het dat Du Toit die erediens in die kerk op Ashton waargeneem het, terwyl hy nie eens op die dorp was nie; en

·         verslaggewer nie die nodige kommentaar van die predikant, en / of die kerkraad, en / of die ring gekry het nie.

Die koerant moet ook berig dat Du Toit se voornaam verkeerd weergegee is.

Die teks, wat deur my goedgekeur moet word en bo-aan bladsy 6 gepubliseer moet word, moet:

  • begin met die verskoning, soos hierbo beskryf;

·         die voldende sinne bevat: “Die blote gebruik van die woord ‘verkragting’ is onverskoonbaar omdat dit  alle grense van waarheid en billikheid oorskrei het. Dit kon net een moontlike gevolg gehad het, naamlik ? onnodige aantasting van Du Toit se waardigheid en integriteit – iets wat ? persoon in die predikant se skoene kwalik kan bekostig”;  en

Die opskrif moet die inhoud van die teks reflekteer.

Indien die storie op Son se webblad verskyn het, moet die verskoning ook daar gepubliseer word.

Appèl

Enige party kan binne sewe werksdae aansoek doen om verlof tot appèl. In daardie geval, skryf aan die Voorsitter van die SA Pers-appèlkomitee, Regter Bernard Ngoepe, en sit die redes vir die aansoek volledig uiteen. Hy kan gekontak word by Khanyim@ombudsman.org.za.

Johan Retief

Persombud